So verskyn die groenoogmonster toe bloot oor my vrou liefdevol is
M OP K se trane in die Liewe Elize-rubriek (19 November) oor die groenoogmonster op haar man se skouer wat al dekades lank botweg weier om sy ry te kry, gryp my diep aan die hart. Daarom wil ek graag my storie met hulle deel.
Vandat ek kan onthou, het ek aan ’n brose hart gelei. Verwerping en ’n afjak het my diep verwond. Dié dat ek vroeg al rolle doringdraad om my brose hart gerol het. Tot die dag toe ’n Florence Nightingale oor my pad gekom het. Iemand wat van liefde aanmekaargesit is; ’n kundige oor emosionele doringdraad. Sy het my lewe verander, en ek het my hart toetentaal op haar verloor.
Dié dat ek so goed kon identifiseer met die versigtige karakter in die fliek Goodbye, Mr. Chips. Maar as jy in die regte lewe ’n Mr. Chips is, is daar baie minder maanskyn en rose in jou bestaan, en baie meer trane en verdriet. My vrou leef vir ander mense: groot en klein, oud en jonk, mooi en lelik. Al wat sy wil doen, is om mense se lewe aan te raak soveel sy kan. Sy omhels en druk en soen en laat almal in haar persoonlike ruimte toe.
Toe ontwikkel ek ’n intense vrees dat haar liefdevolheid gaan maak dat ek haar verloor. Net daar gaan sit die groenoogmonster toe vierkant op my skouer. Wat dié monster verder aanvuur, is die sekspeste wat die liefdevolheid van die “Florence Nightingales” verkeerd interpreteer. Die hartseer wat hulle saai, ook in hul eie gesin, is hartverskeurend.
Twee dinge is lewensbelangrik vir bangbroekvryers: sielkundige hulp om teen hul demone te baklei, en om nooit die hand te los van die grootste “Florence Nightingale” nie: Jesus Christus.