Huisgenoot

Ben Kruger se mense oor groot verlies

Die akteur Ben Kruger is onlangs oorlede weens covid-19. Sy vriende en medeakteur­s vertel van hul groot verlies

- Deur JACO HOUGH-COETZEE

OP DIE stel van Binnelande­rs het dikwels trane gevloei wanneer ’n karakter worstel om verlies te verwerk. Maar op Woensdagog­gend 26 Mei was die hartseer tonele wat in die ateljee afgespeel het ánders – en baie rouer. Hierdie keer was die groepie akteurs se smart werklik.

Geen draaiboek kon hulle voorberei op die tyding dat hul medeakteur Ben Kruger die oggend in sy huis in Brooklyn, Pretoria, weens covid-19 gesterf het nie. Hy was 64 jaar oud – nog ’n geliefde wat weggeruk is deur die pandemie.

Met die skielike dood van die veteraan wat die rol van die gewilde oom Okkie Ferreira in die kykNET-sepie vertolk het, is kykers én sy kollegas in rou gedompel.

Vir Hannelie Warren, wat TV-kykers as tannie Ilse Ferreira leer ken het, was Ben meer as net haar TV-wederhelf van die afgelope byna sewe jaar. Hy was ook haar beste vriend.

Die emosies wat nou deur haar spoel, is amper soortgelyk aan dié van ’n vrou wat haar man verloor het.

“Ilse is net ’n karakter, maar daar is ’n stukkie Ilse binne-in my wat reeds haar man mis,” sê sy. “My hart breek vir haar.”

Op Ben se sterfdag was daar “baie rooigehuil­de oë” by Stark Ateljees in Randburg, Johannesbu­rg, vertel Germandt Geldenhuys, wat die rol van Louis Koster vertolk. Die ateljee se bestuur het teen omstreeks negeuur die oggend die skoknuus aan die span oorgedra. Daarna het Germandt en van die ander spelers stel toe gery.

“Daar het ’n gevoel van verslaenth­eid geheers,” vertel hy. “Dit het soos ’n emosionele ineenstort­ing gevoel terwyl ons met mekaar gesels het.

“Ek en Je-ani het mekaar vasgehou en ons het geruk soos ons huil,” vertel hy oor Je-ani Swiegelaar, wat die rol van Naomi vertolk. Ben was haar TV-pa.

Die kykers besef nie dat die hele Binnelande­rs-span agter die skerms soos een familie is nie, sê Germandt. “Dit voel nou vir ons asof ons pa ons verlaat het.”

DIE nuus dat covid-19 die legendarie­se akteur se lewe geëis het, het ook skokgolwe deur die land gestuur. In sy loopbaan van 48 jaar was Ben ’n bekende gesig op die verhoog, silwerdoek en televisie, waar hy in die 1980’s in die reeks Skooldae gespeel het.

Op Maandag 17 Mei, 10 dae voor sy dood, het hy begin siek voel en gekla oor sinus en griepsimpt­ome, vertel Hanneli.

Soos die streng protokol op Binnelande­rs se stel vereis, het hy hom dadelik vir covid19 laat toets, maar die uitslag was negatief. Hy het voortgegaa­n met sy werk, maar die griepsimpt­ome en sy hoesbuie het deur daardie week ál erger geword.

Hannelie onthou sy en Ben het op Vrydag 21 Mei, die laaste dag dat hulle saamgewerk het, agt tonele geskiet.

“Maar hy het toe so gehoes dat hy gesukkel het om te praat,” sê sy. “Ons moes letterlik paragraaf vir paragraaf verfilm.”

Tog het sy nie gedink dit sal hul laaste keer saam voor die TV-kameras wees nie.

Die Maandag is Ben weer vir covid-19 getoets – en dié keer was die uitslag positief. Daarna is al die akteurs saam met wie hy die vorige sewe dae gewerk het ook onmiddelli­k vir toetse gestuur, maar almal se uitslae was negatief.

Die volgende dag het Hannelie ’n paar boodskappe vir Ben op sy selfoon gelos. Toe hy nie daarop reageer nie, het sy Freddie Sauerman, die produksieb­estuurder op die sepiestel, gebel om te hoor hoe dit met Ben gaan.

Dit gaan beter, het Freddie geantwoord. Maar ’n bekommerde Hannelie wou weet: Gaan dit régtig beter?

En toe, net ’n dag later, kom die tyding. “Dit voel so onwerklik,” sê sy nou. “Ek weet nie hoe ek dit gaan hanteer as ek weer moet teruggaan stel toe nie. Om by sy kleedkamer verby te stap en hy sit nie meer daar binne nie . . .”

Haar stem raak weg. Sy en Ben het sedert 2014 teenoor mekaar gespeel as oom Okkie en tannie Ilse, en dis byna ondenkbaar dat sy nou sonder hom vorentoe gaan.

“As twee akteurs so lank saamwerk, leer jy mekaar se maniërisme­s uit jou kop ken en pas julle outomaties by mekaar aan. As die een iets sê of doen, weet die ander dadelik hoe om te reageer en wat gaan volg,” vertel sy.

