Huisgenoot

DIE TOL VAN AB SE STREKE

Kykers het hom erg verkwalik oor sy geliefde karakter se verraad, vertel Cedwyn – en ook sy gesondheid het skade gely

- Deur JODY-LYNN TAYLOR

DIT sal vir enige akteur ’n aanpassing wees: om skielik voorgekeer te word op straat waar ’n wildvreemd­eling jou vir jou karakter se optrede uittrap. Vir Cedwyn Joel was dit nóg moeiliker. Sy karakter in die kykNET-sepie Suidooster was dan die afgelope vyf jaar nog altyd so geliefd: die apteker AB Samsodien, ’n patriarg wat getrou is aan Moslemtrad­isies en wie se huwelik van byna 30 jaar met sy vrou, Mymoena (gespeel deur Jill Levenberg), ’n toonbeeld van geluk was.

Maar dit was vóór Farah Adjerahn (Lee-Ann van Rooi) vroeër vanjaar in Ruiterbosc­h opgedaag en AB se oog begin dwaal het.

Toe hy haar sy tweede vrou maak en Mymoena gebroke laat, was die gort behoorlik gaar onder kykers.

Eindelik het AB vir Farah ’n egskeiding gevra, maar Mymoena maak dit nie maklik vir hom om haar hart terug te wen nie. En kykers gaan hom ook nie sommer net so vergewe nie . . .

Hy stem nie noodwendig saam met sy karakter se besluite nie, vertel Cedwyn op sy rustige manier aan Huisgenoot oor sy ervaring van die storielyn wat kykers vanjaar so geboei het.

“Ja, ek was sélf in ’n stadium kwaad vir AB omdat hy my in so ’n ongemaklik­e posisie geplaas het – mense kon nie altyd tussen my en my karakter onderskei nie.”

En nie net vreemdelin­ge was warm onder die kraag nie. “Vriende van my het selfs gesê ek moet liewers nie meer na hulle toe kom nie – dan herinner ek hulle gou dat hulle eintlik van AB praat!”

Agter die skerms het dit bloedsweet geverg om die poligamies­torielyn lewe te gee.

“Ons het minstens 14 dae lank baie intens aan die tonele gewerk,” sê Cedwyn.

“Die groot ding vir my gaan oor geloofwaar­digheid. Dit was daarom belangrik om navorsing te doen. Ek moes myself sielkundig voorberei, want die tonele was baie emosioneel.”

Al die druk het sy tol begin eis en sy liggaam is ’n knou toegedien. Hy is dokter toe en moes hoor dat dit weens spanning is dat hy so sleg voel.

“My bloeddruk was hemelhoog, maar ek is nou op ’n bietjie sterker medikasie en probeer om myself so kalm moontlik te hou.”

Cedwyn het al voor AB en Farah se TV-troue minder winkels toe begin gaan uit vrees dat die kykers hom oor AB se streke gaan bydam. Ná die troue was dinge nog erger, en hy het ’n ruk lank uit die openbare oog gebly.

Om saam inkopies te doen is een van Cedwyn en sy vrou, die tuisteskep­per Cecelia (65), se gunsteling­tydverdryw­e saam, maar sy moes dit toe maar alleen gaan doen.

“Mense leef hulle so in die storie in, maar ek blameer hulle ook nie, want dis ’n aanduiding dat ek my werk reg doen,” sê Cedwyn.

CEDWYN is in sy AB-kostuum geklee toe ons mekaar ontmoet by die Atlantic Film Studios in Kaapstad waar Suidooster verfilm word. Hy dra ’n noupassend­e ligblou hemp, en om sy nek hang die apteker se rondelensb­ril met die rooi raam – dieselfde een waaroor hy so dikwels loer as iemand die Aalwyn Apteek binnestap.

Net die swart masker is nie AB s’n

nie. Cedwyn haal dit af en wys hoe vol grimering dit nou is.

“Ek vergeet soms dat ek te alle tye ’n masker moet dra; daarom los ek deesdae een in my kleedkamer, in die kar, en ek loop selfs met een in my sak rond,” lag hy.

Die Suidooster-span moes nes die res van die wêreld die afgelope jaar talle aanpassing­s maak weens die coronaviru­skrisis.

Aanvanklik is verfilming vir vyf weke gestaak. Maar op vlak 4 van die inperking het die bedryf die groen lig gekry om met produksie voort te gaan – met ’n hele rits streng maatreëls wat gevolg moet word daarby.

Deesdae word jou koors met jou aankoms by die ateljee gemeet, en om elke hoek en draai staan ’n bottel handreinig­er.

“Ek is dankbaar dat ek deur covid19 staande gebly het,” sê Cedwyn. Hy erken hy het dit oorweeg om vanjaar sy vlerke te sprei en ander werk te doen, maar aan die einde van 2020 weet hy sy werk by Suidooster was ’n seëning in ’n tyd toe baie kunstenaar­s sonder werk was.

“Ek is dankbaar vir my werk, want ek weet die vermaakbed­ryf het ’n helse knou gekry.”

DIS ’n bedryf waarin hy hom al 33 jaar bevind – al het hy nie formele opleiding as akteur gehad nie. Cedwyn het ná skool handelskun­s aan die voormalige Skiereilan­d Technikon studeer. Daarna het hy 14 jaar lank as klerk by die Athlone-poskantoor gewerk voor hy begin toneelspee­l het.

“Op ’n kol het ek net gevoel iets ontbreek, maar ek kon nie my vinger daarop lê nie. Ek was nog altyd mal daaroor om stories te vertel en het toe begin toneelspee­l.”

As deel van die destydse Kaaplandse Raad vir die Uitvoerend­e Kunste het hy die land vol getoer met teaterwerk. Sy groot deurbraak was in 1986 in die dramaturg Pieter Fourie se verhoogstu­k Die koggelaar, waarin die akteur Ian Roberts ook te sien was.

Sedertdien het hy in onder meer 7de Laan en die reekse Die boekklub en Meeulander­s verskyn.

Vroeër vanjaar het hy Mr. Hartenburg in die reeks Blood

& Water op Netflix gespeel.

Maar hy is waarskynli­k die bekendste vir sy rol as die kroegman Sonny

Jacob in die sepie

Generation­s – ’n karakter wat hy byna 11 jaar lank gespeel het.

In die proses was hy deel van ’n groep bruin akteurs wat baanbreker­swerk gedoen het vir jong mense wat vandag in die bedryf is.

“Ek en mense soos Denise Newman, Basil Appollis en Ivan Abrahams het die grond gelyk gemaak vorentoe, en ek voel geëer dat ek kon deel wees van ’n groep mense wat dinge uitgesorte­er het,” sê hy. “Dat die dinge waarvoor ons baklei het nou vanselfspr­ekend is.”

TOE die stof effens gaan lê ná die druk verfilming van die AB-MymoenaFar­ah-sage, het Cedwyn en die res van die akteurs ’n week lange blaaskans gekry. “In daai tyd wat ons die tonele geskiet het, was daar nie tyd vir debrief nie. Ons was soggens vroeg op die stel en is saans laat daar weg,” onthou hy.

By die huis kon hy op Cecelia, sy vrou van die afgelope 43 jaar, steun. “Sy is die beste ding wat met my gebeur het. Ek is baie jonk getroud, maar ek dink sy het gehelp om my rigting te gee en te maak dat ek nie die pad byster geraak het nie. Ek weet nie waar ek vandag sonder haar sou gewees het nie.”

Die egpaar het drie dogters: Joy Ross (41), ’n bestuurder by ’n versekerin­gsmaatskap­py, Portia Joel (40), ’n aktrise, en Jessica Dirks (34), ’n onderwyser­es. En hul vier kleinkinde­rs is Cedwyn se hart se punt.

Hy lag. “Die lot gee vir my grys hare en kom met dinge weg waarmee hul ma’s nie weggekom het nie!”

Cedwyn en Portia het al voorheen by Generation­s saamgewerk, en sy is ook deesdae in Suidooster te sien as die sakevrou Lee-Ann Jacobs.

Ja, hy dink soms aan aftree, maar sal ’n besluit daaroor neem wanneer hy 70 is, vertel hy. “Die plan is om dan te kyk of ek nie maar finaal die bedryf kan groet nie, maar ek dink ek sal my vrou by die huis verveel,” spot hy. “Ek moet ook gedurig besig bly en dink nie ek sal kan stilsit nie!” ■

‘Ek voel geëer dat ek kon deel wees van ’n groep mense wat dinge uitgesorte­er het’

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Suidooster.
Cedwyn se dogter Portia Joel volg in haar pa se toneelspee­lvoetspore en is ook in Suidooster te sien as die sakevrou Lee-Ann Jacobs.
Suidooster. Cedwyn se dogter Portia Joel volg in haar pa se toneelspee­lvoetspore en is ook in Suidooster te sien as die sakevrou Lee-Ann Jacobs.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa