Huisgenoot

LANG VINGERS? NIE EK NIE!

-

My oupa beskuldig my daarvan dat ek van hom steel. Ons kuier elke naweek by hom en ek moes dit nou al telkens aanhoor. Hy is al baie oud en dra ’n gehoorstuk. Ek is nog in my laaste jaar op skool. Ek het regtig nog nooit so iets gedoen nie.

K, SMS

Vra jou ouers of ’n toestand soos demensie of alzheimers dalk by jou oupa gediagnose­er is wat sy geheue aantas. Dit sal maak dat hy maklik vergeet wat hy met voorwerpe soos sy gehoorstuk of geld doen.

Dit is dan die maklikste om vinger te wys na iemand na aan hom wat hy dalk as ’n vreemdelin­g beskou. Dit kan gebeur dat jy hierdie vreemdelin­g in sy oë is omdat hy jou nie elke dag sien nie.

Hy doen dit nie om jou seer te maak nie. As hy wel ’n geheuesiek­te het, kan hy op hierdie manier probeer sin maak uit iets wat angs by hom veroorsaak.

Hoe moeilik dit ook al is, jy sal in hierdie omstandigh­ede ’n plan moet maak.

Al is hy die ouer mens, sal jy vir hom moet dink. Die eerste stap as hy weer so ’n aantyging maak, is om kalm te bly en jouself te herinner dat jy dit nie persoonlik moet opneem nie. Moenie met hom daaroor stry nie, want dit gaan hom net meer ontstel. Moet ook nie wegstap nie.

Laat hom klaar praat en neem hom dan na ’n rustige omgewing. Moenie probeer om hom te laat onthou waar hy dalk laas die voorwerp gesien het nie. Hy kan waarskynli­k nie meer so maklik terugdink soos jy nie.

Gee antwoorde op sy vrae en jou eie kort verduideli­king van wat dalk met die voorwerp kon gebeur het. Laat hy ’n rukkie toekyk hoe jy daarna soek. As jy dit nie kan kry nie, trek sy aandag af deur vir hom iets te ete of te drinke aan te bied.

Vra jou ouers om hom na ’n dokter of kliniek te neem waar ’n deeglike ondersoek kan uitwys of hy moontlik ’n geheuesiek­te het. Dan kan julle betyds reëlings tref vir sy versorging in die toekoms. ■

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa