Huisgenoot

TV-ster bring genot met ma-projekte

Die inperking het die TV- en radioster gemotiveer om vreugde te bring, veral deur projekte vir ma’s en kinders

- Deur

KLOP maar by enige ma aan: Die afgelope jaar het unieke uitdagings gebring. En nes miljoene ander ma’s dwarsoor die land is glansmense nie gespaar van die gespartel om gelyk hul kinders én die werk op koers te hou nie. Vra maar vir Elana Afrika-Bredenkamp: Sy is immer profession­eel op die kassie en agter die mikrofoon, maar ook maar tussendeur pal besig met die dinge van die huis.

Toe die inperking daartoe gelei het dat die radiostasi­e Jacaranda FM vroeër vanjaar tydelik sy ateljee moes sluit en omroepers hul programme van die huis af moes uitsaai, moes die Fynskrif-aktrise haar radiostem soggens vanuit haar huis in Centurion laat opklink.

“Ek moes steeds my program op Jacaranda FM tussen nege- en twaalfuur uitsaai en dan na my kinders kyk,” vertel sy nou oor daardie woeste weke aan die begin van die inperking. “Ek sal so halfpad deur my program wees, dan bring die twee vir my van hul klei en praat met my terwyl ek op die radio is.”

Dié “twee” is Esther Beth (5) en Annabelle (3) – Elana en haar man, die sakeman Ian Bredenkamp (44), se dogtertjie­s.

En dit was nie net die sussies wat om hul ma se aandag gevra het nie – Elana moes ook bontstaan om die gesinshuis netjies te hou toe almal in die land weens die inperking maande lank binnenshui­s gedwing is.

Maar sy het haar prioriteit­e gou agtermekaa­r gekry, vertel sy. “Ek het later besef stof het nie gevoelens nie, maar my kinders het. So ek wou eerder op hulle fokus as om dinge heeltyd reg te pak.”

Dan, met ’n laggie, sê sy: “Vyf sterre vir daardie mammas wat hul kinders tuis onderrig het, maar ek het net 20 minute per dag ’n les met my kinders gedoen. Die res van die tyd het ek gewerk, saam met hulle gespeel of hulle buite laat speel. Dit is hoe ek kopgehou het in hierdie tyd.”

Elana kan met insig en humor sterre aan ander ma’s uitdeel, want benewens haar eie ervaring as raakvatter­ma besit en bestuur sy ’n aanlyn platform wat “moderne ouers en amper-mammas” bymekaarbr­ing en ondersteun. Sy het dié ondernemin­g, Parent + Baby Brunch, ná haar eersteling se geboorte begin en vertel dit het tydens die inperking gedy. “Ons is hier om mense te help, en daar is baie mense wat in hierdie tyd hulp benodig.”

Sy publiseer onder meer podsending­s, blogplasin­gs en video’s met raad op die webtuiste, en haar span help haar om die inhoud vars te hou.

Toe die pandemie en inperking ma’s beproef het, het die span gespring om inhoud met raad vir dié tyd te skep. “Ons het aan onderwerpe gedink wat relevant is vir die omstandigh­ede.”

Boonop het sy en die entreprene­ur Kate Shepherd onlangs ’n nuwe projek, Bag of Joy, vir die feestyd op die been

gebring. Dié Kersgesken­kpakkie is vol verrassing­s vir kinders van enige ouderdom.

“Dit is beslis tyd vir vreugde,” verduideli­k Elana. “Mense oor die wêreld moes gewoond raak aan ’n nuwe normaal, en die inperking in Suid-Afrika het my gemotiveer om vreugde, liefde en die gees van vrygewighe­id in my eie huis en deur ons Bag of Joy te versprei.”

Terwyl sy nou deur ’n videoonder­houd op die skerm gesels, klink klein Esther Beth en Annabelle se vrolike stemme op die agtergrond op. Sy en haar dogters het ’n hegte band, vertel Elana.

En nes hul ma weet die tweetjies klaarblykl­ik reeds vroue hoef geen tree terug te staan om hul plek in die lewe in te neem nie.

Sy lag. “Hulle sê baiekeer vir Ian: ‘You’re not the boss of the whole world; Mommy and Jesus is!’ ”

‘Ek het later besef stof het nie gevoelens nie, maar my kinders het. Ek wou op hulle fokus’

WANNEER dinge dol begin raak, gebruik Elana haar passie vir draf as teenmiddel. Sy draf elke weeksdag sowat 6 km, vertel sy. “Dis eintlik eenvoudig: Elke ma het tyd op hul eie nodig. Ek draf elke middag om vyfuur. Dit is baie weinig dat ek in die oggend kan gaan, want dan het my kinders my nodig.”

Sy was voor haar kinders se koms nie ’n ernstige drawwer nie, maar ná Esther se geboorte het sy die waarde van oefening en tyd op haar eie begin waardeer.

Snuffel jy tussen al haar foto’s in die sosiale media rond, is dit duidelik haar drafroetin­e werp vrugte af. Dis goed vir haar stresvlakk­e – en die plat maag en vietse lyf is ’n lekker bonus.

En met haar besige rooster help dit dat Ian, ’n agent vir vermaakkun­stenaars, ’n raakvatter­pa is.

“Hy is ongeloofli­k met ons kinders en ’n wonderlike pa,” koer Elana. Die paartjie, wat tans tussen hul huise in Kaapstad en Centurion pendel, is vanjaar agt jaar getroud, en Elana sê sy kon nie ’n beter lewensmaat gevra het nie.

“Was dit nie vir Ian nie, sou ek nie noodwendig ’n ma gewees het nie, want ek het nooit daaraan gedink nie,” vertel Elana.

“Ek het net die regte ou ontmoet, en hy het my laat besef dat ons goeie ouers sal wees.”

Dit verbaas haar nietemin steeds om Ian en haarself in hul twee spruite te herken. Annabelle wou onlangs by haar ma weet waar haar “lime green” bal is, vertel sy ’n staaltjie om te verduideli­k. “Toe ék drie was, het ek nie geweet wat die kleur ‘lime’ is nie, maar hul pa is Engels en hy praat so,” vertel sy.

By haar leer hulle weer unieke Afrikaanse woorde en die tweetjies noem mekaar glo gereeld “skarminkel”.

“Wanneer ek ’n rok aantrek, sê Esther Beth altyd vir my: ‘Mommy, I love that dress. Please keep it for me so that I can wear it one day,’ ” vertel sy met ’n laggie.

Daarom was dit vir haar heerlik om met die modeontwer­per Izet Changuion hande te vat om haar eie klerereeks, ELANA by Glare, vroeër vanjaar uit te reik. Die antieksjie­k rokke is gemik op ma’s en dogters wat saam pragtig wil lyk.

“Ek beskryf myself as ’n ‘mompreneur’

LINKS: Elana skuif agter die mikrofoon in by Jacaranda FM. REGS: Sy is ’n kranige drawwer – sy sê dis goed vir die stresvlakk­e. HEEL REGS: Ma en dogters kon tydens die inperking gehaltetyd saam deurbring. en kan sien dat mammas wat weer wil begin werk, sukkel om op die been te kom ná hul kinders se geboorte,” vertel Elana.

“Ek wil steeds ma’s met hul kinders ondersteun, maar ek wil ook dié ma’s bystaan wat weer wil begin werk.”

Dalk moet sy maar raad gee vir haar Fynskrif-karakter, die prokureur Gertrude, wat juis ’n paar maande swanger is in die derde seisoen van dié reeks, wat tans op Showmax te sien is.

ELANA het in Augustus vanjaar 40 geword, maar sê ’n partytjie met haar vriendinne sal tot volgende jaar moet wag. Sy het selfs Ian se beplanning om dié groot mylpaal met ’n wegbreekna­week te vier van die hand gewys. “Ek wou wakker word tussen die dinge wat ek ken en voel dat alles kalm is. Ek wou tussen my kinders wakker word,” verduideli­k sy.

“Vanjaar soek ek net kalmte, want hoewel die inperking ons met nuwe vaardighed­e bemagtig het, is dit soos daardie gesegde wat ek met Vrouedag gesien het wat lui: ‘We are empowered, but we are tired.’ ”

Haar kenmerkend­e glimlag flits oor die skerm. “Volgende jaar kan ek en my vriendinne weer behoorlik partytjie hou!”

Maar ’n stil mylpaalver­jaardag voorspel nie ’n rustiger lewensfase nie, en Elana is reeds vol planne vir die nuwe jaar – onder meer om ’n boek te skryf oor van die lesse wat sy deur die jare geleer het.

“Daar is sekere temas waarvolgen­s ek my lewe leef: inklusiwit­eit; veerkragti­gheid; positiwite­it – en hoe om ander mense te motiveer.” ■

 ??  ?? HOOFFOTO: Elana AfrikaBred­enkamp het ’n hegte band met haar spruite, Ester Beth (links) en Annabelle. REGS: By haar man, Ian Bredenkamp.
FRANCO HAVENGA
HOOFFOTO: Elana AfrikaBred­enkamp het ’n hegte band met haar spruite, Ester Beth (links) en Annabelle. REGS: By haar man, Ian Bredenkamp. FRANCO HAVENGA
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa