Manie stort hart uit oor geldsake
Manie Jackson maak oop oor sy finansiële probleme wat nou deur die pandemie vererger is
DIT was net ná ’n onlangse aanlyn konsert dat ’n nuuskierige aanhanger wou weet: Waarom dra hy dan nie meer sy goue trouring met die fyn diamantjies nie? “Hoe sê ’n mens so iets vir iemand?” vra die sanger Manie Jackson bewoë. “Hoe kry jy die woorde oor jou lippe? Dit breek jou hart om te dink jy moet jou trouring teruggee, want jy kan hom nie betaal nie. Ons is maar ses maande getroud, en ek het gedink daardie ring sal vir ewig aan my vinger bly,” sê die bekende sanger oor die trouring wat sy vrou, Christel (39), in Januarie vanjaar vir hom aangesteek het.
Manie (40) het die aanhanger ’n antwoord skuldig gebly, want hy probeer reeds jare lank vir die buitewêreld die finansiële verknorsing wegsteek waarin hy beland het. Op die verhoog het ’n mens hom steeds in swierige pakke gesien, en sy aansteeklike glimlag het sy kommer oor sy geldknyp verberg.
“Daar is ’n verwronge idee oor sangers dat ons in weelde leef en in peperduur huise woon,” sê Manie openhartig. Dan, afgehaal, voeg hy by: “Niks is seker verder van die waarheid nie.”
Selfs nog voor die coronavirus sy dagboek kom skoonvee het van optredes, was hy al in skuldberading. En steeds kom klop skuldeisers aan sy deur.
Nou wil hy nie sy geldstryd langer wegsteek nie. Want in sy lewe is daar geen herehuis of duur sportmotor nie. Die balju het al in 2018 sy luukse Toyota GT 86-sportmotor kom haal. Ook uiteet het vir hom ’n luukse geword.
“Ek het nog nooit ’n sakebrein gehad nie,” erken Manie. “Ek het soms my konsertgeld nog net so in die koevert aan die kerk teruggegee waar ek gesing het. Ek kon boonop nog nooit belaglike pryse vra nie – ek sing vir ’n ouer mark wat nie duisende gaan betaal om my te sien sing nie. As sanger kry ek gemiddeld R4 tot R5 per album wat in die winkels verkoop.”
Half huiwerig gee hy toe: “Dis my skuld. Ek moes mos simpel wees. Toe date ek jong girls met duur smaak. Dis waar soveel van my moeilikheid begin het.”
Maar Christel was anders. Pleks van hom dieper in die skuld te laat beland, het sy ingespring om hom daaruit te probeer red. Kort nadat hulle mekaar in 2018 ontmoet het, het sy die leisels van sy geldsake oorgeneem. Dit was dieselfde jaar dat hy met meer as R140 000 agterstallig was op sy huisverband.
“Sy is die een wat die bank moes bel en mooi broodjies bak sodat ons die huis kan hou,” erken Manie.
Nou, te midde van die verwoesting wat die covid-19-pandemie saai, lyk sy geldsake nog meer beroerd. Van sy planne om vanjaar in Australië en Amerika te gaan optree het niks gekom nie, en van sy volbespreekte dagboek is nou net leë blaaie oor.
“Ons bid en ons bly op ons knieë. Maar vir die eerste keer ooit wil ek reguit erken: Dinge is ongelooflik moeilik.”
IN DIE donker dae is daar darem een ligpunt: Met Christel se gesondheid gaan dit beter nadat sy die afgelope twee maande vier gewasse aan haar blaas laat verwyder het en ’n gewas aan haar baarmoeder. Sy het ook ’n histerektomie ondergaan.
“In ’n stadium was ek baie bekommerd oor Christel,” sê Manie uit sy grasdakhuis in Sasolburg in die Vrystaat. Sy was in en uit die hospitaal, en weens die lupus is dit vir haar ongelooflik gevaarlik om die coronavirus op te doen.”
Die siekte lupus is in 2010 by haar gediagnoseer, twee jaar nadat sy ’n kankerstryd gewen het. Boonop het ’n operasie aan haar kakebeen ná ’n fratsongeluk in 2017 haar met gedeeltelike verlamming aan die regterkant van haar gesig gelaat.
“Christel se medies is lankal uitgeput. Ons moes raap en skraap om vir medikasie en behandeling te betaal,” erken Manie. “Ek voel soms skuldig dat sy by hierdie dinge ingestap het. Sy verdien nie om so te sukkel nie. Christel het onlangs haar eie motor teen ’n verlies verkoop sodat ons basiese uitgawes soos kruideniersware en elektrisiteit kon dek. Dit laat ’n mens soos ’n mislukking voel.”
Maar dinge was nie altyd so nie. Hy het
“goed geld gemaak” ná die verskyning van sy eerste album, Die hemel weet, in 2010. Meer as 80 000 eenhede daarvan is verkoop. Nog nege albums het gevolg waarvan nog drie platinumstatus behaal het en drie goue status.
“Daar was altyd ’n enorme verskil tussen my en groter kunstenaars omdat my mark ouer is. Ek kon nooit R250 vir een kaartjie vra nie. Waar sommige kunstenaars tot R60 000 vir een vertoning vra, verdien ek soms minder as R10 000.”
Die skuld het eers stadig en toe vinniger begin ophoop. In 2016 het hy paaiemente aan sy mediese fonds gestaak. In dieselfde jaar het hy ook polisse laat uitkeer óf opgehou om bydraes te maak.
Toe hy en Christel mekaar in 2018 ontmoet het, was sy finansiële situasie reeds benard. “Sy het my liefgekry sonder die weelde en met alles wat ek met my saamgedra het,” vertel Manie.
Terwyl hy daardie jaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn was, het die balju sy sportmotor by sy huis in Sasolburg kom haal. “Toe ek by die huis kom, het dit my soos ’n vuishou getref: Dinge gaan van hier af waarskynlik moeiliker raak.”
Hy het toe besluit om vir skuldberading te gaan. Teen daardie tyd het die bank reeds ’n dagvaarding uitgereik oor die agterstallige paaiemente op sy huisverband. Christel, met wie hy toe nog net ’n paar weke in ’n verhouding was, het ’n terugbetalingsplan aan die bank voorgelê om te keer dat op die huis beslag gelê word.
“Die bank het dit aanvaar. Maar Christel moes ernstig met my praat. Soos dat ek nie meer soveel liefdadigheidskonserte kan doen nie, dat ek nie sommer ’n koevert met geld kan teruggee as ek self paaiemente moet betaal nie. Ek was geneig om vir wildvreemdelinge – wat my in die sosiale media gekontak en gesê het hulle het nie kos nie of dat hul kinders nie skoolklere het nie – geld te betaal.
“Ek het graag behoeftiges gehelp. Maar Christel het my so ’n bietjie ingetrek, want ek het uitgedeel sonder om te dink, en dan het ek self aan die einde van die maand tekortgekom. Dit was moeilik, want ek het nog altyd gesing uit passie en nie vir die geld nie, maar ek moes dit doen. Vir ons.”
Danksy die skuldberading kon hy sy Ford Ranger-bakkie behou, waarmee hy toer. Maar luukses is nou vergete. “Kyk,” en hy wys ’n foto van ’n 1980model Mercedes-Benz 200. “Hierdie is my enigste voertuig buiten die toerbakkie.”
Terwyl die egpaar intussen stuk-stuk aan die skuldlas kon afbetaal, kom nog skuldeisers bakhand staan.
“Ek en Christel het ons hele spaarvarkie uitgetiep om te kan trou. Destyds was my dagboek vol bespreek en ons sou gou-gou weer ’n paar rand bymekaar kon skraap. Maar toe kom die pandemie – en skielik word alle vorme van inkomste vir my uitgewis.”
Tydens die inperking het aalmoese van vriende hulle staande gehou. “Daar’s engele wat hier en daar ’n geldjie gee, en dit dra ons,’’ sê die sanger.
“Ons kon sorg dat agterstallige skuld op die huis betaal word sodat ons nie die dak oor ons kop verloor nie.
“Maar dis nie net ons twee wat hierdeur geraak is nie. Ek het tot nog onlangs toe my ma gehelp om haar woonstel te betaal, maar sy moes haar blyplek prysgee omdat ek sonder ’n inkomste nie meer kan help bydra nie. Dit het beteken dat sy tydelik by my ouboet, ’n onderwyser op Bela-Bela, moes gaan woon.”
Maar Manie bekommer hom oor die skoolgeld wat hy vir sy dogter uit sy eerste huwelik moet betaal. “’n Mens weet nie hoeveel planne jy nog kan maak nie.”
Die twee aanlyn konserte wat hy tot dusver gehou het, het saam net R20 000 opgelewer.
“Ek dink nie ek sal ooit die hartseer in Christel se oë vergeet toe ons my trouring moes teruggee nie. Maar ons moes – dit was belangriker om die huis te hou. Ek is net dankbaar hare was klaar betaal, want dit sou my hart gebreek het.
“Dit is vir my pynlik om hierdie dinge te moet erken – soos dit vir enigiemand sal wees,” sê Manie voor ons groet. “Maar ek is moeg vir die verduidelikings. Moeg om te verduidelik dat ons wittebrood geborg was; dat my vorige oorsese reis geborg was. Dat ek eintlik nie geld het vir daardie dinge nie.
“Waarop dit basies neerkom, is: Net toe ek uit die modder opstaan, het covid-19 gekom en my weer platgeslaan.”
Maar hy glo vas hulle sal weer hier uitkom, sê hy, skielik optimisties.
“Intussen wil ek hê mense moet een ding weet: Wees sag met ander. Want as jy iemand sien glimlag, beteken dit nie hulle is oukei nie.” ■
‘Dit breek jou hart om te dink jy moet jou trouring teruggee’