Sondemetdiebureoorbouery
Sonde met die bure – oor ’n bouery. ’n Kaapse egpaar het hul buurman hof toe gesleep oor ’n tamaai motorhuis wat hy wil bou
MENIGE man se motorhuis is ’n spesiale plek waarin hy sy speelgoed bêre. Maar vir ’n Kaapstadse paartjie is hul buurman se planne om ’n saal van ’n motorhuis te bou – glo om twee karre, ’n minibus, motorfiets, kwadfietse en sleepwaens te huisves – darem net een te veel.
Jason (42) en Julia (40) Lind glo trouens hul buurman, Karl Markwald, se “buite verhouding groot” motorhuis van ’n volle 227 m² is ’n rookskerm om ’n groter woonhuis te bou as wat munisipale regulasies toelaat. En so ernstig voel hulle daaroor dat hulle Karl na die hooggeregshof in Kaapstad gesleep het.
Regter Ashley Binns-Ward het toe ook verlede maand Karl se bouplanne tersyde gestel, maar die Linds vrees dié oënskynlike oorwinning is nie die einde van die saak nie. “Ons het dalk die geveg gewen, maar nie die oorlog nie,” sê Julia.
Want daar’s ’n kinkel: In sy uitspraak stem die regter saam dat Karl se beoogde totale woonhuisoppervlak te groot is in die dispuut rondom die motorhuisarea, maar hy kon nie ’n bevinding maak oor die grootte van die motorhuis as sodanig nie – dis die metroraad se werk.
En Karl kan sy bouplanne weer aan die metroraad voorlê vir goedkeuring, mits hy aanpassings in die planne maak sodat dit binne bouregulasies val.
Ingevolge bestaande munisipale wetgewing word jou motorhuis nie ingereken by die totale grondoppervlakte wat jou woonhuis beslaan nie – dié twee is afsonderlik.
Op Karl se bouplan het die stadsraad hom raad gegee om dele van die omstrede 227 m² “bergplek” te noem, sê hy. Volgens die uitspraak kan dié dele nie by die totale oppervlakte van die huis afgetrek word as dit nie vir die bergplek van motors gebruik word nie.
Karl meen as hy van die begin af “bergplek” eerder “bergplek vir motors” genoem het, sou dit as ’n motorhuis gekwalifiseer het.
En by navraag bevestig Karl hy gaan nie nou die troffel neerlê nie. “Daardie huis is sedert 1999 my veilige hawe in die stad. My dogter is in daardie huis gebore. Ek probeer hierdie huis nou al jare lank bou, en ek het agteroor gebuig vir die Linds,” sê Karl, die eienaar van ’n maatskappy wat sagteware vir skoonheidsmaatskappye ontwerp.
Op hul beurt ontken die Linds hul buurman se bewerings dat hulle net oor hul uitsig op die see bekommerd is. Maar wat is dan die probleem? “Ek gaan dit probeer verduidelik op ’n manier sodat ons nie half mal klink nie,” sê Jason. “Dit gaan oor die beginsel. Riglyne en munisipale wetgewing is daar sodat ontwikkelings gedoen word in lyn met ’n sekere voorkoms, gevoel, grootte en proporsie. Wanneer jy ’n situasie kry waar die stadsraad sekere dinge miskyk, en iemand grense skuif, kan jy ’n gebou kry wat twee keer so groot is as wat dit veronderstel is om te wees,” sê Jason.
“Die gebou is te groot, en hy gebruik die motorhuis om daarmee weg te kom.”
DIE Lind-egpaar het hul pragtige huis teen die hange van Vlaeberg met sy uitsig op Groenpunt en die see in 2014 gekoop. Jason is ’n eienaar van fietswinkels in Kaapstad en het ’n meestersgraad in eiendomsontwikkeling. Julia werk in die bankwese.
Ironies genoeg was die huis se oorspronklike naam Harmony, vertel Julia. “’n Bejaarde vrou het 50 of 60 jaar lank hier gewoon. Haar man is drie jaar tevore oorlede en die plek het baie sleg gelyk. Die verf het van die mure afgedop.”
Saam het hulle baie werk ingesit om dit weer ’n spoghuis te maak. Hulle is gelukkig hier, maar die langdurige twis met Karl eis ’n tol. “Om met jou buurman te baklei is aaklig en veroorsaak baie
‘DIE GEBOU IS TE GROOT, EN HY GEBRUIK DIE MOTORHUIS OM DAARMEE WEG TE KOM’
angstigheid,” sê Julia.
“Ons gaan beslis nie by hom suiker leen nie!” sê Jason en lag.
Hy beweer die probleme het begin nadat Karl in 2012 bouplanne ingedien het wat destyds goedgekeur is, maar nie die grondvlak – waar die huis se oorspronklike motorhuis was – aangedui het nie.
“Dit was die eerste verkeerde voorlegging. Dit het hom in staat gestel om dele van die huis hoër te bou en dinge te doen wat hy nie moes nie. Ons kon niks daaraan doen nie, want toe ons hier ingetrek het, was die planne reeds goedgekeur.”
Maar toe Karl in 2014 kragtens nuwe munisipale wetgewing weer planne indien, het die Linds hul eerste hofsaak gemaak en die partye het volgens ’n ooreenkoms die planne tersyde gestel.
In 2018 het hy weer nuwe planne ingedien, wat eers in Januarie 2020 goedgekeur is, maar hy het nooit ophou bou nie. Volgens Jason was dié aanbouings reeds baie groter as op die goedgekeurde 2012-plan.
Julia sê hulle moes herhaaldelik dinge wat van die bouplanne afwyk vir die metroraad se bou-inspekteur uitwys, maar dit was dan gewoonlik te laat.
“Die Kaapse stadsraad hou nie daarvan om slopingsbevele uit te reik nie,” vertel Jason. Die Linds vrees hierdie patroon sal ten spyte van die huidige hofuitspraak voortduur.
“Daar is baie dinge wat hy kan doen om aan wetgewing te voldoen,” sê Jason. “Hy kan ’n bietjie wegvat hier en daar, maar die vraag is of hy sal. Ons het met hom probeer praat, maar hy het twee jaar gelede al vir ons gesê: ‘Die skip vir onderhandeling het reeds geseil.’ ”
Karl kap terug en sê hy het herhaaldelik met hulle in gesprek probeer tree.
Julia vertel mense vra hulle dikwels hoekom hulle hierdie uitmergelende stryd voer. “Ek is ’n beginselvaste persoon; ek glo in reg en verkeerd.”
Jason beaam: “Dit sal ons selfs meer irriteer om langs iemand te bly as ons weet ons het hom met iets laat wegkom.”
KARL hou vol: Die enigste probleem met die bouplan was die naam van die gewraakte area. “As ons op die bouplan ‘voertuig-bergplek’ en nie net ‘bergplek’ geskryf het nie, het hierdie saak nie bestaan nie.”
Hy is van plan om dit reg te stel sodat die beoogde bouwerk kan voortgaan.
Hy ontken dat hy probeer om ’n huis te bou “wat so groot moontlik is” en munisipale wetgewing oorskry. Hy hou vol: Die totale vloergrootte en alle bouwerk tot dusver is binne die goedgekeurde planne van 2012 én 2014, voor die 2014-planne tersyde gestel is.
Die onderste vlak van die huis, sê hy, was nie op die 2012- en 2014-planne aangedui nie omdat hy dit met grond laat vul en sodoende die grondvlak opgeskuif het. Volgens hom het wetgewing hom toegelaat om dit te doen.
“Wat hulle beweer, is nie korrek nie. Die Linds se probleem is oor die uitsig, maar ongelukkig kan jy nie ’n uitsig beskerm nie. Ek sal graag met hulle in gesprek wil tree sodat ons die saak as goeie bure kan oplos. Hierdie saak plaas druk op albei kante.”
So wat is in ’n woordjie? Skynbaar sowat 277 m². . .
Die Stad Kaapstad neem kennis van die hofuitspraak, sê Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing. “Die bouplan sal weer oorweeg word en die vereistes van die nasionale bouregulasies, toepaslike wette en die uitspraak van regter Binns-Ward sal in ag geneem word.
“Dit is voortydig om kommentaar te lewer oor slopingsbevele aangesien die planne terugverwys is na die stadsraad.
“Die Stad Kaapstad kan en sal slopingsbevele uitreik wanneer dit nodig is en ander prosesse onsuksesvol was.”
Volgens haar het Karl voor die onlangse litigasieproses wel aan bouinspekteurs toegang tot sy eiendom geweier op grond van die voortslepende coronaviruskrisis.