Boek: Hoe raak sportsterre angs baas?
In ’n nuwe boek word die Proteas se verpletterende nederlaag in die Wêreldbekerkriekettoernooi in 1999 en ander groot sportgeleenthede herbekyk om vas te stel hoe die voorste sportsterre prestasieangs baasraak. Watter lesse kan gewone mense daaruit leer?
Wat in my brein het my gekeer om dit doen en my siek en angstig laat voel?”
’n Boulbeurt in krieket bestaan uit ses aflewerings – dis te sê ses balle wat nie as ’n foutbal of wydloper beskou word nie. Daar is gewoonlik net ’n handvol foutballe in ’n kolfbeurt.
Maar Boswell se tweede boulbeurt in die eindstryd teen Somerset het vir 14 balle aangehou terwyl hy herhaaldelik die bal te wyd aan weerskante van die kolfstreep laat trek het. ’n YouTube-video van die boulbeurt, The Worst Over Ever?, is al meer as 1,6 miljoen keer gekyk.
Toe sy tweede boulbeurt ál belagliker word – ses van sy eerste agt balle was wydlopers – het die toeskouers “ál luidrugtiger” geword, onthou Boswell. Om die beproewing te probeer kortknip, het hy haastig geraak en hom ál minder tyd voor elke bal gegun.
“Ek onthou net ek het my boulbeurt probeer afjaag om dit so gou moontlik agter die rug te kry. Ongelukkig wou ek dinge verhaas toe die druk my vang pleks daarvan om dit stadiger te vat, ’n tree terug te staan, diep asem te haal en ’n bietjie te glimlag: ‘Dis net ’n krieketwedstryd; ontspan.’ ”
Voorste sportlui is nes die res van ons: Hulle raak angstig en dit lê hulle aan bande. In die laaste 30 sekondes van taai basketbalwedstryde is vroulike en manlike NBA-spelers onderskeidelik 5,8% en 3,1% minder geneig om punte met ’n vrygooi – ’n onbetwiste skoot vir spelers wat weens vuilspel gestuit is – aan te teken as op enige ander tydstip in die wedstryd.
Die heel beste sportmense kan die angs wat hulle ervaar positief kanaliseer, veral as hulle baie selfvertroue het. Sportmense met min selfvertroue reken angs
belemmer hul prestasie, maar dié met baie is geneig om dit as ’n teken te beskou dat hulle vir die uitdaging gereed is. Dit maak hulle minder geneig om onder druk te verstar – die gevreesde “choke”.
Die beste sportlui kan ook makliker teleurstellings afskud.
Die kampioengholfspeler Annika Sörenstam spot sy het nog nooit ’n swak hou in haar lewe geslaan nie. “Ek onthou dit bloot nie,” sê sy.
Swakker spelers word dalk deur hul foute verteer, maar sy het die gebeure klinies ontleed en dan voortgegaan om haar agterstand te probeer inhaal.
“Jy moet net leer hoe om jou daarvan los te maak – ontleed dit vinnig, en boem. Vergeet daarvan, gaan aan, moenie dit met jou saamdra nie, leer uit jou foute. Ons almal het al swak houe geslaan. Die vraag is – hoe herwin jy jou kalmte?”
DIT was die halfeindstryd van die Wêreldbekerkriekettoernooi in 1999. Een van die uitsonderlikste wedstryde nóg het ’n uiters spannende einde bereik. Suid-Afrika het 214 lopies nodig gehad om Australië te klop en hul eerste eindstryd te haal.
As die twee spanne presies ewe veel lopies sou kry – iets ongehoords in die Wêreldbekergeskiedenis – sou Australië kwalifiseer op grond daarvan dat hulle beter in die groepfase gevaar het.
Die laaste boulbeurt het begin met Suid-Afrika wat nog net een kolfpaar oorhet en nege lopies nodig gehad het om te wen. Teenoor die bouler was Lance Klusener, wat midde-in ’n verstommende spelpeil was. Die eerste twee balle van die laaste boulbeurt het Klusener albei vir ’n vier gemoker.
Suid-Afrika het een lopie van vier balle nodig gehad – met Klusener wat steeds kolf. Aan die ander kant het Allan Donald, Suid-Afrika se no. 11 – ’n skitterende snelbouler, maar die span se swakste kolwer – nie nodig gehad om die bal te trotseer nie. Hy moes net na die ander punt hardloop om die enkele lopie vir Suid-Afrika te kry.
In Suid-Afrika se kleedkamer het ’n speler ’n bottel sjampanje byderhand gehad, reg om dit oop te maak.
“Ek het vir Al gesê wat ons die graagste wil doen, is om die bal vir ’n ses te slaan, blad te skud en af te stap,” onthou Klusener. “Maar as ons ’n enkele lopie iewers kon kry, moet dit ook ’n opsie wees. ‘Een goeie bal en die wedstryd is verby.’ ”
Ná ’n lang wag het die bouler sy derde bal afgestuur. Klusener het die bal reguit na ’n veldwerker geslaan. Daar was nie tyd vir die kolwers om te hardloop nie; tog het Donald teen die blad afgenael. Klusener het hom gou teruggestuur en Donald moes oor die kolfstreep duik. Al wat hom gered het, was die Australiese veldwerker wat sy teiken mis gegooi het.
Donald het die oomblik later in sy outobiografie beskryf. “Op die grond uitgestrek met ’n kloppende hart het ek gedink: ‘Dank Vader; ons het daarmee weggekom. Ons sal nou oukei wees.’ ” Voor die volgende bal het Donald vir Klusener gesê: “Kies jou kol en slaan dit uit die veld uit.”
