Huisgenoot

EKS WIL VERSOEN VIR KINDERS

-

Ek is geskei, want ek kon nie meer my eks se liefdeloos­heid verduur nie. Ek is nie spyt daaroor nie, want ons het kinders en ek moes hulle in ag neem. Die kinders het self al vir my gesê hoeveel dit hulle pla dat ons die hele tyd baklei. Die ding is hy wil nou terugkom, want hy verlang glo na die goeie ou dae. Hy hou aan sê ons moet dit om die kinders se onthalwe doen. Ek wonder of ek dalk verkeerd is?

K op R

Die hoop beskaam nooit nie, maar daar is geen waarborg dat dit hierdie keer beter sal gaan nie, tensy julle die probleme van die verlede doelgerig kan aanpak en uit die weg ruim. Dit moet ook op ’n manier gedoen word wat almal daarby betrek. Anders kan dit meer kwaad doen as goed. Dit moenie net gedoen word omdat een ouer nostalgies­e hunkerings het nie.

As die kinders oud genoeg is om sinvol hul behoeftes hieroor uit te spreek, is dit noodsaakli­k dat enige moontlike hereniging ’n gesinsbesl­uit moet wees. Dit is geen kitsoploss­ing nie en moet oor ’n tydperk ingefaseer en gemonitor word.

Konflik tussen volwassene­s is sleg vir kinders, of die ouers getroud is of nie. Dit kan ook oorspoel in die ouers se optrede teenoor hul kinders. Ouers wat frustrasie­s hieroor in hul verhouding met hul kinders na vore laat kom, doen hulle ’n dubbele onreg aan. Berading is ’n voorvereis­te vir die ouers en die kinders voor hulle weer as ’n gesinseenh­eid kan funksionee­r. Die gesin uit die “goeie ou dae” na wie jou eks hunker, bestaan nie meer nie. Niemand word deur ’n egskeiding onaangeraa­k laat nie. Hy sal dit moet insien en sy verwagting­s aanpas.

Ongesonde verhouding­sgewoontes wat tydens die huwelik en daarna posgevat het, moet eers uit die weg geruim word. Ouers moet ’n gesonde voorbeeld oor probleemop­lossing vir die kinders kan stel, anders gaan dit net ’n tweede keer angs by hulle veroorsaak. Vir kinders om gesond te ontwikkel moet hulle tuis veilig voel, sonder emosionele bedreiging­s en sonder volwassene­s wat mekaar soos vyande behandel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa