Huisgenoot

Minki is terug op die kassie ná selfontdek­king tydens die inperking

Die streng inperking was vir Minki ’n tyd van gesinsvreu­gde en selfontdek­king, maar nou sien sy daarna uit om weer op die stel te wees

- Deur CHARLEA SIEBERHAGE­N-GREY

ANDERS as vir baie aardbewone­rs was 2020 vir haar g’n nagmerriej­aar nie. Trouens, die jaar wat die wêreld nooit sal vergeet nie, het vir haar geluk gebring. “Ek voel eintlik so half skuldig daaroor, maar dit was regtig vir my ’n wonderlike jaar,” vertel die aanbieder Minki van der Westhuizen terwyl sy haar op ’n vlootblou bank in haar gesin se ruim huis op Stellenbos­ch tuismaak.

Dis ’n pragtige somerdag en Minki is so borrelend soos altyd – vir haar skyn die son byna altyd.

Ook toe die covid-19-pandemie en die inperking die land vroeër vanjaar tot stilstand geruk het, het dit haar nie in ’n gat of groef laat beland nie. Sy het dit geniet om meer gehaltetyd saam met haar man, die sakeman Ernst Joubert (40), en hul drie dogters deur te bring, vertel sy – dit was geseënde gesinstyd.

Op 36 het Minki haarself ook in dié tyd beter leer ken. “Ek het nogal so 10 weke in die inperking in vir my skoonsussi­e gesê ek het eintlik besef ek is ’n introvert.

“Toe lag sy en sê: ‘Nee, jy is nie, jy is net ’n huishen!’ ”

Daardie lieflike glimlag waarvoor sy bekend geword het, sprei oor haar mond en haar oë vonkel.

Soos baie ander ouers moes sy en Ernst vanjaar met die skoolwerk inspring. Toe hul kinders tydens die inperking maande lank moes tuisbly, het elkeen “’n kind gehelp” met skoolwerk: hy vir Elise (6), wat volgende jaar in gr. 1 sal wees, en sy vir Katerien (7), wat volgende jaar gr. 2 toe gaan.

Met ’n laggie erken Minki sy het besef sy is glad nie ’n juffrou nie.

Foto's

“Ek het besef ek het nie die geduld daarvoor nie. Ek is baie dankbaar vir alle juffrouens daar buite.”

En tussendeur kon sy eindelik na hartelus tyd deurbring saam met klein Elsa (2), iets wat sy nie voor die inperking werklik kon doen nie.

Anders as haar twee oudstes wat in Engeland gebore is toe Ernst destyds daar klubrugby gespeel het en Minki ’n tuisblyma was, het die Jouberts hul jongste hier op eie bodem verwelkom.

Teen daardie tyd was Minki al terug voor die TV-kameras as die aanbieder van die kykNET-maatsoekre­eks Boer soek ’n vrou.

“Ek het basies nie eens kraamverlo­f met Elsa gehad nie, want ek het dadelik weer begin werk,” sê sy. “So sy het dalk nie my volle aandag gekry soos die ander twee nie.

“Maar ek kon met die hele inperking sien sy floreer. Haar liefdestaa­l is gehaltetyd. Ek kon sien hoe sy ontwikkel en hoe sy net mal is daaroor dat niemand êrens heen gaan nie. Sy het altyd gehuil as ek iewers heen gaan, en toe is almal skielik heeltyd by haar. Sy het rustiger geraak en sy was net heeltyd gelukkig.”

Nes sy wat Minki is. “Ek dink omdat my lewe so besig, vol en in die openbaar is, is dit vir my baie lekker om niks te doen nie en net hier by die huis te wees.”

STELLENBOS­CH is vandag lowergroen ná ’n goeie reënseisoe­n, en die pragtige berge en bome van die Boland verklap niks van die donker winter wat verby is nie. Die somerson bak laatoggend al warm langs die Eersterivi­er, waar Minki nou ’n hanetree van haar huis vir die kamera

straal. Sy lyk mooi in enigiets wat sy aantrek – informeel in geskeurde jeans en ’n mentgroen bloes of speels profession­eel in ’n helderpien­k linnepak met ’n parmantige kortbroek.

Ná jare as model weet Minki net hoe om te poseer sodat elke foto perfek is.

Al is sy nou in haar 30’s en ’n ma van drie, bly glansryke fotosessie­s ’n groot deel van haar lewe. Die vorige dag was sy juis ook tot laatmiddag met ’n fotosessie vir die Kaapse ontwerper Stephen van Eeden besig.

Sy begin in Desember aan die sewende seisoen van haar VIAgeselsp­rogram, Minki, verfilm en werk nou ook saam met ’n vriendin, die grimeerkun­stenaar Alicia Buckle, aan ’n lipstiffie­reeks wat hulle vroeg in 2021 bekend wil stel.

“Kyk, as ek ’n rand gehad het vir elke keer dat iemand my vra watter lipstiffie ek aanhet, dan het ek al afgetree,” sê sy.

Omdat sy die afgelope jaar genoeg tyd saam met haar gesin kon deurbring, sien sy uit na die besige Desember wat vir haar voorlê. Terwyl haar landgenote geleidelik vir luilekker dae op die strand gereedmaak, sal Minki op die stel wees om die nuwe episodes van haar VIAreeks te verfilm om weer diep dinge met haar uiteenlope­nde gaste te gesels.

Dan is opstaantyd soggens net ná vyfuur en trek sy net voor ses, nat hare en al, by die huis weg om betyds by Atlantic Studios in Milnerton te wees. “Dan is dit hare en grimering en net ná agt is ek in die ateljee,” vertel Minki.

Hulle verfilm sowat drie episodes per dag en sy kom eers saans teen halfsewe weer tuis.

“Dit is gewoonlik baie lang dae en my ma kom help meestal om die kinders by die skool te kry. Ernst maak ook kos; hy is dierbaar,” sê sy oor haar man, deesdae die hoof van die rugbyinsti­tuut van die Stellenbos­ch-sportakade­mie.

“Dit is maar rof, want jy gee emosioneel jou alles op die stel, en wanneer ek by die huis kom, praat ál drie dogtertjie­s gelyk én ek wil eet.”

BO: Minki, haar man, Ernst Joubert, en hul jongste, Elsa. HEEL BO: Minki en haar “drie poppies”, gemasker vir inkopies op Stellenbos­ch.

Sy vermurwe wanneer sy oor haar drie “poppies” gesels. Elise is kreatief en gek daaroor om ure aaneen met haar Barbiepopp­e te speel, vertel sy oor haar middelkind. “Katerien is weer vreeslik lief vir haar Lego en mal oor TV kyk, so ek moet dit ’n bietjie bestuur.”

En wat sê sy en haar sussies wanneer hul ma op TV verskyn?

“Die meisies is blasé daaroor. Hulle is gewoond aan die TV en tydskrifte. Maar nou die dag was ek in die koerant. Toe kom Katerien en sê sy: ‘Mamma, is dit die eerste keer dat jy in die koerant is?’ ” Sy slaan haar hande saam en lag. “Die oudste twee is mal oor mekaar, maar raak ook soms geïrriteer­d. Hulle is tipies sussies wat mekaar lekker kan opvryf, en dan sal hulle ook soms vir Elsa vreeslik terg – vreeslik!

“As hulle vir haar sê: ‘Jy is so oulik,’ dan sal sy sê: ‘Nee, ek is nie. Ek is Elsa Joubert. Ek is nie oulik nie!’

“Elsa, dink ek, is baie soos wat ek nou is. Sy het ’n baie sterk wil. Sy doen net wat sy wil doen. Jy sê haar nie voor nie.”

Wanneer die drie saans bed toe is, maak sy en Ernst tyd vir mekaar. “Dan sal ons ’n wyntjie drink en oor naweke sal ons braai terwyl die kinders buite speel.” Huishen, ten spyte van die glanslewe.

MET ’n huis vol dogtertjie­s was die begin van die inperking eintlik vir hulle die ene opwinding, vertel sy. Danksy die warm weer het die Joubert-gesin saam geswem en buite gespeel.

“Ag, dit was regtig net so ’n kosbare tyd saam met die kinders. Ons het TV-reekse gekyk, ek het kaste reggepak, ons het speelgoed uitgesorte­er,” vertel Minki. “Maar ons het probeer om elke dag eers die skoolwerk af te handel, want dan is dit ’n berg van ons skouers af,” voeg sy by. Hoewel hulle die streng inperkings­regulasies getrou nagekom het, het die ouerpaar dit gedoen sonder om hul kinders paniekerig te laat word. “Hierdie ding het gekom en ek en Ernst het dit gevat vir wat dit is, maar ek is nie ’n bang mens nie en ek is oor die algemeen taamlik positief. Ek weet ons is God se kinders en Hy gaan na my kyk,” verduideli­k sy oor die uitdagings van die ongewone omstandigh­ede.

“Ek breek nie my kop daaroor nie. Ernst is die realisties­er een. Ek glo net met alles wat ek het dat dinge gaan uitwerk. En ek dink kinders tel baie op by hul ouers. Hulle was nie vir een oomblik bekommerd of paniekerig of het vreeslik uitgevra nie. Vir hulle was dit net vakansie.”

En wanneer Mamma klaar geskiet is aan die reeks wat haar naam dra, sal hulle einde vanjaar regtig saam gaan vakansie hou – eers saam met Minki se ouers, Herman en Carien van der Westhuizen, op Yzerfontei­n aan die Weskus en dan saam met Ernst se familie op Hermanus. Want die jaar is op sy kop, en Kersfees is om die draai – en vir Minki sal dié dag ’n geseënde gesinsdag wees ná ’n hele jaar vol persoonlik­e seëninge.

Haar oë blink weer. “As ek terugkyk op hierdie jaar . . . Dit was goed vir ons,” vertel sy dankbaar. “En ek weet, dit is net genade van Bo.” ■

‘Wanneer ek tuiskom, praat ál drie gelyk én ek wil eet’

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? JACQUES STANDER
JACQUES STANDER
 ??  ?? HOOFFOTO: Die TV-aanbieder Minki van der Westhuizen straal langs die Eersterivi­er op Stellenbos­ch, waar sy en haar gesin woon.
HOOFFOTO: Die TV-aanbieder Minki van der Westhuizen straal langs die Eersterivi­er op Stellenbos­ch, waar sy en haar gesin woon.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa