Panagio’s se Wildekus-avontuur
Christi en Nico Panagio vertel van hul gesin se Wildekus-avontuur agter die skerms van Survivor SA en hul benadering tot die uitdagings van die covid-inperking
DEUR die jare het dit ’n hoogtepunt van hul gesin se jaarlikse kalender geword. Hulle spring op ’n vliegtuig en laat die beskawing agter om hulle ’n paar maande lank in ’n tropiese paradys met suikerwit strande, wuiwende palmbome en kristalhelder water te vestig.
Daar snorkel, swem en sonbaai Nico (47) en Christi Panagio (43) saam met hul dogters, Evah (10) en Shay (8), soms tot twee maande lank.
En wat stel dié gesin in staat om so lank en uitspattig vakansie te hou?
Wel, vir Nico is dit eintlik allermins vakansie, want tussen alles deur werk hy so hard dat die biesies bewe en moet hy tyd afknyp om saam met sy gesin te baljaar. Sy dae is lank, maar al moet hy voor die kameras bontstaan, sorg hy dat hy ook by sy gesin uitkom.
Nico is al jare lank die aanbieder van M-Net se gewilde reeks Survivor SA, en omdat hy weet dié werk neem hom vir lang tye na afgeleë plekke soos die Filippyne of Samoa, het hy en Christi die besluit geneem dat dié hegte gesin hom sal vergesel. Die kinders word vir dié tydperk uit die skool gehaal en deur Christi onderrig, en Nico hoef hom nie daaroor te bekommer dat sy geliefdes oseane ver van hom af is nie.
Maar verlede jaar het dié vooruitsig byna op die rotse geloop. Net voor die gesin sou vertrek om die agtste seisoen van Survivor SA in die vreemde te verfilm, is die inperking afgekondig. Aanvanklik is die verfilming vir ’n paar weke uitgestel. En die weke het later maande geword. Eers teen die einde van die jaar kon hulle die reeks verfilm, maar hierdie keer nie op ’n verre eiland nie en eerder hier op eie bodem – aan Suid-Afrika se eie Wildekus. Die produk van dié harde werk – waarin deelnemers om ’n kontantprys van R1 miljoen meeding – is nou op ons TV-skerms te sien.
En terwyl Nico weer op ons skerm pronk as die aanbieder van die reeks, kan sy gesin saam met hom terugdink aan die kosbare ervarings wat hulle agter die skerms gedeel het.
ONS ontmoet die glanspaar- tjie in die suidelike voorstede van Kaapstad. Die twee lyk nie ’n dag ouer as toe hulle destyds die rolle van George Kiriakis en Karien Momberg in 7de Laan vertolk het nie. Die paartjie is al 21 jaar saam en 15 daarvan getroud, en verlede jaar se inperking het ook vir hulle ’n nuwe leerkurwe gebring.
“Moeilike tye dwing ons om weer na onsself te kyk, en ons kom gewoonlik beter aan die ander kant uit,” merk Nico op toe ons hom oor die inperking uitvra. “Dit is nes Survivor: Daar is mense wat weet dit gaan moeilik wees, maar hulle staar nogtans die uitdaging in die gesig. Die mense wat by die verandering aanpas en vorentoe beweeg, is dié wat die verste gaan en floreer,” sê hy. “So hoe gaan dit met ons? Ons het oorleef; ons is steeds in die spel!” sê Christi, soos ’n regte Survivor-deelnemer.
Die huidige seisoen is die eerste wat plaaslik verfilm is – in die Oos-Kaap se beeldskone Wildekus, waar die Panagio’s in die Wild Coast Sun in Port Edward gebly het. Hulle en die produksiespan het ’n volle 49 dae saam in die paradys deurgebring. Die reeks is in ’n “covid-19-borrel” verfilm – dit beteken onder streng veiligheidsmaatreëls. Nico en sy gesin moes nes die res van die span ’n tydjie voor die verfilming in isolasie deurbring. Die produksiespan is in kleiner groepe verdeel wat in skofte gewerk het sodat hulle nie te veel onderlinge kontak sou hê nie.
Dié inperkings het ook die Panagio’s se lewe tydens die verblyf beïnvloed. Evah en Shay kon nie met ander gaste se kinders kontak hê nie, so hulle moes van hul hotelvenster toekyk hoe die ander kinders by die Wild Waves Water Park in die swembad rondplas en baljaar.
Vir die kinders was dit moeilik om so te kyk hoe ander speel. Eendag het Evah vir Christi gesê: “Mamma, weet jy watter marteling dit vir ’n kind is om daarna te kyk en nie te kan gaan nie?”
“Ek het vir Christi gesê soms is dit goed om dinge te sien wat jy nie kan hê nie,” vertel Nico. “Dit bou karakter as jy moet leer hoe om daarmee saam te leef. Dit is eintlik ’n bedekte seën, want ons leer hulle om hierdie gevoelens te hanteer.”
Die akteur onthou een aand toe ’n kouefront die omgewing getref en die swaar reën hulle selfs erger as gewoonlik ingeperk laat voel het. Nico wou by die kinders weet of hulle gelukkiger sou voel as hulle solank sonder hom huis toe gaan. “Julle moet besluit of julle gaan bly, maar ek dink dit is beter as julle huis toe gaan,” was sy woorde. “Ons gaan mekaar mis, maar daar kan julle ten minste skool toe gaan en jul maatjies sien.”
Daar was trane, maar klein Shay se woorde het haar ouers se hart vermurwe: “Nee, jy is ons pappa; ons gaan bly.” Nico en Christi het na mekaar gekyk en besluit om deur te druk. “As die kinders gelukkig is, is ons gelukkig,” sê Christi, wat ook die aanbieder is van die VIAmooimaakprogram Die skatties.
Van Maandag tot Vrydag het Christi vir hul dogtertjies, wat in onderskeidelik gr. 3 en 5 is, tuisonderrig gegee terwyl Nico tussen 12 en 16 uur op die stel deurgebring het. Genadiglik is daar hope natuurprag in die Oos-Kaap wat ’n mens kan geniet sonder om in ander mense vas te loop. Die sussies kon dus saam
‘ONS HET OORLEEF; ONS IS STEEDS IN DIE SPEL’
hul ouers in die berge gaan stap en die pragtige strande geniet. Later is ’n opblaasswembad vir hulle in die parkeerterrein opgeslaan. Evah het verjaar terwyl hulle daar was, en hul ouers het haar met rolskaatse verras – waarna sy dae lank op die hotel se terrein op en af geskaats het.
DIE paartjie kan nie uitgepraat raak oor die Wildekus se natuurskoon nie. Al was die weer die eerste drie weke onstuimig, was daar ook verruklike sonskyndae.
“Ek het nou nog die mooiste herinnerings van die Wildekus,” sê Christi. Vir Nico het dit gevoel asof hy tussen die tropiese valleie en eksotiese plante van die Jurassic Park-rolprentreeks was. “Daar is die mooiste berge en ’n ongelooflike rivier wat deur die vallei loop.” Party dae het die gesin bloot in die rivier gaan lê terwyl die water oor hulle vloei.
Die Wildekus se skoonheid staan nie terug vir die veraf bestemmings waar Nico al aan die reeks geskiet het, soos die eiland El Nido in die Filippyne en die Stille Oseaan-eiland Samoa, nie. Hy bied die reeks al sedert 2010 aan.
Maar elke paradys het sy slange, en in die Oos-Kaap is daar geen tekort aan dié reptiel nie. Die omgewing waar hulle verfilm het, is bekend vir onder meer nagadders sowel as groen- en swartmambas. ’n Kundige slanghanteerder was dus dié keer deel van die span.
In teenstelling met hul ander bestemmings, wat dikwels op die ewenaar en dus snikwarm is, kan die omgewing rondom Port Edward nogal koud raak.
Maar ten spyte van al dié uitdagings het geen deelnemers in die jongste seisoen tou opgegooi nie – almal het vasgebyt so lank as wat hulle kon. “Gewoonlik is daar een of twee mense wat regtig wil uit, maar elke deelnemer wou dié keer die spel speel en nie huis toe gaan nie.”
Wanneer die kameras ophou rol nadat ’n deelnemer uitgestem is en Nico die vuur van hul fakkel geblus het, gee hy vir die uitgestemde persoon ’n drukkie om hulle terug in die werklike lewe te verwelkom. Hulle is gewoonlik so broos oor die feit dat die lewensveranderende ervaring verby is dat hulle partykeer in trane uitbars.
Ja, soms was die ure op die stel veel langer, en as deel van die skrywerspan moes hy ook ná die dag se verfilming in hul hotelkamer aan tekste werk. Hy was doodmoeg, erken Nico. “Dit verg ongelooflik baie konsentrasie om die aanbieder te wees. Jy moet heeltyd op die hoogte wees van die veranderings en dinamiek van die spel. Daar vind ook elke dag twee tot drie uitdagings plaas, en jy moet daarop voorberei,” vertel Nico. “Ek sit my bloed, sweet en trane in Survivor.”
“Hy laat dit maklik lyk, maar dis ’n massiewe werk,” sê Christi oor haar man wat al 25 jaar in die vermaakbedryf is. Maar dan herinner sy hom daaraan dat hy dankbaar moet wees hy kan sy droomwerk doen, al is dit veeleisend. “Die werk resoneer met my,” beaam Nico. “Ons is geneig om ons seëninge te vergeet terwyl ons dit het en dit dan te mis as dit weg is.”
SEDERT Nico se ma, Loorita (Lulu), se dood 15 jaar gelede is hul lewensfilosofie om in die hede te leef en elke oomblik te waardeer. “Ons dank God vir elke dag. Ons weet dit is ’n geskenk en nie ’n gegewe nie, en dit is iets wat ons ons kinders op ’n jong ouderdom probeer leer,” sê Nico.
Sowat ’n maand gelede is sy pa en naamgenoot, Nicolaos (75), wat in Premet
toria gewoon het, aan ’n hartaanval oorlede. Dit was ’n groot skok vir hul gesin. “Elke keer dat ek met my pa gesels het, het ek met hom gepraat asof dit die laaste keer is, want ek weet enigiets kan gebeur,” sê Nico. Hy haal sy selfoon uit en wys die laaste WhatsApp-boodskap tussen pa en seun op 18 April.
“Ek is lief vir jou, my pa,” skryf Nico. “Ek is lief vir jou, my seun,” skryf Nic. Christi se oë skiet vol trane. “Dis so mooi,” sê sy. “Dis weer ’n bewys dat die lewe nóú is,” sê Nico oor sy pa se skielike dood. “Daar is tye wanneer die pyn jou hard tref en jou op jou knieë dwing. Al wat ek kan sê, is: Jesus dra my. ’n Mens kan nie die soort benoudheid hanteer nie; jy het iets groters nodig om jou hierdeur te dra.”
Hy het ook oor die afgelope vyf jaar ’n rolprent, Mykonos, geskryf wat hy vanjaar nog wil begin verfilm. Hy is die vervaardiger van die fliek en gaan een van die hoofrolle teenoor Christi en Louw Venter vertolk. “Ek is opgewonde om Christi weer op die skerm te sien,” sê Nico. Dit is die eerste keer dat Christi in ’n fliek te sien sal wees en die eerste keer in 15 jaar dat sy sal toneelspeel.
Sy is deesdae voltyds ma vir hul dogtertjies en doen ook grafiese ontwerp. Al was daar die laaste ruk ander werkgeleenthede, het sy dit van die hand gewys sodat sy by haar kinders kan wees. “Ek kan meer geld maak deur weg van hulle te wees, maar ek kies om by hulle te wees. Dis iets wat vir ons belangrik is. Dit is ’n spesiale tyd in ’n mens se lewe wanneer hulle nog so klein is,” sê Christi.
Evah en Shay is beste vriendinne en baie geheg aan mekaar. Die sussies het eers so twee jaar gelede begin besef dat hul ouers in die openbare oog is toe Nico en Christi dit vir hulle verduidelik het. “Ons maak asof dit niks is nie. By die skool maak mense ook nie ’n bohaai daaroor nie,” sê Nico.
Nico is onder meer die voorsitter van die organisasies Missing Children SA en My Father’s House Community Kitchen, wat hy en ’n pastoor, Shaddie Valayadum, in Maart verlede jaar begin het. “Van Maandag tot Vrydag gee ons tot 3 000 mense elke dag ’n warm maaltyd.
“Om tydens die inperking kos na gemeenskappe te neem was sinvol en het my perspektief gegee,” sê die akteur. “Gemeenskapsdiens betaal nie ’n salaris nie, maar betaal op ander maniere. Ek het soveel by hierdie mense geleer.”
Vanweë sy werk by Missing Children SA is hy ook die ambassadeur en een van die stigters van Trigger, ’n app en noodhulpdiens waarmee mense met die druk van ’n knoppie nooddienste kan ontbied as hulle in die moeilikheid is.
Hy en Christi bedryf ook hul eie koffiekroeg in Kaapstad, Kaló Kafé, Grieks vir “goeie koffie”.
Die inperking het hulle nie net perspektief gegee nie; dit het hulle ook gedwing om alles in hul lewe te herevalueer. Hulle kon miskien nie na ’n tropiese eiland reis nie, maar hulle kon die mooi in hul eie land raaksien en is dankbaar dat hulle mekaar kon hê in die chaos wat 2020 was.
Die geheim vir hul goeie huwelik is immers om met mekaar en met God te kommunikeer, sê Nico. “Ek sou dit nie sonder haar kon doen nie.”
‘DIS ’N SPESIALE TYD IN ’N MENS SE LEWE WANNEER HULLE NOG SO KLEIN IS’
Survivor SA: Immunity Island is Donderdae om 19:30 op M-Net (DStv-kanaal 101). Blaai na bl. 46 om meer te lees oor die deelnemers.