Hoop en geloof by inentingsentrum
HG het ’n covid-inentingsentrum besoek waar geloof en hoop geheers en alles klopdisselboom verloop het
ONDER die groep mense wat hul weg vanoggend na die gemeenskapsentrum vind, is talle bejaardes. Sommige word in rolstoele nader gestoot; ander stap met behulp van ’n kierie. Die stroom mense raak nie minder nie; steeds kom enigiets van spogmotors tot skedonke aangery om mense hier na Munsieville in Krugersdorp te bring.
Almal is ouer as 60, en almal is hier met een doel: om eindelik hul langverwagte inenting teen covid-19 te kry.
Maar ten spyte van die erns van die saak wat hulle hierheen bring, glimlag die oë wat bo die gesigmaskers uitsteek. Trouens, hier heers ’n gevoel van gedempte afwagting en vrolike verligting.
Want baie van die besoekers is reeds in hul later jare en het in die afgelope jaar selde buite gekom of is vir lang tye van vriende en familie geskei. “Ek was heeltyd angstig; ek is moeg daarvoor,” sê een vrou vir ’n gesondheidswerker.
Maar vandag breek die oomblik eindelik vir hierdie groepie aan waar die eerste treë geneem word na ’n hoofstuk anderkant die alomteenwoordige vrees vir die lewensbedreigende infeksie.
Nes by sommige klinieke, gemeenskapsentrums en apteke elders in die land mag mense wat ouer as 60 is en reeds geregistreer het om die inenting te kry nou hier kom aanmeld vir die entstof.
Al die bangmaakpraatjies en samesweringsteorieë oor die covid-entstof pla dié groep min – hulle is net bly dat hulle eindelik beskerming teen die virus kan kry.
“Twee van my nabye vriende is oorlede aan die verdomde virus. As daar net ’n klein kans is dat ek nie so siek soos hulle word nie, dan gaan ek dit vat,” vertel Sheila Henning (76), ’n oudmakelaar van Rant-En-Dal in Krugersdorp wat ook haar beurt hier in die ry afwag.
Nes baie van die mense hier is sy deur haar kinders gebring om haar eerste 0,3 ml-dosis van die entstof Pfizer-BioNTech te kry. Oor ’n maand moet sy vir haar tweede dosis kom.
Die Suid-Afrikaanse inentingsveldtog het in Februarie begin, met gesondheidsorgwerkers boaan die lys. Tot dusver is net oor ’n miljoen Suid-Afrikaners ingeënt teen covid-19 en net oor 3 miljoen bo 60 is geregistreer om die entstof te ontvang.
Maar die mense hier in Munsieville is vandag dankbaar. “Polio, witseerkeel, pokke . . . dié siektes was gevrees op hul dag, en ons kon dit oorkom danksy inentings,” sê Louis Kok (74). “Ek glo en hoop met dié sal dit dieselfde wees.”
HIER in die parkeerterrein van die gemeenskapsentrum staan die stoele 1,5 m uit mekaar gepak – streng volgens die sosialeafstandmaatreëls teen die virus. Jy soek verniet na tekens van ongeduld by die mense wat in die lekker matige wintersonnetjie sit en wag op hul beurt om in te gaan.
“Ons het dit ge-time. Dit vat hulle 10 minute, dan kom haal hulle die volgende klomp van ons,” sê Christo Wiid (66) opgewek.
Die afstand tussen die stoele en die gesigmaskers maak dit moeilik vir mense om te gesels, maar vra jy uit, hoor jy dieselfde refrein van dankbare opwinding.
“Ja, daar is mense wat skepties is oor die entstof,” erken Christo. “Maar ek sê net vir hulle: ‘Kyk hoeveel duisende hier en elders is al ingeënt, en daar is geen merkwaardige probleme nie.’ ”
Op die volgende stoel in die ry het Frans van den Berg (65) ’n meer filosofiese uitkyk. “Dis soos belasting betaal; jy moet dit maar net doen,” laat hoor hy.
Hy vertel hy het danksy verlede jaar se omstrede rookverbod eindelik dié lewenslange gewoonte gestaak. “Ek het net geweier om die belaglike swartmarkpryse te betaal. Ons spaar nou dié geld elke maand. Dis byna R1 200, weet jy,” sê hy met ’n klap op sy knie.
“Nou kan ons lekker wildtuin toe gaan met dié geld,” voeg sy vrou, Bets (63), by, “én ons is meer gerus oor die virus!”
Dan word ons onderbreek, want die groep in die parkeerterrein word inderdaad ná net 10 minute se wag na die saal geroep – nes Christo gesê het.
Binne word elkeen se bloeddruk en suikervlak eers gemeet. ’n Gesondheidswerker kyk of elkeen wel op die regering se inentingswebtuiste geregistreer is. Indien nie, word dit op die plek gedoen.
Min van vandag se besoekers het al ’n SMS van die owerhede ontvang om te laat weet hulle kan die entstof kry omdat hulle reeds registreer het. “Dit was eintlik stil, toe vra ons mense om mekaar te laat weet, en nou kom hulle,” vertel een verpleegster.
Thsepiso Mogale, ’n gesondheidswerker, toets die mense se suikervlakke voor hulle die inenting kry. “Ons vind dat baie mense nie eens weet hulle het hoë bloeddruk of suiker nie. Ons roep die dokter of ons stuur hulle na die kliniek as dit baie hoog is.”
Op dié manier word ander gesondheidsraad sommer ook uitgedeel.
Bennett Masinga (68), ’n afgetrede onderwyser van Munsieville, is een van dié wat moet hoor sy bloeddruk is hoog. “Ek gaan elke drie maande na my dokter toe, maar ek het hom gevra om een van my pille te verminder. Dis dalk hoekom dit nou hoog is,” vertel hy.
Dr. Maritha Fourie gaan sit by hom en vra watter medikasie hy drink en wanneer laas hy by die dokter was. Gelukkig is sy bloeddruk nie gevaarlik hoog nie en kan hy steeds sy inenting kry.
“Dis die enigste drama wat ons hier het: mense wat nie weet hulle het hoë bloeddruk of suiker nie,” beaam Maritha.
Hier by die gemeenskapsentrum het met Huisgenoot se besoek reeds sowat 2 000 mense die entstof ontvang – ’n gemiddelde van sowat 220 per dag.
Nog ’n verpleegster, Ramatsobane Mahlangu, vertel dis ’n plesier om dit toe te dien. “Almal is regtig vriendelik. So af en toe kry ek iemand wat bang is vir naalde . . . meestal mans! Dan steek ek die naald agter my rug weg en steek hulle voor hulle te veel daaroor kan worry,” vertel sy laggend.
Dan kom sit die volgende mens voor haar en sy verduidelik weer geduldig: “Jou arm gaan dalk ’n bietjie seer wees, en jy kan dalk ’n bietjie moeg en tam voel.”
ALMAL word gemaan om eers 15 minute te wag nadat hulle die inenting gekry het sodat daar seker gemaak kan word dat hulle nie ’n onmiddellike reaksie op die entstof het nie. Eers daarna kan ontvangers huis toe gaan.
“Daar is hy; dis gedaan,” verklaar Pieter Viljoen (67) van Wilropark toe sy wagtyd verby is. “Ons moet vanaand maar ’n vuurtjie aansteek om dit te vier.”
Die dokter lag. “Ek is nou al drie weke hier en die enigste newe-effek was iemand wat gekla het sy ore jeuk!”
Tog is hier ’n siekeboeg indien iemand wel ’n slegte reaksie sou ervaar.
Nou word die brose Hilda Senare (89) in haar rolstoel ingestoot. Sy kan nie meer praat nie en is bang vir naalde, verduidelik haar dogter, Josephine (59). Twee verpleegsters praat vertroostend met haar voor die naald in haar arm gedruk word. “Sorrie, Ouma, sorrie,” sê sy verskonend.
Agterna vertel Josephine: “Ek’s ’n verpleegster en my ma was ook een. Natuurlik wil ons die entstof hê. Nou kan ons rustig wees dat my ma beskerm is; ek het al te veel mense sien doodgaan van dié ding.”
So is elkeen wat die saal verlaat dankbaar – en nie een kla oor ’n seer arm nie.
“En kyk, toe was ons wragtig net ’n uur besig,” sê Christo toe hy en sy vrou hand aan hand wegstap.
En binne ’n uur is daar skielik weer hoop. Registreer by https://vaccine.enroll. health.gov.za/#/ vir die inenting as jy ouer as 60 is. Gaan na sacoronavirus. co.za om jou naaste inentingskliniek te vind.
‘DIE ENIGSTE DRAMA IS MENSE WAT NIE WEET HULLE HET HOË BLOEDDRUK NIE’