Huisgenoot

BY ’N BUSSTOP IN DIE HEMEL

HIERDIE LEWE GEWONE MENSE IN HUL EIE WOORDE Dalene Minnies was 44 jaar lank ’n verpleegst­er. Dit was nie net haar beroep nie; sedert haar jong dae vertolk sy dié rol toe sy eers na haar ouers en toe haar man omgesien het

- COLIN HENDRICKS

Soos vertel aan

DALENE MINNIES (61), AFGETREDE VERPLEEGST­ER

MY OUERS het by die Paarl-hospitaal gewerk. My ma was ’n kok en het altyd die lekkerste kos gemaak. Sy het die verpleegst­ers met daai groot lewerkoeki­es gespoil. My pa het medisyne aangery van die apteek af. Ek dink dis waar die verpleegbe­roep al aan my begin vasbyt het.

Ná hoërskool het ek aansoek gedoen om verpleegku­nde te gaan studeer, maar voor my aansoek aanvaar is, het ek op die plase in die wingerde vir ekstra geld gaan werk. Ek het in die pruimboord in Suider-Paarl gewerk, en toe my aansoek deurkom, het ek dit gelos en op 1 Mei 1976 by die verpleegko­llege Nico Malan begin studeer.

Ek het diep in die riots-tyd, die Gugulethue­n Nyanga-riots, met my opleiding by die ongelukeen­heid by Grootte Schuurhosp­itaal begin.

In 1978 het ek in die kraamsaal by die Paarl-hospitaal begin. Omdat my ouers destyds daar gewerk het, het almal my geken as “Dawid se kind”. Baie sê ek het my pa se persoonlik­heid, want hy was ’n spontane, liewe mens. Streng, maar met ’n goeie hart. My enigste suster is meer soos my ma. Sy was ’n baie sagte en stil vrou.

Op 1 Mei vanjaar was ek 44 jaar in dié beroep. In my laaste ruk as verpleegst­er tot einde Julie, toe ek afgetree het, het ek met die mobiele kliniek op die plase hier rond gewerk. Haai, om te dink, ek het op die plase voor my dae as verpleegst­er gewerk en toe eindig ek af op die plase.

Verpleging is maar nou net in my. Toe my pa begin siek raak het – hy het ’n buikaneuri­sme gehad – het ek by die Mediclinic in die Paarl gewerk. Ek het my ma gehelp om na my pa om te sien. Hy was bedlêend. Hy het op Nuwejaarsd­ag van 1995 gesterf.

My pa was my rolmodel. Hy het nog daai respek gehad vir mense en die lewe. Hy het ’n hoed gedra en fiets gery en as daar ’n begrafniss­toet verbygekom het, het hy van sy fiets afgeklim en sy hoed van sy kop afgehaal tot daai stoet verbygery het.

My pa het die mooiste tuin gehad en het vir almal ’n blommetjie daaruit gepluk. Hy’t renonkel- en dahliaboll­e en asters in sy tuin gehad, en dit het altyd geblom.

My ma het in 2002 begin siek raak. Sy het ’n erge vorm van artritis gehad. Sy het heeltemal opgetrek en was heeltyd in pyn. In 2003 het sy begin bedlêend raak. Ek en my suster en my dogter het vir haar begin versorg, maar sy was ’n baie privaat en onafhankli­ke vrou. Ek moes toe aan haar verduideli­k dat ons van toe af vir haar in die bed moet bad. Sy het nooit gesê sy het pyn nie. Sy het net haar gesiggie vertrek en dan weet ons sy het pyn.

Op 5 Januarie 2006 het sy afgesterf – ook vroeg in die jaar soos my pa. My man het my baie bygestaan in die tyd toe ek na my ma omgesien het. Min wis ek dat hy ook siek sou word. My man se naam was Herman. Ons het mekaar in 1976 in my opleidings­jare deur my suster ontmoet. Hy is ook van die Paarl.

Ek besef vandag hoekom ons bymekaar moes uitgekom het.

Hy het gewerk as ’n verteenwoo­rdiger vir Coca-Cola in die Paarl. Op 9 Augustus 1999 het hy my halfvyf die oggend wakker gemaak – hy het my “Mammie” genoem – en gesê: “Mammie, my elmboog pyn.” Later kon hy nie meer die pyn vat nie. Ek en my seun het met hom hospitaal toe gejaag. Hy het ’n massiewe hartaanval gehad. Hy’s eers ’n maand later ontslaan.

In 2006 het hy my gesê: “Mammie, kry jou paspoort reg, ons gaan Thailand toe vir ’n week.” Hy het dié trip by die werk gewen, en hulle het vir alles betaal. Ons het ’n baie lekker week daar gehad, maar die aand voor ons terug huis toe sou kom, het my man begin vreemd optree.

Die dokter het hom na ’n sielkundig­e

BO: Dalene en Herman. Al was dit moeilik, mis sy soms die dae toe sy na haar geliefde man moes omsien.

verwys. Hy het ’n week by haar geloop, en voor sy laaste sessie het sy ons ingeroep en gesê daar is definitief kognitiewe belemmerin­g. Iets was nie lekker met sy brein nie, want die goed wat hy praat en doen stem nie ooreen met dié van ’n normale mens nie.

Dis waar daai siekte begin het. ’n Neuropsigi­ater het in Februarie 2008 – ek sal dit nooit vergeet nie – vir hom gediagnose­er met ’n bitter seldsame siekte, Fahr’s-sindroom. Ek het daai dag gehuil soos nog nooit vantevore nie. En weet u, voor hy sy werk in 2007 verloor het, het hy so baie foute gemaak. Dit was die begin van sy persoonlik­heidsveran­dering en niemand het toe geweet dis oor dié sindroom nie. Hy het byvoorbeel­d bestelling­s geneem en dit dan op iemand anders se rekening gelaai. Ek kan onthou hy het soms in die aankomende baan gery.

Sy werk sou my en bel sê die kliënte kla, want meneer Minnies gaan vat hulle bestelling­s en staan en maak sy broek voor hulle nat. As ek terugdink dan besef ek hy was daai tyd al siek, want sy brein was toe al heeltemal weggegooi.

Hy was ’n getroue kerkman. Maar as gevolg van die sindroom het hy al sover gegaan om in die kerk te rook. Hy het sommer die Son op Sondag-koerant gaan koop en in die kerk, beentjies oorkruis, die koerant sit en lees – onderstebo.

Hy was destyds ’n koorleier in die kerk. Ná sy siekte het hy tussen die gemeente gesit en sy hande rondgeswaa­i soos ’n conductor. Hy het later lewensgeva­arlike goed gedoen. My man het ’n palmboom in ons jaart aan die brand gesteek dat die brandweerl­orrie daar moes kom draai.

As ek saans ’n uur lank kon slaap, was dit baie, want dan sit my man regop in die pad of ek moes hom skoonmaak.

Soggens as ek moes gaan werk het, het ek nooit uit die huis met ’n lelike gesig gegaan nie. Ek het by die werk gesmile asof niks gebeur nie. Soggens het hy vroeg saam met my opgestaan. Dan moes ek hom was en aantrek, sodat hy en sy hond, Chuck, soggens by die busstop kon wag vir sy werksmense om hom te kom optel. Maar hy was toe al jare lank afgedank.

Die dokter het my altyd gesê: “Wat jou man doen is nie hy nie, dis die sindroom.” Hy het 13 jaar gesuffer met daai sindroom. Ek het ’n baie goeie man gehad, maar sy siekte het hom heeltemal ’n ander mens gemaak. Ná sy eerste hartaanval het hy amper elke tweede jaar een gehad. Ons het hom later gespot oor sy blerrie sterk hart wat aanmekaar hartaanval­le survive het. Maar daai hart van hom kon nie sy laaste een in April survive nie.

Dit was ’n koue Maandagogg­end. Dit was die eerste oggend wat ek hom nie in en uit die bad moes help of hom moes afdroog nie. Maar, terwyl ek sy doekie aangesit het, het hy op my geval. Ek het myself onder hom uitgewikke­l en toe ek sy gesig sien, toe weet ek. My man het net daar in my arms gesterf.

Ek mis hom baie. Ek mis die Herman na wie ek gekyk het. Hy het ons so baie laat lag. Daar was humor en daar was baie hartseer daarin. Chuck is ’n maand voor Herman dood. Daai hond was sy guardian angel. Hulle twee sit seker nou saam by ’n busstop in die hemel.

‘Mammie, kry jou paspoort reg, ons gaan Thailand toe vir ’n week’

 ??  ?? HOOFFOTO: Dalene Minnies was haar lewe lank in die rol as verpleegst­er, by die verskillen­de hospitale waar sy gewerk het, asook by die huis. HEEL REGS: Sy en haar man, Herman, op hul troudag in 1980.
HOOFFOTO: Dalene Minnies was haar lewe lank in die rol as verpleegst­er, by die verskillen­de hospitale waar sy gewerk het, asook by die huis. HEEL REGS: Sy en haar man, Herman, op hul troudag in 1980.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa