Huisgenoot

TOT SIENS, SA – VIR EERS

-

HY STEL kykers al jare lank aan nuwe ervarings voor deur sy reekse en produksies, maar nou staan hý op die drumpel van sy eie grootste avontuur. Die dramaturg Deon Opperman (58) en sy komponisvr­ou, Janine Neethling (51), het hul huis op Onrus naby Hermanus verkoop en klim binnekort op ’n vliegtuig om die aardbol te verken. Hulle sê tot siens aan als wat bekend is en gaan die wye wêreld invaar.

Ons gesels in die oopplanlee­fvertrek van die huurhuis op Hermanus waar hulle sedert Junie woon terwyl Janine koffie saam met Florentyns­e koekies voorsit.

Dit was omtrént ’n gedoente om te midde van al die inperkings­regulasies hierheen te trek. Maar dis alles deel van die momentum wat hulle nou het: Wanneer die visumkanto­re vroeg volgende jaar oopmaak, sal hulle vir hul visums aansoek doen en begin om van alles in die huurhuis ontslae te raak.

Gelukkig voel hulle nie sentimente­el oor hul besittings nie, sê Deon. Hulle gaan eers vir vriende ’n kans gee om goed by hulle oor te neem, dan aanlyn verkope doen en die res vir welsyn gee.

Hul grootste kommer lê by hul troeteldie­re, die hond Meisie Opperman en die kat Micky. Vir Meisie het hulle al ’n tydelike toevlug gekry, maar hulle besluit nog wat die beste heenkome vir Micky sal wees.

Janine wys na die string pryse wat op ’n rakkie in die leefvertre­k uitgestal is. “Wat gaan ons daarmee doen?” vra sy. “Ons gaan dit alles weggooi,” sê Deon. “Janine is nog effens sentimente­el, maar ’n prys is mos maar eintlik iets wat in jou hart en in jou kop is.”

Sy kosbaarhed­e – boeke en foto’s – is alles digitaal gebêre, en met ’n druk van ’n knoppie kan hy dit optoor, sê Doen.

Hy het in 2018 ook ’n heel nuwe gesonde leefstyl aangeneem en daarin geslaag om 15 kg af te skud. In die inperking het hy deur middel van digitale oefensessi­es met sy persoonlik­e afrigter aanhou oefen sodat die vetjies nie om sy blokkiesma­ag kom sit nie. Deon is vasbeslote om daarmee vol te hou wanneer hulle op reis gaan. Hy wys na sy foon: “My persoonlik­e afrigter gaan saam.”

DIT klink omtrent soos ’n nuwe begin. ’n Mens kan nie help om te wonder of dié draaiboekm­an – bekend vir die trilogie Hartland, Donkerland en Kruispad en die sepie Getroud met rugby – dan nou soos baie van sy karakters ontuis op eie bodem begin voel nie. Is dit ’n stelselmat­ige loswoel van die vaderland?

Deon se antwoord is ferm: “Nee, ons word bloot digitale nomades. Ons wil nie emigreer nie en ons gee glad nie ons burgerskap prys nie, maar ons gaan ook nie op toer nie. Ons gaan lang rukke op plekke woon en aangaan met ons lewe, maar net elders,” verduideli­k hy.

Die paartjie se kaartjies na Griekeland is vir 1 April 2021 bespreek. Hulle wil ses weke daar deurbring en dan na Bulgarye verskuif, waar hulle ook ses weke gaan woon. Die plan is om daarna terug te keer Suid-Afrika toe en dan lande soos Rusland, Panama en Mexiko te oorweeg. Tog wil hulle nie so ver die toekoms in beplan nie; alles kan nog verander. Dalk bly hulle selfs langer in Griekeland.

“Die planeet is so belaglik mooi,” sê Janine. “En daar is so baie plekke wat ek nog nie gesien het nie. Die vooruitsig is vir my verskrikli­k opwindend.”

Vir Deon sal dit glad nie iets nuuts wees om sy werk oor ’n lang afstand te doen nie: Hy skryf die afgelope agt jaar vir Getroud met rugby in sy huis in die Overberg, terwyl die sepie in Gauteng verfilm word. “Kom kyk hier,” nooi hy ons na sy studeerkam­er. “Dit is ál wat ek nodig het om te werk.”

Op die lessenaar staan ’n klein skootreken­aar, ’n sleutelbor­d, digitale pen om dokumente te teken en twee luidspreke­rs. “Van hier af doen ek al my projekte

en bestuur my maatskappy bestaande uit tussen 50 en 60 personeell­ede. Ek het spesiaal ’n kleiner rekenaar gekies sodat ek dit kan ronddra; dit pas in my rugsak.”

Hulle is nog in die proses om Janine se groot rekenaar te verkoop en vir haar iets kleiners aan te skaf wat steeds al die nodige sagteware het sodat sy kan aanhou musiek komponeer. Sy was voorheen die musiekregi­sseur van Huisgenoot se Skouspelpr­oduksies en het ook die musiek vir ’n rits televisiep­rogramme en musiekteat­erproduksi­es geskryf.

Wanneer Deon en Janine eers die pad vat, sal internetsp­oed ’n bepalende faktor in hul keuse van tydelike tuistes wees. “Dit is een van die oorwegings wanneer jy ’n digitale nomade word,” sê Deon. “Bulgarye het die vyfde vinnigste internet ter wêreld,” voeg Janine by.

Die plan om hul lewe op te pak en met ’n rugsak te gaan reis kom al ’n lang tyd aan, en noudat Sam, Janine se seun uit haar vorige huwelik met die akteur Dale Cutts, volgende jaar rekenaarwe­tenskap by Tukkies gaan studeer, kan die twee hul vlerke sprei.