“Ons sepiehuwel­ik het ook deur baie dippe en dinge gegaan. Ek en Ben het voor elke toneel eers bespreek hoe ons dit gaan aanpak en speel.”

Nou het dit alles skielik sonder waarskuwin­g tot ’n einde gekom. Binnelande­rs se kykers het darem die troos dat oom Okkie nog sowat drie maande op die kassie te sien sal wees omdat die episodes lank voor die tyd opgeneem word.

Hannelie onthou hoe Ben altyd bereid was om van die ander spelers te help. “Hy was ’n mense-mens wat ander net met omgee en respek behandel het. Hy het geluister as ander praat en onthou wat hulle hom vertel het.”

Ook in haar persoonlik­e lewe het hy vir haar raad gegee, veral oor die grootmaak van ’n seun. Hannelie se seun, Michael, was 12 jaar oud toe sy en Ben saam begin speel het.

“Hy het my altyd vertel dat seuntjies anders as dogtertjie­s is. En ai, ek onthou hoe dikwels ek daardie tyd vir hom gevra het: ‘Ben, hoe maak ek nou?’ En dan kom hy met die beste raad vorendag.”

Sy het hom ook dikwels raad oor ’n ryding gevra. “Maar met al sy kennis en liefde vir karre kon hy dan ure aangaan,” onthou sy.

Anders as haar TV-karakter is sy self nie eintlik lief vir ’n kombuis nie, bieg Hannelie. “Ben was ’n meesterkok, en hy sou altyd op stel met sy resepte kom spog. Maar as hy net die woord ‘bestanddel­e’ genoem het, was ek klaar verlore.

“Nou onlangs bring hy vir my ’n resep wat blykbaar net drie bestanddel­e bevat, en dié sou ek na bewering kon maak. Net voor ons vir ’n toneel opstap, sê ek vir hom my volgende man moet ’n sjef wees. Hy haak toe af en sê: ‘Onthou, ek is klaar gevat!’

“Ek het so gelag dat ek nie dadelik met my toneel kon begin nie.”

OOK Germandt onthou die lekker lag saam met oom Ben, sy TV-skoonpa, nog lank nadat hulle klaar ’n komiese toneel geskiet het.

Nadat Germandt se karakter, Louis, in Desember 2019 met Naomi getroud is, keer die paartjie van hul wittebrood terug. Met hul aankoms by hul tuinwoonst­el op Okkie en Ilse se erf breek die bed se poot net toe Louis daarop gaan sit. Op daardie oomblik kom Okkie binne en ’n verleë Louis doen sy bes om dit vir sy nuwe skoonpa weg te steek.

“Dit was vir my een van die mees komiese tonele nog ooit op Binnelande­rs,” onthou Germandt. “Ek en oom Ben het lank daarna nog hieroor gelag.”

Toe sy griepsimpt­ome tydens sy laaste week op die stel vererger, het hy vir Germandt gesê hy dink hy het longontste­king. Sy “asemhaling lê ’n bietjie vlak”, het Ben op sy laaste dag by die ateljee gesê.

‘DAAR HET ’N GEVOEL VAN VERSLAENTH­EID GEHEERS. DIT WAS SOOS ’N EMOSIONELE INEENSTORT­ING’

Germandt wou weet: “Is Oom oukei?”

Toe antwoord die akteur: “Nee wat, maatjie, ek sal hierdeur ook kom.”

Tussen sy hartseer deur raak Germandt ontsteld oor van die dinge wat mense op sosiale media oor Ben se dood kwytraak.

“Daar word mos nou hierdie sameswerin­gsteorieë versprei dat oom Ben dood is omdat hy die inenting gekry het. Dit is absolute bog. Hy het nie die inenting gekry nie,” beklemtoon Germandt.

“Dit maak my en sy familie bitter seer om te lees hoe ander mense oom Ben se dood gebruik om hul anti-inentingsv­eldtog te voer.

“Ons het iemand baie na aan ons verloor; dit is sleg om sulke goed te lees.”

Oom Ben was nie net sy kollega nie, maar ook soos ’n pa vir hom, verduideli­k Germandt.

Hy bly ’n rukkie stil.

“Wag, ek moet eers keer voor ek nou weer emosioneel raak.”

 ??  ?? Die veteraanak­teur Ben Kruger is onlangs onverwags in sy huis in Pretoria aan covid-19 oorlede.
Die veteraanak­teur Ben Kruger is onlangs onverwags in sy huis in Pretoria aan covid-19 oorlede.
 ??  ?? Met ’n loopbaan wat oor 48 jaar gestrek het, was Ben ’n bekende en geliefde akteur.
Met ’n loopbaan wat oor 48 jaar gestrek het, was Ben ’n bekende en geliefde akteur.
 ??  ??
 ??  ?? Ben het in 2012 in Binnelande­rs begin speel. Sy karakter is met Ilse (Hannelie Warren) getroud.
Ben het in 2012 in Binnelande­rs begin speel. Sy karakter is met Ilse (Hannelie Warren) getroud.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa