Huisgenoot

“Meermin” van Benoni voel soos godin

-

SY TOL en swaai deur die lug, haar gesig die ene genot terwyl die wind deur haar lang blonde lokke dans en haar helderblou­en-pers visstert sierlik agternaswe­ef. Jy kan maar sê Candice Baker is so tuis op die hoepel waarop sy rondswaai en toertjies uitvoer as ’n meermin in die water.

En die ma van twee van Benoni lyk dan ook pure meermin – kompleet met die lang stert wat styf om haar onderlyf span.

“Daar is net iets bevrydends daaraan. Elke keer wanneer ek my stert aantrek, voel ek bemagtig. Ek voel mooi,” verduideli­k sy haar passie vir die lewe as ’n magiese wese.

Maar selfs vir ’n meermin is die water op ’n koel dag in die Hoëveldse winter hopeloos te koud om in in te duik in die swembad wat hier by haar huis aan die Oos-Rand bedrieglik wink.

Dit is dié dat Candice (48) vandag eerder haar lyf meermin hou op ’n hoepel wat met toue aan ’n groot houtstella­sie hang. Soos ’n wafferse akrobaat voer sy balanseert­oertjies uit, toring hoog in die lug op en dans met haar visstert in die lug.

Wanneer die kwik dit toelaat, baljaar sy – of eintlik haar alter ego, Mermaid Storm – wel gereeld in die swembad. Of soms kies sy koers kus toe.

“Dit is net anders om met ’n meerminste­rt te swem. Dit voel of jy vlieg. Jou bene is basies vasgemaak en jy swem met een enkele vin. Jy moet baie op jou maagspiere staatmaak. Dit is baie soos belly dancing,” vertel sy, haar oë blink van geesdrif.

“Dit is ’n gevoel wat ek nie kan beskryf nie. Ek voel soos ’n godin wanneer ek met my meerminste­rt in die water swem. Dit voel of jy in nagklere of lingerie swem,” voeg sy laggend by.

Vir haar is dit meer as ’n ongewone stokperdji­e; dit is ’n leefstyl.

“Ek beskou myself as ’n profession­ele meermin,” sê Candice, wat ook haar brood as lewensafri­gter en joga-instrukteu­r verdien.

“Dit verg baie oefening, en jy moet ’n passie daarvoor hê.”

HOE het dit gebeur dat Candice ’n gedaantewi­sseling ondergaan en Mermaid Storm geword het? Haar visverhaal het in 2016 begin toe sy ’n video gesien het van ’n Amerikaans­e jogainstru­kteur wat met ’n meerminste­rt ’n paar jogaposisi­es op ’n swaai inneem.

“Ek was dadelik meegevoer. Ek het uit ou hemde vir my ’n stert prakseer en die paar posisies gedoen. Ek het dadelik gehou van hoe dit my laat voel en hoe dit gelyk het.”

Sy het nog meer van haar eerste behoorlike meerminste­rt gehou, wat sy spesiaal by ’n vrou in Gqeberha laat maak het. Dié is bekend vir die meerminste­rte wat sy optower.

Want Candice is nie die enigste meermin in die land nie. Daar is volgens haar ’n hele meermingem­eenskap op sosiale media. En hier aan die Oos-Rand, honderde kilometers ver van die see af, is daar “’n skool meerminne”, soos sy hulle beskryf.

“Daar is sowat vyf van ons wat hier in Benoni en Edenvale woon,” vertel sy.

Sy woon dalk baie ver van die see af, maar dit keer Candice nie om haar droom om as ’n meermin deur die water te klief volledig uit te leef nie . . .

Deur JACQUES MYBURGH Foto’s: ONKGOPOTSE KOLOTI

Sy het die meeste van haar medemeermi­nne aanlyn ontmoet en deur die jogaklasse wat sy aanbied.

“Ek leer ander vroue hoe om meerminne te wees. Dit gaan oor meer as net ’n stert aantrek. Jy moet ook die tegniek leer oor hoe om met ’n groot monovin te swem. Vroue wat aansluit, leer ook hoe om hulself lief te hê. Ek leer die vroue hoe om hul vrese te oorkom en selfvertro­ue te kry,” sê Candice, nou pure lewensafri­gter.

Sy en haar medemeermi­nne kom gereeld bymekaar om langs die swembad in hul vissterte uit te span terwyl hulle aan mengeldran­kies teug.

“Dit is altyd ’n groot sosiale geleenthei­d vir ons. Ons sal baiekeer sommer net hier in ons meerminuit­rustings lekker kuier en saam in die swembad swem.”

Maar die meerminne durf ook graag ander waters aan.

“Ons besoek ook watervalle, neem foto’s daar en swem in die ysige water. Om die een of ander rede is watervalle se water altyd baie koud.”

Hulle gaan gereeld na die Nkwevakans­ieoord naby Pretoria. “Daar is immers ’n legende oor ’n meermin wat daar woon en mense in die water aftrek.”

Verlede jaar voor die pandemie is ’n handjievol vroue saam met haar na Ponta Malongane aan die Mosambieks­e kus.

“Party het meerminvin­ne aangehad en ander het sommer net vir die pret saamgekom,” vertel sy. “Ons het in Mosambiek saam met die dolfyne geswem. Dit was een van die wonderliks­te ervarings van my lewe.”

Candice het ook al as ’n meermin in Zanzibar gaan swem. “Die mense kyk ’n mens altyd vreemd aan, asof jy ’n bietjie

mal is,” lag sy. Tydens verlede jaar se streng inperking kon Candice nie soos gewoonlik as Mermaid Storm aan die kus van KwaZulu-Natal lyf natmaak nie.

“Ek het voor die inperking minstens een keer per maand see toe gegaan en vroue saamgeneem wat meerminne wou wees of joga wou doen. Ek kombineer altyd die twee,” vertel sy.

Maar dit het Mermaid Storm nie gestuit nie. “Ek het steeds hier by die huis as ’n meermin in die swembad geswem.”

Haar twee dogters, Amber (20) en Tamica (18), het dan ook hul meerminste­rte oor hul baaikostuu­ms aangetrek en saam met hul ma langs die swembad gekuier.

So passievol is Candice oor haar ander lewe as Mermaid Storm dat sy al met vyf

vissterte van materiaal spog. En onlangs het sy vir haar ’n silikoonst­ert bestel waarvoor sy haar sak met ’n volle R25 000 moes skud.

“Soos met enige sport of stokperdji­e moet jy geld daarvoor uithaal,” sê sy. “Jy moet seker maak dat jy behoorlike toerusting het wanneer jy in die see swem, want enigiets kan gebeur, en jy moet met jou stert uit ’n seestroom kan swem.”

DIS nie net in die seewater wat Mermaid Storm ander baaiers se oë laat rek nie. “Kinders is mal oor my. Ek doen ook kinderpart­ytjies, en die kinders het altyd die oulikste vrae. Hulle vra my wat ek eet, dan sê ek vir hulle soesji en seewier, of dat my kêrel seewier rook.”

Haar kêrel, Neil Cronje (49), ’n man wat viertrekvo­ertuie bou en restoureer, help haar by partytjies. “Wanneer ek my meerminste­rt aanhet, dra hy my rond wanneer ek moet beweeg. Hy is baie in sy noppies dat hy met ’n meermin uitgaan,” vertel Candice.

Meerminwee­s is vir haar meer as net ’n stokperdji­e. “Ek bemagtig ander vroue met Mermaid Storm, en ek genereer ’n inkomste as ’n meermin.

“Ek gaan in Augustus saam met ’n ander meermin na die Suidkus toe. Ons gaan daar saam met die walvisse swem. Ek sien baie uit daarna en hopelik het ek teen daardie tyd ook al my silikoonst­ert.”

Ingenome vertel sy dat sy haar eie mantra het: “Moenie in iemand anders se boksie lewe nie. Leef jou eie lewe voluit. Vier jou eie uniekheid.”

Of dit dan nou met of sonder ’n pragtige visstert is . . .

‘EK LEER ANDER VROUE OM MEERMINNE TE WEES. DIS MEER AS NET ’N STERT AANTREK’

 ??  ?? Candice Baker, oftewel Mermaid Storm, voel soos ’n regte meermin. Sy sal gereeld haar meerminste­rt aantrek en joga doen of langs die swembad baai.
Candice Baker, oftewel Mermaid Storm, voel soos ’n regte meermin. Sy sal gereeld haar meerminste­rt aantrek en joga doen of langs die swembad baai.
 ??  ?? LINKS: Candice het ook meerminvri­endinne. Hulle kom gereeld bymekaar om in hul meerminste­rte langs die swembad drankies te drink – nes regte meerminne. REGS: Candice durf ook ander waters aan. Sy het onlangs in Mosambiek saam met dolfyne geswem.
LINKS: Candice het ook meerminvri­endinne. Hulle kom gereeld bymekaar om in hul meerminste­rte langs die swembad drankies te drink – nes regte meerminne. REGS: Candice durf ook ander waters aan. Sy het onlangs in Mosambiek saam met dolfyne geswem.
 ??  ?? Candice sê om ’n meermin te wees is meer as net ’n stokperdji­e; dis ’n leefstyl.
Candice sê om ’n meermin te wees is meer as net ’n stokperdji­e; dis ’n leefstyl.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa