Huisgenoot

Sy kyk na haar voete, en sy sien nie die groepie tot dit te laat is nie

-

LISA verwens haar eie hardkoppig­heid. Sy is styf en seer ná die ongeluk, en die stap neem veel langer as wat sy verwag het. Haar kop pyn. Sy voel duiselig en gaan sit. Sy kyk rond en besef met verligting dat dit ’n plaashuis se ligte is wat sy in die verte sien. As sy hier deur die veld stap, kan sy ’n kortpad vat verby die skuur. Sy staan weer stadig op en begin beweeg.

Om te keer dat sy in die klipperige veld val, kyk sy na haar voete, en sy sien nie die groepie mense tot dit te laat is nie. Hul klere is swart en hulle beweeg geruisloos met geoefende bewegings.

Haar waaksaamhe­id verslap toe ’n donkerkopv­rou nader stap. Die sekuriteit­span, onthou Lisa en stap nader. “Help, asseblief, ek moet by my broer . . .”

Sy hou op praat toe sy die vee gewaar wat agter op die bakkie gelaai word. Sy probeer agteruittr­ee, maar is net te moeg.

Die vrou lig haar hand en rig die geweer daarin op Lisa. “Sjoe, lyk of jy ’n rowwe aand het. Jammer, hartjie, dit gaan ongelukkig nie juis beter raak nie,” sê Eloise. Sy klap op die kant van die bakkie. “Dries, bind haar vas en laai haar agter op my 4x4. Ry jy solank met die vrag, voor daai sekuriteit­sman weer sy rondes doen. Ek gaan eers by die dam van ons ongenooide kuiergas ontslae raak.”

Lisa word die tweede keer in een aand hardhandig vasgebind.

Eloise druk die geweer in Lisa se rug. “Stap, hartjie. Een van ons gaan ’n bietjie swem.”

Dan vries Eloise toe die 4x4 se verblinden­de ligte op die twee vroue val. Lisa neem haar kans waar en val op die grond neer. Sy skop so hard as wat sy kan die ander vrou se bene onder haar uit. ’n Geweerskoo­t klap terwyl Eloise val. Lisa rol weg en probeer op haar knieë kom, maar haar vasgebinde hande en seer lyf maak dit moeilik.

Skaars op, word sy hard onderstebo geduik deur een van die mans wat volspoed vanuit die 4x4 se rigting aangehardl­oop kom. Die man met die baard. Die ander veedief. Lisa kreun moedeloos. Dan hoor sy Jacques se stem. “Jan, Jan, wat maak jy? Los my suster uit en help my!” Die bebaarde man kyk haar verward aan. ’n Ent weg spartel Jacques en Eloise, haar hand nog stewig op die geweer. Jan spring op. Nog ’n skoot klap. Jan steier terug . . . maar dan beweeg hy weer vorentoe.

Nie lank daarna nie het die mans Eloise bedwing en die geweer afgeneem. Die polisie is op pad.

Lisa verbind Jan se arm waar die koeël hom skrams getref het met items uit die voertuig se noodhulpsa­k. Jan skud sy kop en vryf dan oor sy baard. “Maggies, Lisa, jou broer gaan my nou mos goed opdons.”

“Dis nou as ek jou nie eerste bokveld toe stuur nie,” troef sy hom. Lisa glimlag. Die man met die baard is nogal aantreklik as hy nie ’n mes vashou nie. ■

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa