Salige lewe vir hans springbokkie s
’n Vrou het afgekom op twee springbokkies wat deur jakkalse verniel is. Pleks daarvan om hulle aan hul lot oor te laat het sy hulle versorg, en nou lei dié hanslammertjies ’n salige lewe
DIS ’n vreemde toneel wat voor ons afspeel. ’n Jong vrou lei twee diere aan halsbande rond, maar dis nie honde wat sy vir ’n stappie vat nie; dis twee springbokkies. Die tweetjies bokspring en skop stof op, en Sunel van der Merwe (23) moet hardloop om by te hou. Stokkies en Bambi is twee springboklammertjies wat baie amper jakkalskos geword het, maar dié boeremeisie van Warrenton in die Noord-Kaap het ingegryp en hul lewe gered. En nou is hulle haar mak bokkies.
Sunel is ’n bestuurder op haar pa, Kriek, se plaas, Geluk. Buite die dorp boer hulle hoofsaaklik met simbra-beeste, maar by haar ouers se gastehuis op Warrenton tref jy ’n groot verskeidenheid aan. “Ons is baie lief vir diere,” sê Sunel. “Ons het ’n hele diereryk op die werf: Hier is honde, katte, papegaaie, skape, ganse en perde. En as ek nóg diere kan kry, sal ek!” lag sy.
Sunel het een oggend terwyl sy op die plaas die beeste gaan voer het op ’n springbokooitjie afgekom.
“Sy was erg deur jakkalse verniel en daar was bytmerke aan haar boud. Ek kon haar nie net daar los nie en het haar ingeneem en versorg.” Dié bokkie, Bambi, is nou sowat ’n maand oud. Skaars ’n week nadat sy Bambi ingeneem het, het Sunel gaan perdry en op nóg ’n springboklam – dié keer ’n rammetjie – afgekom. Ook hy is deur jakkalse bygekom.
“Die rooijakkalse is bedrywig dié tyd van die jaar, want die beeste kalf nou.”
Volgens Sunel was die tweede lammertjie, vir wie sy die naam Stokkies gegee het, nie so kwaai deur die jakkals beseer nie, maar hy was erg getraumatiseerd.
“Ek het albei spesiale wondbehandeling gegee en hulle hier by my ouers se gastehuis op die dorp in ’n kampie kom sit. Omdat ons hulle moes hanteer om hulle te kon red, sal hul ma’s hulle nie weer wil terugvat nie.”
Stokkies en Bambi het nou ’n salige lewe en Sunel maak seker hulle kry drie keer per dag melk. “Ons gee vir hulle gewone koeimelk met ’n spesiale poeier ingeroer om hul spysvertering aan te help.
“Ek staan elke oggend vyfuur op om vir hulle met ’n tietiebottel melk te gee. Hulle kry dan elkeen eenuur die middag weer ’n bottel en weer sesuur die aand.”
En waar het die idee vandaan gekom om vir die twee halsbande aan te sit en hulle vir ’n wandeling te neem?
“Ek het hulle verskriklik jammer gekry oor die klein kampie waarin hulle woon. Dit moet ááklig wees as jy so ’n klein ruimte het en jy kan nie regtig beweeg nie. Toe besluit ek om my honde se halsbande te vat en elke oggend en aand met hulle te gaan stap.
“Jy kan sien hulle geniet dit baie, en dit maak hulle meer aan mense gewoond.”
Sunel sê dié twee sal vreedsaam hier kan lewe, en sy wil hulle so mak moontlik maak sodat die bokkies later vryelik op die werf kan rondloop. “Hulle is al mak, maar nog ’n bietjie skrikkerig vir mense.
“Ek dink wel hulle het ’n baie beter lewe hier as wat die ander springbokkies in die trop het. As jy in reïnkarnasie glo, sal jy beslis as ’n dier op dié werf wil terugkeer, want al die diere hier word bederf en spekvet gevoer!” ■