4 J. VAN WÉÉN OOR MY KIND
Sy help ander met hul seer, maar moet op haar beurt haar dogter se grumoord v erwerk
SY VOEL vermink. Asof ’n deel van haar geamputeer is en nooit weer sal teruggroei nie. En die wond het ’n pynlike maar onsigbare litteken gelaat. “Om ’n kind te verloor is aardskuddend,” sê Marlaine Pienaar-Vice (née Walters) hier in haar spreekkamer in die Paarl waar sy as sielkundige haar kliënte deur hul trauma en pyn help.
Want al het sy as kenner begrip vir die sielkundige en emosionele uitdagings waarmee mense worstel, en al is sy die een wat ander help om dit te verwerk, moet ook sý met ondenkbare verlies saamleef wat bly seermaak.
Sy worstel al die afgelope byna vier jaar daarmee ná die grusame moord op haar enigste kind, Nicola Pienaar (28).
Meer as drie uitmergelende weke ná Nicola se verdwyning in Januarie 2017 is Marlaine se bruinoogmeisiekind se ontbinde lyk in ’n vlak graf, tussen dorings, bossies en onkruid, in die agtertuin van haar kêrel, Jaco Oosthuizen (toe 32), se ouerhuis gevind.
Sy was swanger en haar maag was oopgesny. Haar ongebore baba het buite haar liggaam gelê.
Oosthuizen het beken hy het haar vermoor en het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy is in Junie 2018 tot 22 jaar tronkstraf gevonnis.
Maar vir Marlaine (62) is die smart oor haar dogter se dood soos ’n lewenslange vonnis.
“Ek het my kind verloor. Ek het ’n deel van myself verloor; ’n deel van my DNS,” sê sy. “Die afgelope vier jaar het alles verander. Niks is meer dieselfde nie.”
Dan kyk sy vinnig op, asof ingedagte, en ’n effense glimlag wil-wil om haar mondhoeke vorm.
“Maar ek het ’n sekere diepte in my binneste gekry wat moeilik is om te verduidelik. Ek het ’n waardering vir die lewe gekry wat ek nie eintlik voorheen gehad het nie. Ek bekommer my nie meer oor klein dingetjies nie, want die ergste het reeds met my gebeur.”
Sy leun oor na die rusbank langs haar waar ’n paar A4-afdrukke van kleurfoto’s van Nicola lê.
Een vir een kyk sy hulle deur, die verlange duidelik in haar oë.
Haar stem breek toe sy sê: “Sielkundige of nie, ek het ook my pakkie pyn gekry. En die pad wat ek die afgelope vier jaar moes loop, was ’n bitter moeilike een.
“Een wat geen ouer veronderstel is om te loop nie,” voeg sy by en sit haar hand op haar bors, so asof sy die stukke van hart bymekaar probeer hou.
DIE raaiselagtige verdwyning van ’n jong vrou in die WesKaap en haar desperate ma se kommer oor haar veiligheid het die land aan die begin van 2017 aangegryp. Die laaste keer dat Marlaine vir Nicola gesien het, was op Donderdag 5 Januarie daardie jaar toe sy by haar ma en stiefpa, Richard Vice, by hul huis in Eversdal, Durbanville, noord van Kaapstad, gekuier het. Daarna het sy in haar goue Peugeot teruggery na haar woonstel agter haar ma se spreekkamer in die Paarl.
Maar toe Marlaine daarna niks van haar hoor nie, het sy om 20:23 ’n WhatsApp-boodskap gestuur: “Als ok skat. Ek worry oor jou.”
’n Minuut later het Nicola “Ok,” geantwoord, maar om 22:06 laat weet: “ek gan bly ini paarl neh Mams.”
Op haar ma se vraag of sy oukei sal wees, het sy geantwoord: “ek glo so. dankie vi als.”
Ná daardie laaste boodskap om 22:08 is haar foon afgeskakel.
Toe haar oproepe onbeantwoord bly, het Marlaine die volgende dag Paarl toe gery. Daar was geen teken dat haar dogter die vorige aand by haar woonstel was nie en sy het Nicola se verdwyning by die polisie aangemeld.
Op 22 Januarie het die polisie Oosthuizen in Port Elizabeth in ’n KFC-parkeerterrein in Nicola se goue Peugeot aangekeer. Dit was vol boeke, beddegoed en klere, ook dié wat aan Nicola behoort het. Hy het vertel hy en Nicola het ’n uitval langs die pad gehad en hy het haar op Oudtshoorn afgelaai.
Maar kringtelevisiemateriaal wat by verskeie vulstasies langs die pad geneem is, het gewys hy was heeltyd alleen in die motor – ook drie uur nadat Nicola se selfoon op die aand van haar verdwyning afgeskakel is.
’n Week ná sy inhegtenisneming het Oosthuizen die polisie na sy ouerhuis in die Paarl geneem en in ’n hoek van die agterplaas haar graf uitgewys.
Nicola se lyk was so erg ontbind dat die polisie nie haar ma of stiefpa wou toelaat om haar so te sien nie. Maar ’n foto van twee tatoeëermerke op haar rug het geen twyfel gelaat dat die moordslagoffer die vermiste Nicola is nie.
Marlaine se grootste nagmerrie het waar geword. “Jy is absoluut verpletter. Dit is ’n soort pyn wat jy met niks anders kan vergelyk nie.”
Sy het nie haar dogter se moordenaar goed geken nie. Marlaine het Oosthuizen ’n maand voor Nicola se verdwyning die eerste keer ontmoet. Dit was toe sy ’n katjie vir haar ma in Durbanville gebring het om te versorg.
Marlaine wys ’n foto van haar Nikki met die babakat in haar arms. “Jaco het daardie dag nog hierdie foto geneem,” sê sy.
Sy en Richard het nie veel van die jong man geweet nie, behalwe dat hy geen vaste werk, motor of selfoon gehad het nie en by sy ouers gewoon het.
“Hy was baie netjies aangetrek en het ordentlik voorgekom,” vertel Marlaine.
Sy was onder die indruk dat die twee se verhouding nog in ’n vroeë stadium is.
Hoe voel sy vandag oor haar dogter se moordenaar?
“Ek het niks om vir Jaco te sê nie,” sê Marlaine, en skielik lyk dit asof daar ’n rustigheid oor haar spoel. “Ek voel nie haat of bitterheid teenoor hom nie. Ek sal waansinnig raak as ek dit toelaat en as ek dink aan die laaste oomblikke toe my kind nog geleef het.”
Sy sluk diep. “Ek wens ek het geweet wat presies gebeur het, maar ek aanvaar dat ek dalk nooit die waarheid van hom sal hoor nie.”
Marlaine het nie geskroom om ná haar dogter se moord self by ’n psigiater sowel as ’n traumaterapeut aan te klop nie.
“Dit het my vier jaar geneem om weer 100% reg te wees, veral kognitief,” vertel sy. “Want daardie eerste paar jare huil jy nie oor jou kind nie; jy ween.”
Die verlies van haar dogter het haar nog meer deernis vir mense se broosheid en kwesbaarheid laat kry, sê Marlaine.
“Pyn is universeel. Almal voel dit. Ek kan nie vra waarom so iets met my moes gebeur het nie; ek het nie ’n kopiereg op pyn nie.
“Maar ek kán kies om nie in alleenheid en bitterheid te verval nie. En om te aanvaar dat ek nooit weer my kind teen my hart sal kan vasdruk nie.”
Vir ’n oomblik raak sy stil. Uit die foto’s op haar skoot staar Nicola terug na haar ma.
Raak dit ooit beter?
“Ja,” sê sy dan. “Maar dit gaan hinkepink. Die verlange en leemte sal altyd daar wees.” ■