Klusener het dadelik begin hardloop nadat hy die bal geslaan het.
Met die vorige bal het Donald gehardloop toe hy nie moes nie. Dié keer het hy glad nie gehardloop nie, maar bewegingloos gebly terwyl Klusener op hom afgestorm het. Teen die tyd dat Klusener by hom verbygenael het, kon Donald net sy kolf laat val en verslae rondkyk. Sy bene wou nie beweeg nie.
“Ek het na Lance opgekyk, hom na my kant toe sien storm, en toe begin hardloop,” skryf Donald. “My bene het soos jellie gevoel, asof ek glad nie na die ander kant toe vorder nie. Ek het probeer om my bene behoorlik te laat beweeg. Dit was ’n droomagtige reeks bewegings, byna in stadige aksie.”
Donald is deur angs verlam – ’n klassieke simptoom van verstarring op die sportveld. Toe hy eindelik begin hardloop, was hy met meters uit. Suid-Afrika was uit die wedstryd.
Sedert 1999 het die kere dat Suid-Afrika in die Wêreldbekertoernooi uitgeskakel is die volle spektrum van belaglikheid gedek. In 2003, toe die Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika aangebied is, is die land uitgeskakel nadat hulle die vereiste puntetelling om te wen verkeerd gelees het en ná ’n gelykopspel uitgeskakel is.
In 2011 was hulle op pad na ’n sege in die kwarteindstryd voor hulle deur hul eie toedoen die knie voor Nieu-Seeland gebuig het. Vier jaar later het Suid-Afrika verskeie vangslae en uitlope gemis voor hulle ’n epiese halfeindstryd verloor het, weer teen Nieu-Seeland.
Sedert daardie rampspoedige dag in 1999 het die Suid-Afrikaanse manspan in 19 wêreldtoernooie gespeel – die Wêreldbeker, die Kampioenskapstrofee en die Twintig20-wêreldtoernooi. Al was hulle in daardie tye altyd een van die voorste spanne, het Suid-Afrika nog nie ’n eindstryd gehaal nie. Hulle het agt halfeindstryde gehaal – en elke enkele een verloor.
Die magdom mislukkings laat die vraag ontstaan: Toe Donald uitgehardloop is, het hy die weg gebaan vir ’n hele era van Suid-Afrikaanse Wêreldbekermislukking? Het daardie uitloop nie net Suid-Afrika se goue kans in 1999 gekelder nie, maar ook toekomstige geslagte spelers daarmee opgesaal?
“Stereotipe-bedreiging” is die idee dat wanneer ’n negatiewe beeld met ’n groep vereenselwig word daar ’n groter kans is dat die uitkoms en gedrag herhaal sal word. In ’n klassieke studie hieroor het wetenskaplikes in 1999 mans en vroue gevra om ’n rekenkundetoets af te lê. Aan
party studente is gesê mans en vroue vaar ewe goed in die toets; en vir ander dat mans beter vaar. Toe die wetenskaplikes vir die vroue sê vroue vaar net so goed soos mans, het hulle daarna net so goed soos die mans in die toets gevaar. En toe vroue hoor vroue is geneig om swakker te vaar, het hulle swakker as mans in die toets gevaar.
Stereotipe-bedreiging kan ook na sport deursypel. Dit kan ’n uitwerking hê op “enige situasie waar jy die moontlikheid of kommer het dat mense jou kan beoordeel op grond van jou insluiting by ’n sekere groep – dit kan ras, geslag of die span wees waarin jy speel”, sê Sian Beilock, kognitiewe wetenskaplike en skrywer van Choke: What the Secrets of the Brain Reveal about Getting It Right When You Have To.
In sport en in die lewe kan vorige mislukkings toekomstige mislukking waarskynliker maak. Sedert 1999 het SuidAfrikaanse krieketspelers stereotipebedreiging soos ’n ongewenste stuk oorgroot bagasie van die een groot toernooi na die volgende met hulle saamgesleep.
Suid-Afrika se hoofafrigter tussen 2011 en 2013, Gary Kirsten, het die nalatenskap van vorige mislukkings beskryf as “’n donker mis wat oor Suid-Afrikaanse krieket in uitklopwedstryde hang”.
Dit lyk of mislukking nog mislukkings voortbring, waarvan elke Engelse sokkeraanhanger wat al deur strafdoelstryde teleurgestel is, kan getuig. Elke verstarring, werklik of skyn, skep ’n groter las die volgende keer as die span in dieselfde posisie is en maak dit nog oorweldigender om die struikelblok te oorkom.
Gareth Southgate het 22 jaar lank
IN DIE Ryderbekertoernooi van 2012 – die tweejaarlikse mansgholfkompetisie tussen Europa en Amerika – in Medinah, Illinois, was Europa 10-4 agter teen Amerika. Ian Poulter en sy spanmaat, Rory McIlroy, het ’n agterstand in hul wedstryde gehad nes die ander Europese paar, Sergio García en Luke Donald. Europa was op pad om aan die einde van die tweede dag met 12-4 die onderspit te delf.
“So aaklig as wat dit gevoel het, het jy geweet daar is steeds ’n sprankie van ’n kans – daar was nog twee wedstryde op die baan,” onthou Poulter. “Jy moet in jou agterkop dink jy het ’n geleentheid om daardie twee wedstryde om te keer. ’n Trots skop in wat jou nie toelaat om in daardie wedstryd geklop te word nie.”
Poulter was nie gewoond aan mislukking in die Ryderbekertoernooie nie. In