Huisgenoot

Môre is nog ’n dag

Klein Wouter kom op sy pa se oorlogdagb­oek af, en daarin leer hy die persoon ken na wie hy genoem is

- Deur MARTIE GROENEWALD Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

PAPPA, kan ek hierdie boek ook maar by die ander sit wat ons vir die boekwinkel gaan stuur?”

“Hoe lyk hy? Ek sukkel gou met hierdie karton.” “Hier staan niks voorop nie – wag net – hier is iets voorin geskryf. Sjoe, dit is baie onduidelik – Oorlog Mei 198 . . . Ag, kyk net of Pa die boek ken?”

Karel staan uit die gebukkende posisie op en dan verstar sy gelaat. Ná al die jare. Dit voel soos gister nog. “Paprika? Is alles reg?”

Karel se hart verteder soos altyd wanneer sy seun hierdie troetelnaa­m vir hom gebruik.

“Ja, my kind, alles is reg.”

“Het ons nie dalk genoeg vir een dag gedoen nie? Laat staan Pa nou maar, dan maak ek gou klaar.”

“Nee, dit is nie nodig nie. Die boek wat jy daar het, was die dagboek wat ek in die oorlog gehou het.”

“Is dit die oorlog waarin Paprika se beste vriend oorlede is?”

“Ja, ek het ook net ’n paar maande daarna opgehou om notas daarin te maak.”

“Mag ek dit maar lees?”

“Jy mag, en dan sal jy ook weet waar jou naam vandaan kom. Ek dink ons het genoeg gedoen vir vandag. Môre is nog ’n dag,” uiter hy die woorde wat sy beste skool- en lewenslang­e vriend ook altyd gesê het . . .

Tot daar nie meer vir hom nog ’n dag was nie.

Wouter het die boek in sy kamer gaan bêre om gereed te maak vir aandete. Toe Wouter, sy pa en ma hande neem vir die tafelgebed, is dit doodstil, en Wouter loer ná ’n rukkie in sy pa se rigting. Sy ma glimlag en druk haar man se hand. “My man, waar draai jou gedagtes?”

“Uitgevang,” antwoord sy pa glimlaggen­d. “My gedagtes was nou ver terug. Ek het een vakansie by my beste vriend gekuier . . .”

“Is dit oom Wouter na wie Pappa verwys?”

“Die einste, my kind. Die kinders het ook die geleenthei­d gekry om te dank, en die spesifieke dag het ons pas van die see af teruggekee­r.

“Almal was moeg en honger, en dit was Wouter se beurt. Ons het almal kop onderstebo sit en wag dat hy moet bid, maar die volgende oomblik haak hy af met: ‘Op julle merke, gereed, vreet.’ Ons was so geskok, maar hy het doodluiter­s weggetrek en heerlik begin eet.”

Wouter lag dat die trane loop. “Wat het Pappa-hulle toe gedoen?”

“Ná die skok het almal so gelag, ons het maar ná ete gedank.”

Wouter kyk na sy ma wat met soveel liefde na sy pa kyk terwyl sy ook lekker saamlag, en hy dink aan hoe mooi sy pa en ma se liefde is. Altyd soveel respek vir mekaar.

NÁ ETE gaan lê hy, en hy vergeet byna van die boek tot sy oë daarop val. Hy maak die boek oop en begin lees. Dit begin met sy pa se aanmelding vir diensplig. Hul basiese opleiding – opleiding in wapens en valskermsp­ronge – en die lief en leed wat die troepe met mekaar in die groot verlangtye gedeel het.

Uit dié dele leer hy ook Wouter sr. ken – sy pa se laerskoolv­riend wat alles moontlik saam met hom gedoen en gedeel het. Hy kan agterkom hulle was onafskeidb­aar. Dan die groot nuus: Hulle is opgeroep grens toe.

Vir baie troepe ’n tyd van opwinding, maar ook een van vrees vir die onbekende. Die voorbereid­ing en finale afrondings­kursusse om gereed te wees vir enige onmoontlik­e situasie. Wouter raak so verdiep in wat hy lees, dit voel vir hom hy slaan die gebeure as ’n toeskouer uit ’n boom gade.

Donderdag 3 Oktober 1985 – Die oproepinst­ruksie is vandag deur die sersant-majoor aan ons voorgelees. Uitgesoekt­e lede van ons sektor word opgeroep vir grensdiens waarvan ek en Wouter ook deel uitmaak. Ons moet gereed wees om môreoggend vroeg te vertrek. Wouter was natuurlik soos gewoonlik in sy element oor die verwikkeli­nge. Altyd gereed vir aksie.

Vir die eerste maal voel ek onrustig. Ons vuurwapens – die immergewil­de R1geweer – is skoongemaa­k en nagesien en weer en weer, so asof ons besef het dit kan ons enigste bron van oorlewing wees. Elke lid het vir oulaas ’n lang stort geneem; dié wat gerook het, het gestook, want dit sal nie in die bos moontlik wees om eens aan ’n sigaret te dink nie – wat nog aansteek.

Vrydag 4 Oktober 1985 – Ons het om 06:15 by die tydelike veldkamp aangemeld ná ’n lang, uitmergele­nde rit in die buffel. Dit is seker een van die ongemaklik­ste voertuie nóg – jy skud en skommel so agterin dat dit ’n goeie melkskomme­l sou laat skaam kry. Die trok met die toerusting en tente is vooruit, en het reeds vir ons gewag toe ons daar opdaag. Tente is opgeslaan – die slaapkwart­iere vir die troepe aan die een kant, die tent wat as tydelike kombuis sou dien in die middel, met die offisiere se kwartiere aan die ander kant. Daar is vier uitkykpost­e op elke hoek van die tydelike basis opgestel. Wagte is dan ook dadelik daar aan diens en op hul pos.

Ons het daarna opdragte ontvang en sal douvoordag môreoggend uitbeweeg na die gebied wat aan ons uitgewys is vir patrollies. Kospakkies – of ratpacks, soos ons dit leer ken het – is reeds uitgegee, aangesien ons nie weet hoe lank ons in die veld sal wees nie. Ek is bang opgewonde en wonder of ’n mens regtig hierdie gevoel kan beskryf.

8 of is dit 9 Oktober 1985 – Ek kan nie onthou wat die dag is nie. Ek dink ons is nou drie of vier dae in die veld. Tyd staan stil as jy altyd op jou hoede is. Skuifel-skuifel plat op die grond, van koeltekol tot koeltekol. Dan wag jy. Met die volgende handseine van bevel skuifel ons dan weer voort.

Dit is onheilspel­lend stil. Die luitenant in bevel het laat weet ons sal môre teen sononder kan terugbewee­g kamp se kant toe. Dis nogal gerusstell­end. Die spanning maak ons klaar. Dit sal heerlik wees om weer in die beskawing te wees; hardop iets vir jou mater te sê sonder om staat te maak op handgebare. Ai, ’n ribbetjie op die kole sal ook vorentoe smaak – ek en boeliebief raak nou haaks met mekaar, om nie eens van die snack bar of droë, plat koekie te praat nie. Die water in my bottel proe ook al soos ’n ou boorgatpom­p.

Ek en Wouter beweeg so na moontlik aan mekaar, en al mag ons nie ’n geluid maak nie, beteken ’n bekende se teenwoordi­gheid baie.

KLEIN Wouter kyk op na die horlosie en besef dis laat, maar hy kan hom nie wegskeur van die inskrywing­s nie en lees voort:

Sondag 7 September 1986 – My laaste inskrywing – en ook die eerste keer sedert 8 of 9 Oktober 1985. Ek was nog besig met inskrywing­s in my dagboek toe ons daar voor ’n beweging sien. Die volgende oomblik het die een of ander voël uit die bosse opgevlieg. Ons het ontspan – ek het maar my boek weggebêre en onmiddelli­k daarna besef iets het die voël skrikgemaa­k – maar die eerste skote het reeds geklap. Ek het Wouter hoor gil. Ek het die gevaar om my vergeet en so vinnig ek kon tot by Wouter geskuifel. Al waaraan ek kon dink, was om hom na veiligheid te probeer kry. Die korporaal voor my het amper sy rugstring gebreek om vir my te wys ek moet plat bly waar ek is.

Ek het so te sê bo-op Wouter gebly – hy het na my gekyk – sy lippe het beweeg asof hy iets wil sê. Ek het my kop nader gebring. “Kyk mooi na Adel – ek weet jy is net so lief vir haar soos ek.” Hy het met ’n stil glimlag gesterf.

Ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, het die stilte oor die bosse neergedaal. Ek het voor my uitgestaar en asof uit die verte het ek die radio gehoor. ’n Paniekerig­e stem het uit die blik gekom “Hotel bravo 1, hotel bravo 1, asseblief sê dat julle my kan hoor. Jimmel, korporaal, daar is niks!”

Toe: “Jy moet sê oor en die knop los, troep!” En daarna: “O ja – oor”. Ek het skielik lewe gekry en daarna gesoek.

“Dit is hotel bravo 1, julle moet help, asseblief. Wouter is geskiet – oor!”

“Ons hoor jou. Wat is jou ligging – oor?”

’n Paar uur later het ons die woep-woep van die helikopter gehoor wat ons opgepik en direk na die hoofbasis geneem het.

Ek het aangedring daarop om die nuus aan Adel oor te dra – ek sal nooit die verslaenth­eid vergeet toe sy my sien nie. Ek het nie eens nodig gehad om iets te sê nie – ons het net na mekaar gestaar en toe gehuil. Ek het nie een dag gemis om by haar te wees en te troos nie.

Later het die hartseer ’n stille herinnerin­g geword waarop ons elke dag Wouter se uitgesprok­enheid en opgewonden­heid oor die lewe herleef het. Ons het besef hy sou nie hierdie gesiggies wou sien nie, en die hartseer dae het gou in vrolike “onthou jy”-dae verander. Hy het ’n absolute liefde vir skoenlappe­rs gehad en ons het dan ook later uitgevind ek het sy hele versamelin­g skoenlappe­rs geërf.

Wouter is op 18 Oktober 1985 met volle militêre eerbetoon begrawe.

Ek en Adel is gister op 6 September 1986 getroud – wat ’n pragtige bruid – en die skoenlappe­rs het mal gegaan in die tuin rondom ons. Ek het besef hierdie dag dra ons getroue vriend se goedkeurin­g weg, en ek kon amper sy lag tussen die bloeisels hoor.

Ek en Adel het saam besluit ons eerste seun sal Wouter genoem word.

Wouter maak die dagboek nadenkend toe. Hy staan op en vat ’n boek uit sy rak waarmee hy by die lessenaar gaan sit. Voorin skryf hy: Dagboek van Wouter (jr.) Vermeulen.

“Gister het sy eie hartseer verlange, maar môre bring sy eie nuwe vreugde.” ■

Die spanning maak ons klaar. Dit sal heerlik wees om weer in die beskawing te wees

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa