Huisgenoot

KÊREL BLY BY HAAR LEEN

-

My kêrel leen geld by my, want hy werk nou net halftyd en verdien nie dieselfde as voorheen nie. Hy het genoeg tyd om ’n tweede werk te doen, maar kom nie daarmee aan die gang nie. Hy sal eerder by my geld leen. Ons sou al getrou het, maar hy bly sê hy wil eers geld vir ’n ring kry. Op dié manier gaan dit nie gebeur nie. Ek weet nie meer wat om te doen nie, want ek werk lang ure vir my geld en kan dit nie mors nie. Hy betaal dit nooit terug nie. Moet ek hom los?

H op L

Geld verander verhouding­s en kan ’n spelbreker wees. Dis reeds tussen vriende moeilik genoeg om geld terug te vra wat uitgeleen is, maar in ’n romantiese verhouding is dit nog moeiliker. Die beste reël as een verhouding­smaat geld goed kan bestuur en die ander nie kan begroot of wil werk nie, is om nie geld of bankrekeni­ngs te deel nie.

Geld wat in ’n verhouding uitgeleen word, kan druk daarop plaas. Jy voel dalk ongemaklik omdat die geld nie terugbetaa­l word nie en begin daarop aandring. As jy nie selfgelden­d genoeg is om dit terug te vra nie, kan jy ’n wrok daaroor begin koester, veral as jou maat die geld vir onnodige uitgawes gebruik.

As jy verplig voel om wel vir jou kêrel geld te leen, is die gulde reël om jou eie finansiële sekuriteit eerste te stel. Leen net soveel uit as wat jy kan bekostig om te verloor.

Maak ook seker dat jy die voorwaarde­s vir die lening duidelik stel. Stel die bedrag op skrif asook die datum vir die terugbetal­ing, en vra ook getuies om dit te onderteken.

Moet ook nie vir hom nog geld leen as ’n vorige lening nog nie terugbetaa­l is nie.

As alle verhouding­smaats mekaar moes los omdat hulle probleme rondom geld ervaar, sou ons ’n wêreld van enkellopen­des hê.

Dit maak nie iemand sleg, boos of lui omdat hulle nie geld kan bestuur nie. Jy kan wel die situasie monitor deur streng perke te stel en daarby te hou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa