PARTYTJIE TOE SONDER HAAR
Ek en my kêrel is al ’n hele paar jaar ’n paartjie. Hy studeer in die week, en ek sien hom net oor naweke. Ons het ’n gesonde verhouding en vertrou mekaar nog altyd. Een van sy vriende het hom na ’n ander vriend se 21ste verjaardagpartytjie genooi, maar nie vir my nie. Ek is nie die soort wat hom wil terughou en voorsê wat hy mag doen nie. Dis anders as wanneer dit net byvoorbeeld ’n braai sou gewees het. Hy het besware as ek alleen na plekke wil gaan en sê dan ek soek aandag. Hoe hanteer ek dit?
S op Y
Wat die uitsondering op die reël betref, is dit die beste om ’n goue middeweg te vind. As jy gereeld by jou kêrel se sosiale lewe uitgesluit sou word, sou jy dalk rede tot kommer gehad het. Maar hy het oor die afgelope jare ’n rekord van getrouheid opgebou. As jy dit tot dusver nie hoef te bevraagteken het nie, sal jy nou met dieselfde vertroue kan voortgaan. ’n Verhouding sonder gevaarligte bied vir albei maats ’n stewige grondslag vir die neem van goeie besluite.
Hier het nou ’n geval opgeduik waaroor julle nog nie tevore besluite moes neem nie. Dit sal goed en gesond vir jul verhouding wees om wel te besluit oor wat ’n praktiese reël is om in die toekoms te volg as net een van julle na ’n geleentheid genooi word. Die gelukkigste en gesondste verhoudings gaan oor gee en neem binne die grense daarvan.
Help hom om ’n gepaste geskenk te koop. Nooi ’n paar vriendinne vir die aand oor en waardeer jou eie blaaskans in goeie geselskap.
‘Sonder gesonde perke kan wrokke vorm waardeur verhoudings benadeel word’