Hulle het Griekeland as hul eerste bestemming gekies nadat Janine Deon gevra het waar hy eendag ’n klein nessie sal wil hê. “Hy het gesê Griekeland en gaan haal toe vir my ’n sonnet wat hy geskryf het toe hy op die eiland Naxos was. Hy het net gevoel of sy siel daar kan vlieg.”

Janine sien veral uit na dinge soos die Roosfees in Kazanlak in Bulgarye en wil graag Sint Petersburg in Rusland sien. Sy hoop dat hulle volgende Kersfees ’n treinrit na die stad Moermansk in Rusland se verre noordweste kan neem om die noorderlig­te te sien.

Maar die Overberg sal altyd vir hulle spesiaal bly. “Ons het gelukkige herinnerin­gs hier,” sê Deon. “Dit was die wonderliks­te hoofstuk van ons lewe.”

Dit is immers op Onrus waar hulle in 2014 in ’n teater getrou het. Te oordeel na Janine se ondeunde glimlag wanneer sy na Deon kyk, is die twee nog dolverlief.

“Die geheim is mos maar om saam te groei,” sê sy. “Ja,” beaam Deon. “Anders word jy eendag wakker en jy weet nie wie die ander persoon is nie.”

“Hy is my beste maat,” sê sy dan. Sam kom ingestap en sê hy gaan saam met ’n vriendin in die see swem. Sy ma kyk trots na hom. “As dit ’n jaar gelede was, sou dit vir my moeilik gewees het om hom te los. Hy het so baie gegroei.”

En wat dink Sam van sy ouers se toekomspla­n? Dra dit sy goedkeurin­g weg? Hy knik geesdrifti­g: “Ja, heeltemal. Ek is baie opgewonde vir hulle! Veral as hulle in ’n mooi plek soos Griekeland bly, dan sal ek graag daar wil gaan kuier.”

Deon terg hom glo gereeld deur te sê: “Ek en jou ma moet soos boemelaars lewe om vir jou studie te kan betaal!”

Daar steek dalk ’n bietjie waarheid daarin. Want benewens die avontuurlu­s wat hulle beetgepak het, maak lewenskost­e ook deel uit van die besluit, sê Deon. Hy glo moeilike tye lê vir die wêreld voor en dit het finansiële sin om nou van jou skuld ontslae te raak deur “ligter te lewe”. Deel van die huiswerk wat hulle moet doen, is om uit pluis “waar jy die meeste waarde vir jou geld kan kry en steeds lekker leef ”.

’NLEKKERDER, ligter lewe sal nou welkom wees. Janine sê die inperking was veral vir haar moeilik. Deon kon voortgaan met sy werk, maar al die werk en produksies waarby sy betrokke was, het noodgedwon­ge stilgestaa­n.

“Janine is haar hele lewe lank onafhankli­k,” sê Deon. “Vir die eerste keer moes sy op ’n man staatmaak.”

Hy sê op ’n dag moes hy mooi met haar praat en verduideli­k dis buitengewo­ne omstandigh­ede dié en sy moet sy hulp aanvaar. “Jy kan nie die heelal beheer nie, het ek gesê – vat my kredietkaa­rt.

“Kyk, dis nie baie vroue wat huil as hulle hul man se kredietkaa­rt moet vat nie,” sê hy met ’n laggie. “Sy het gehuil.”

Janine erken dit was moeilik: “My hele wêreld was onderstebo; ek moes anders daarna kyk. Dit was moeilik.”

Vir hul welstand het hulle as ’n gesin elke dag tyd gemaak om te hoor hoe dit met elkeen gaan. “Ons noem dit ’n serenity-sessie,” sê Deon. “Dan moet elkeen sê hoe jy voel, waarvoor jy dankbaar is en waarop jy wil fokus binne jouself om ’n beter mens te kan word.”

Janine het ook tuinhande en het haar energie in die huurhuis se tuin ingeploeg. “As dit nie vir die tuin was nie, sou ek dit nie gemaak het nie. Kyk, dis nou een ding: Ek sal ’n potplant by my hê wanneer ons rondtrek. Of minstens net kruie in die kombuis.”

Dan sê Deon weer: “Ons emigreer nie. Ek het klaar dié grond om my wortels en siel. ’n Mens kan nie jou Suid-Afrikaners­kap hier los en iets anders daar gaan word nie. Ek is ’n Afrikaanse Suid-Afrikaner. Maar as jy jouself in terme van ervarings kan verryk, hoekom nie?” ■

 ??  ?? Die skrywer Deon Opperman en sy vrou, Janine Neethling, is opgewonde om saam ervarings te beleef wanneer hulle op reis gaan. Janine se seun, Sam, gaan volgende jaar rekenaarwe­tenskap by Tukkies studeer.
Deur MARELIZE GRBICH Foto’s: CORRIE HANSEN
Die skrywer Deon Opperman en sy vrou, Janine Neethling, is opgewonde om saam ervarings te beleef wanneer hulle op reis gaan. Janine se seun, Sam, gaan volgende jaar rekenaarwe­tenskap by Tukkies studeer. Deur MARELIZE GRBICH Foto’s: CORRIE HANSEN
 ??  ??
 ??  ?? Janine, Deon en Sam in die tuin wat Janine gehelp het om aan haar kreatiwite­it uiting te gee toe die wêreld tot stilstand gekom het.
Janine, Deon en Sam in die tuin wat Janine gehelp het om aan haar kreatiwite­it uiting te gee toe die wêreld tot stilstand gekom het.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa