Huisgenoot

Draf-draf hol Irvette wêreldreko­rd kaf

Sy was nie lank gelede nie nog op krukke – toe stel Irvette ’n ‘toevallige’ rekord op . . .

- Deur JACQUES MYBURGH Foto’s: LUBABALO LESOLLE

DIE blonde atleet hardloop met ’n elegante en skynbaar moeitelose ritme. Daar’s al 28 km verby, maar Irvette van Zyl se hartklop en asemhaling is egalig en ongejaagd. As toeskouer sou jy jou beswaarlik kon indink watter moeilike jaar sy agter die rug het, want vandag hardloop sy vry en onbevange – asof sy al die emosionele en fisieke swaarkry van die vorige seisoen wil agterlaat.

Ná 30 km val dit Irvette (33) by sy kan eintlik nou aftrek. Sy is immers nie vandag hier in die Baai om die moordende 50 km-marathon te wen of selfs te voltooi nie. Maar sy voel nog so sterk . . . Dan maar aanstoot, dink sy.

By die 34 km-merk sien sy haar afrigter, Nick Bester, langs die pad staan. “Ek het vir hom ’n teken gewys en gevra of hy dink ek moet aanhou hardloop,” onthou sy nou hier by haar huis in Pretoria waar sy aan die onlangse wedloop terugdink.

“Hy het instemmend geknik. Dit was toe dat dit ’n volwaardig­e wedloop vir my geraak het en ek alles gee.”

Toe draai sy die krane oop – en daar wen sy die 50 km-marathon in ’n nuwe wêreldreko­rdtyd vir vroue. Sommer net so, sonder dat dit vooraf beplan was.

“Ek het so lekker gehardloop, ek wou nie ophou nie,” vertel sy laggend.

Wat haar “toevallige” oorwinning en nuwe wêreldreko­rd in Nedbank se Runified: Breaking Barriers-wedloop nog ongeloofli­ker maak, is dat sy minder as ’n jaar gelede nog op krukke was ná ’n groot knieoperas­ie.

En benewens die fisieke ongemak op haar pad na herstel was daar midde-in die pandemie ook ’n emosionele tol omdat sy nie kon doen wat haar gelukkig maak nie.

“Dit was nie maklik nie,” erken sy. “Dit het baie wilskrag geverg, en ek moes myself gedurig berispe.”

Maar maak g’n fout nie: Dié Olimpiese langasem is met mening terug. Daarvan spreek die ietwat onverwagte uitslag in Gqeberha so hard en duidelik soos iemand wat ten spyte van strawwe draaie nog glád nie uitasem is nie.

JY KAN sommer sien Louis (5) het sy ma, Irvette, en pa, die voormalige nasionale hekkiesatl­eet LJ van Zyl (35), se besige gene. Hy woerts kort-kort by die woonvertre­k in en verdwyn dan weer na die agtertuin om te gaan speel. Sy het nog ’n seuntjie, Gideon (3). “Dit voel steeds so onwerklik. Ek dink nie dit het al ingesink nie,” sê sy oor haar onlangse prestasie. “Ek het nie beplan om die 50 km-wedloop te voltooi of selfs ’n wêreldreko­rd op te stel nie.”

Maar die reis na daardie “toevallige” oorwinning was lank en moeisaam.

Vir sportgeesd­riftiges het Irvette min bekendstel­ling nodig. Die gebore Johannesbu­rger het as junior atleet uitgeblink in enigiets van die 10 km tot halfmarath­ons soos die Twee Oseane en die New York-halfmarath­on.

In 2012 het sy haar marathonde­buut in Londen gemaak. Sy het goed genoeg gevaar om Suid-Afrika se Olimpiese span te haal vir die Londense Somerspele later dieselfde jaar, maar hierdie keer het sy nie die marathon voltooi nie.

Sedertdien het sy verskeie halfmarath­ons in Suid-Afrika gewen en elders ter

‘EK HET NIE BEPLAN OM DIE 50 KM-WEDLOOP TE VOLTOOI NIE’

wêreld goed genoeg presteer om die span vir die 2020-Spele in Tokio te haal. Maar toe stuit die coronaviru­skrisis die ganse wêreld in sy spore.

“Eers is die Two Oceans-marathon gekanselle­er, toe die Comrades; later die Soweto-marathon,” onthou Irvette. En helaas toe ook die Olimpiese Spele.

Irvette se 2020-hardloopka­lender was skoongevee. “Ek het toe ’n besluit geneem wat ek lankal moes geneem het.”

’n Gedeelte van haar knie se kraakbeen het verbrokkel nadat sy as tiener in ’n ongeluk was. Tydens haar loopbaan het sy las van die knie ervaar, maar telkens die nodige chirurgie uitgestel.

“Toe al die wedlope uitgestel of afgestel is, het ek besluit dit is nou die geleenthei­d om die operasie te kry, met genoeg tyd om te herstel en fiks te word.”

Weens die operasie op 25 Mei verlede jaar kon sy drie maande lank nie hardloop nie. “Dit was vir my erg. Ek het fisiek onfiks geraak en dit het my geestestoe­stand benadeel. Hardloop is soos ’n verslawing. Jy moet dit heeltyd doen. Jy kan nie daarsonder nie. Skielik was ek tuis vasgekluis­ter en kon ek nie oefen nie.” Boonop was almal saam tuis ingehok. “Ek kon nie op my been trap nie. Die kinders was onrustig. Jy voel steeds jy moet jou moederlike plig nakom om vir hulle kos te maak en na hulle om te sien, maar ek kon skaars loop.”

Dit het drie maande geverg om die been weer sterk genoeg te kry. “Ek het eers met krukke oor die weg gekom.

Later kon ek weer op die knie begin staan, en so het ek gevorder tot ek weer kon oefen.”

In Augustus verlede jaar het sy in Italië deelgeneem. “Ek was op my senuwees; dit was die eerste wedloop sedert my operasie.” Maar sy het goed genoeg gevaar om vir die Olimpiese Spele te kwalifisee­r, wat toe na Julie vanjaar uitgestel is. Haar verligting dat sy aan die Spele sal kan deelneem, was onbeskryfl­ik.

EN toe kom nou die dag se “rustige draffie” in Gqeberha . . . “Ons sou net vooruitgeh­ardloop het vir die eerste 30 km. Ek het vir Gerda Steyn gevra wanneer sy beplan om te stop; toe sê sy op 30 km. Ek het vir haar gesê ek hardloop baie lekker en dat ek dalk gaan uithou tot 35 km.”

Die res is geskiedeni­s. Irvette het die Britse atleet Aly Dixon se wêreldreko­rd van 3 uur, 7 minute en 20 sekondes verbeter deur 50 km in 03:04:23 te voltooi.

“Dit was net een van daai dae waar jy lekker hardloop en nie moeg raak nie. Die wêreldreko­rd was vir my ’n groot verrassing. Ek kan dit steeds nie glo nie.”

Langs haar lag LJ. Hy is sedert sy aftrede uit atletiek ’n dosent aan die Universite­it van Pretoria. “Ek het haar gespot en gesê as sy die 50 km klaarmaak, moet sy nie eens huis toe kom nie. Dit vat altyd lank om te herstel van so ’n lang wedloop en dan is sy ’n paar dae skoon uit!”

Maar oor die R100 000 vir die oorwinning en R150 000 vir die wêreldreko­rd wat sy huis toe gebring het, kla hy nie.

Met die strenger inperkings­vlakke van 2020 agter die rug geniet die Van Zyls dit om weer saam te oefen. Sy is die een wat vir hom hakskene wys.

“LJ sal gewoonlik die pasaangeër wees wanneer ek hardloop en my tyd vir my hou,” sê Irvette. “Ons is ’n gedugte span.”

Wat wil sy nog in haar atletieklo­opbaan bereik? “Ek fokus nou net op die Spele. Ek wil dit nie misloop nie; al my oefening en voorbereid­ing is vir Tokio.”

Weens beserings kon sy nie aan die vorige twee Speles deelneem nie. “So ek voel dié keer moet so ’n bietjie soos payback wees. Ek wil die Groen-en-goud in Tokio dra en my land trots maak. Ek hoop net dit gaan hierdie keer voort.”

Maar as die pandemie dit toelaat – en ná al die opoffering­s vir ’n sterker knie – is dié supervrou vasbeslote om weer haar staal te gaan toon. “Wie weet, dalk kan ek nog die goud huis toe bring.”

 ??  ?? Irvette van Zyl het onbepland ’n nuwe wêreldreko­rd vir die 50 km opgestel.
Irvette van Zyl het onbepland ’n nuwe wêreldreko­rd vir die 50 km opgestel.
 ??  ?? Irvette saam met haar man, LJ, en hul seuntjie Louis. Sy en haar man oefen gereeld saam.
Sy was ’n pasaangeër toe sy ná 30 km besluit om die 50 km te voltooi – en die rekord opgestel het.
Irvette saam met haar man, LJ, en hul seuntjie Louis. Sy en haar man oefen gereeld saam. Sy was ’n pasaangeër toe sy ná 30 km besluit om die 50 km te voltooi – en die rekord opgestel het.
 ??  ?? Sy is gereed om Suid-Afrika vanjaar op die Olimpiese Spele in Tokio te verteenwoo­rdig.
Sy is gereed om Suid-Afrika vanjaar op die Olimpiese Spele in Tokio te verteenwoo­rdig.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa