Ketani-gesin:“Disg’ngeregtigheid”
Die polisiebroers wat vrygespreek is nadat hulle in die tronk was weens die moord op Betty Ketani wil die staat hof toe sleep – maar haar kinders het min simpatie met hulle
EENDAG 22 jaar gelede het sy ma hom en sy jonger sussies in Komani (toe nog Queenstown) gegroet en terug na die verre Goudstad gereis, waar sy haar en haar behoeftige familie onderhou het so goed sy kon. Hulle het haar nooit weer gesien nie. Twee maande ná daardie afskeid in 1999 het Betty Ketani (37), wat as sjef by die Cranksrestaurant in Rosebank gewerk het, spoorloos verdwyn. En die volgende 12 jaar het die vraag by Thulani gespook: Wat het met my ma gebeur?
Thulani (toe 18) het geweet iets verskrikliks moes gebeur het, vertel hy vandag. “Sy was ’n toegewyde ma; sy sou nooit my en my sussies, Bulelwa (13) en Lusanda (7 maande), sommerso verlaat het nie.”
Jare lank het Betty se Oos-Kaapse familie na haar gesoek so goed hul vermoëns dit toegelaat het. Later het hulle moed opgegee en net probeer oorleef ondanks werkloosheid en die trauma van ’n gebroke gesinslewe.
Maar in 2012 word ’n handgeskrewe bekentenis toevallig onder ’n mat in ’n Johannesburgse huis gevind – en soos in ’n misdaadriller word Betty se wrede einde oplaas oopgevlek.
Vir Thulani (nou 40) was sy ma se grusame einde erger as sy wildste nagmerries. Nadat sy ontvoer en aangerand is, is sy naby ’n besige pad in die Vaaldriehoek buite Vereeniging vir dood agtergelaat. Verbygangers het haar lewend gevind en na die Kopanonghospitaal in Vereeniging geneem – waar sy glo ’n tweede keer ontvoer is.
Hierdie keer het sy nie oorleef nie. Sy is vermoedelik weens hipotermie dood nadat sy oornag in ’n ou bus toegesluit is. Haar lyk is toe begrawe in die erf van een van haar ontvoerders, Conway Brown – wie se bisarre versteekte bekentenisbrief 12 jaar later gevind sou word.
Maar Betty se oorskot was nie meer daar nie. Haar moordenaars het haar beendere glo sewe jaar tevore opgegrawe en by ’n vullisterrein weggesmyt.
Weens die brief is ses mans aangekeer en verhoor – twee van hulle die broers David en Carel Ranger wat voorheen saam in die polisiediens in die Vaaldriehoek gewerk het.
Thulani vertel dit was destyds “bitter swaar” om in die hof na al die grusame getuienis te luister. “Ons was verlig toe hulle tronk toe gestuur is.”
Maar Huisgenoot het onlangs berig oor nog ’n kinkel in dié riller.
Die Rangerbroers is in 2019 vrygelaat nadat hulle ’n paar jaar van hul vonnis vir Betty se moord uitgedien het.
Die rede vir die vrylating?
David (46) en Carel (37) het suksesvol teen hul skuldigbevinding appèl aangeteken en hou vol hulle was onskuldig aan die moord op Betty. Daarom wil hulle nou skadevergoeding eis van die nasionale vervolgingsgesag.
Vir Betty se kinders is dit nuwe sout in hul wonde.
Vir die Rangerbroers se trauma – omdat hulle glo onskuldig saam met geharde misdadigers opgesluit was en nou nie werk kan kry nie weens die stigma van hul tronkstraf – het hulle min simpatie.
“Ek voel baie kwaad, want dit is nie die geregtigheid wat ons vir ons ma nodig gehad het nie,” sê Lusanda (nou 23). “Ons het nooit eens haar oorskot ontvang om te begrawe nie, maar daardie mans is uit.”
THULANI vertel sy ma se verdwyning het ’n leemte in sy lewe gelaat wat nooit gevul kan word nie. In die tyd toe Betty vermis geraak het, het sy reeds sowat ’n jaar in Johannesburg gewoon, want op die Oos-Kaapse platteland was daar bitter min werk en geleenthede. Soos so baie ander vroue wat alleen vir haar kinders moes sorg, is sy deur die Goudstad se beloftes aangetrek.
Haar kinders het sy by haar suster, Lilly Vuyokazi Bikaur, in Komani agtergelaat.
Thulani onthou steeds glashelder die laaste keer toe hy sy ma gesien het. Net twee maande voor haar verdwyning het sy vir ’n kort rukkie in Komani kom kuier.
Hulle het gesels oor die tradisionele Xhosaplegtigheid wat hy binnekort in die berge saam met ander tienerseuns van sy ouderdomsgroep sou ondergaan; hoe hy daarna ’n man sou wees. “Toe is sy terug Johannesburg toe en het sy verdwyn,” sê hy.
Hulle het probeer aanvaar dat hulle haar nooit weer sou sien nie toe die skoknuus kom oor die bekentenisbrief van Brown – wat later saam met twee ander beskuldigdes staatsgetuie sou draai teen die Rangerbroers.
Die hof het later gehoor Betty se moordenaars is glo deur die eienaars van die Cranksrestaurant, waar sy gewerk het, gehuur omdat sy volgens hulle geld gesteel het.
Die feite oor Betty se grusame einde het haar familie hard getref. In dieselfde jaar is hul tannie Lilly ook oorlede. Thulani glo dis weens skok oor wat met haar suster gebeur het.
Dit was op meer as een vlak ’n baie moeilike tyd vir Lusanda, toe net 14. Sy het grootgeword onder die indruk dat Lilly haar ma was – maar toe moes sy hoor dit was ’n leuen om haar te beskerm teen die feit dat haar eie ma spoorloos verdwyn het. “Ek het leeg gevoel. Die vrou wat ek gedink het is my ma, was dit nie. En terselfdertyd moes ek hoor my biologiese ma is wreed vermoor.”
In 2016 – die jaar toe die Rangerbroers gevonnis is – is sy en haar sibbes na die presiese plek in Vereeniging waar hul ma dood is in ’n poging om afsluiting te kry. Hulle het ’n leë kis en ’n doringboomtak saamgevat en haar gees geroep om saam met hulle huis toe te gaan, Komani toe.
Maar vandag het hulle steeds nie vrede oor haar dood nie, erken Thulani.
“Nadat die saak geëindig het, het ons niks anders gehad om te doen nie. Ons het nie ouers nie en ons drie bly alleen. Dit is baie moeilik,” sê hy.
IIN 2009 is ’n siekte by Thulani gediagnoseer wat tot kanker oorgegaan het. Hy bly steeds in Komani by sy susters en hul kinders. Lusanda, wat ook werkloos is, het twee seuns (7 en 4). Bulelwa, wat by ’n supermark werk, het tweelingdogters (8).
Thulani haat dit dat hy op sy susters moet staatmaak en sê hy voel nutteloos oor hy nie kan werk nie.
“As die oudste het ek pligte. Ek moet ook sekere seremonies doen, soos ’n koei slag en ’n grafsteen oprig, en ek voel nutteloos, want ek is nie gesond en liggaamlik in staat om dit te doen nie,” sê hy.
Lusanda erken sy is steeds woedend oor alles wat gebeur het. “Ek is bitter, en dit raak my lewe op ’n negatiewe manier tot die punt waar ek depressief is.”
Thulani sê hy kan nie anders as om te dink watter wonderlike ouma Betty sou gewees het nie.
“My ma was ’n hardwerkende mens. Sy het ’n goeie hart gehad, en elke keer as sy in die omtrek was, was almal gelukkig. Ek sal seker maak ek vind ’n manier om haar te onthou, elke jaar van my lewe vir so lank as wat ek leef, want sy was ’n goeie ma. Sy leef vandag steeds in my hart.”
‘EK IS BITTER, EN DIT RAAK MY LEWE OP ’N NEGATIEWE MANIER’