Huisgenoot

Liewe Elize

-

Ek moes ná ’n lang verhouding uitstap, want ek moes by my geliefde hoor hy sien nie kans daarvoor om die hele tyd so vir ons verhouding te moet baklei nie. Daar was nie konflik nie; ek wou net sekerheid kry oor waarheen ons op pad is, want hy kon nooit vir my sê of ons ’n toekoms saam het of nie. Ek raak ouer en wil kinders hê. Ek het reeds kleingoed by iemand anders. Onlangs het ek hom weer gesien, maar hy sê steeds hy kan nie vir my gee wat ek wil hê nie. Ek is lief vir hom en weet nie regtig wat hy bedoel nie.

G op T

Verbinteni­svrees is ’n faktor in talle verhouding­s en kan maklik misgekyk word. So ’n vrees kan die oorsaak wees as hy angstig raak wanneer jy die gesprek in die rigting van die toekoms stuur of as hy nooit met jou toekomspla­nne deel waarby jy ingesluit is nie.

Jy hoef nie sleg te voel omdat jy wel sekerheid daaroor wou kry nie. In elke langtermyn­verhouding kom daar ’n keerpunt wanneer ’n mens ’n besluit oor die toekoms wil neem. Soms kom twee bemindes op verskillen­de tye by hierdie punt uit, maar hulle bereik wel mettertyd so ’n wegspringp­lek vir ’n permanente verhouding.

Hy sê duidelik vir jou om geen verwagting­s van hom te koester nie. Dit kan dalk ook uit die vrees spruit dat hy nie aan jou behoeftes sal kan voldoen nie. Hy wil dalk ook nie die verantwoor­delikhede van ’n stiefpa of ’n pa hê nie. Hoe ook al, dit het hom nie tot ander insigte gebring nie, selfs nadat jy uitgestap het.

Selfs al sou julle twee versoen raak, sal hy jou bes moontlik nie die sekuriteit en sekerheid kan gee wat jy graag wil hê nie en sal jy steeds onseker bly.

Ek stel voor jy stel vir eers alles wat gebeur het agter jou en konsentree­r daarop om jou kleingoed emosioneel te versorg. Hulle het jou gerusstell­ing nodig dat ander mense in hul lewe dalk kan kom en gaan, maar dat jy altyd daar sal wees om hulle lief te hê en te ondersteun.

‘Om te verstaan, te vergewe en te versoen, moet ’n mens deur die pyn werk’ – ELIZE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa