Huisgenoot

’n Grobbelaar­nooi in Hollywood

Daar is nie ’n plan B nie, vertel dié Grobbelaar-nooi. Om karakters te vertolk in Hollywood is iets wat sy nog altyd wou doen

- Soos vertel aan CARLA COETZEE ANNA GROBBELAAR (21), ASPIRANTAK­TRISE IN DIE VSA

DIT was baie scary toe ek daardie eerste keer alleen na Los Angeles in Amerika toe getrek het. Dit was in 2018 en ek was 19 jaar oud. Ek het met twee tasse en ’n rugsak op ’n vliegtuig geklim en Hollywood toe gevlieg. Ek het snot en trane gehuil die hele pad hierheen.

Toe ek die eerste keer die “Hollywood” teen die berg gesien het, was ek so opgewonde, maar dit het tog onwerklik gevoel.

Ek bly in ’n bachelors flat in Hollywood, smack bang in die middel. Dis bietjie toerismeri­g, maar dis lekker. Ek kan die Hollywood-teken van buite my woonstel sien.

Daar is tye wat ek sal stap en dan slaan dit my soos ’n plank dat ek actually in Hollywood bly en dat my droom besig is om waar te word. Dit is altyd ’n wow-oomblik.

Nadat ek hier aangekom het, het ek vir twee jaar by die American Academy of Dramatic Arts in Los Angeles studeer en elke vier tot vyf maande by die huis gaan kuier.

Ek moes my van verander bloot omdat hulle nie Grobbelaar kan sê nie. Ek het ’n paar opsies gehad en toe op Greene besluit, want groen is een van my gunsteling­kleure. Ek is ook mal oor die program Friends en Rachel se van is Green. En dit begin met ’n GR soos Grobbelaar.

Ek sal altyd ’n Grobbelaar bly; ek is mal oor my van, maar ongelukkig kan die mense hier dit nie sê nie.

Ek het al buite in lang rye vir oudisies

‘NÁ ELKE OUDISIE PROBEER ’N MENS DIT NET AGTER JOU SIT; JY WIL NIE TE OBSESSED WORD NIE’

gestaan en wag. Dit is exciting, maar ook nerve-racking, want jy sien wie jou kompetisie is.

Gewoonlik is die eerste ding wat hulle my vra oor my aksent en waar ek vandaan kom.

Ná elke oudisie probeer ’n mens dit net agter jou sit, want jy wil nie te obsessed word daaroor nie. Dis maar moeilik as jy hard werk aan ’n rol en baie voorbereid­ing doen en dit nie kry nie.

Daar is een spesifieke rol wat ek graag wou gehad het waaraan ek nou kan dink. Dit suck, maar mens gaan aan.

My mindset is gewoonlik as die rol veronderst­el was om myne te wees, sou ek dit gekry het. ’n Mens kan nie reg wees vir elke rol nie en dit is oukei. Ek het eenkeer by ’n oudisie die regisseur ontmoet en nie die rol gekry nie, maar hulle het my onthou en vir ’n volgende projek gekontak.

In die middel van die pandemie was daar omtrent so twee weke wat ek nie van my agent gehoor het nie. Ek het toe self oudisies gekry. ’n Mens werk saam, maar ek kan nie net wag vir hulle nie. Dit is hoe die industrie werk. Soms is dit besig en soms stil. Ek het gister vyf oudisies gekry vir die volgende week.

Ek werk deeltyds by ’n fotograaf wat headshots neem vir mense hier in Los Angeles. Ek is pas klaar studeer, en my eerste feature film, waarin ek die hoofrol speel, Play It Cool, is klaar geskiet. En ek praat natuurlik in ’n Amerikaans­e aksent.

Ek het ’n aksent-coach wat my met verskillen­de aksente help. Veral my Amerikaans­e een, want dit is maar die een wat ek meestal gebruik.

Ek wil nooit hê ek moet ’n karakter speel en dit is nie believable nie. Dit is vir my belangrik om stories met diepte te vertel.

Die lewe hier is maar duur. Ek probeer myself keer alles na rand toe te convert, want dan kry jy ’n mini-hartaanval. Met elke werk wat ek kry, vat ek 10% daarvan en spaar dit; so as daar ’n noodgeval is of so, dan het ek daai geld.

Ek moes al ’n paar keer my ouers, Dillie en Meyer, vra om ietsie oor te betaal. Soms as ek ’n rol kry of vir hulle van iets vertel wat ek bereik het, dan kry ek ’n boodskap wat sê: “Ons het vir jou ’n klein geldjie oorbetaal, gaan bederf jouself en gaan koop ’n pak biltong of gaan koop roomys.” Ek is baie dankbaar vir hulle.

Baie van my vriende in Los Angeles wil famous wees. Dis regtig nie vir my belangrik nie. Ek het nog nooit eers daaraan gedink hoe dit sal wees om bekend te wees nie. Ek love dit net om ’n karakter te word.

Ek het in Stellenbos­ch grootgewor­d, en sedert ek kan onthou, wou ek net ’n aktrise word. Een van my laerskoolj­uffrouens het my destyds Miss Hollywood genoem. Ek dink dit is omdat ek van so vroeg af reeds geweet het dit is wat ek wil doen.

My ma en pa het my ten volle ondersteun, en hulle het my nooit gedruk om ’n plan B te hê nie. Daar is geen plan B nie. Dié is wat ek wil doen.

My ma en pa is albei kunstig. My pa het ’n kunsgalery besit en my ma het haar eie bakbesighe­id. Weens die pandemie was ek meer as ’n jaar laas by die huis.

Ten spyte van ’n 12-uur-tydsverski­l tussen hier en Suid-Afrika, praat ek elke dag met my ouers.

Ek vergeet steeds soms van die time zones. Ek het al my ma in die middel van die nag wakker gebel. Sy was nie impressed nie. ’n Paar dae later toe kry sy my terug en bel my drieuur die oggend wakker. Sy sê toe net: “Dis lekker, nè?” en sit die foon neer.

Maar kyk, ek mis biltong en my ma se kos en wynplase en familiekui­ers. Ek het darem ’n slaghuis in Beverley Hills opgespoor wat regte-egte Suid-Afrikaanse biltong en droëwors maak. Ek ry een keer ’n week soontoe.

My droomrol is enige ware storie. Ek is mal oor stories soos The Blind Side, Rocketman, Stuart: A Life Backwards. Dit is die tipe projekte waarin ek belangstel.

Maar dit is uitdagend soms. Ek wil byvoorbeel­d geen naaktonele doen nie. ’n Kaal rug is so ver as wat ek sal gaan, en ek moet baie sterk staan oor dié keuses en seker maak my agent en bestuurspa­n verstaan waarmee ek gemaklik sal wees en waarmee nie.

Een van my groot bekommerni­sse is dat sulke besluite my loopbaan beïnvloed. Ek weier byvoorbeel­d om “Oh my God” te sê. Nee. Dis nie oukei nie en dit sal nooit vir my wees nie. Ek het dit al in ’n script verander na “Oh my gosh” en niemand het darem iets gesê nie.

My naaste vriende hier weet ook ek hou nie daarvan nie en hulle respekteer dit. Maar dis algemene taalgebrui­k in Amerika. Ek is nie bereid om my geloof en my taal prys te gee of te vergeet waar ek vandaan kom nie.

Van my vriende loop gereeld bekendes raak. Net nou die dag het een van hulle Kevin Spacey ontmoet. Ek het nog nooit ’n bekende akteur hier gesien nie.

Ek loop baie verby die Hollywood Walk of Fame. Aan die begin was ek mal daaroor om te stop en te kyk en die name te lees. Dit sal nogal cool wees om my naam daar te hê, ek gaan nie jok nie.

Ek hoop ek kan met my voet in albei wêrelde staan. Steeds Suid-Afrikaner wees en ook hier ’n naam vir myself maak.

Miskien is ’n Oscar nog my voorland, miskien nie. Ek probeer om nie te hard te tob daaroor nie.

God weet wat Hy vir my beplan. Ek moet net my kant bring en dit in Sy hande los.

 ??  ?? Anna Grobbelaar (21) van Stellenbos­ch omhels die lewe in Amerika ten volle. Sy het Hollywood toe getrek om ’n aktrise te word.
REGS: Op die stel van die kortfliek Hannah. Anna speel die rol van ’n blinde meisie in dié film.
Anna Grobbelaar (21) van Stellenbos­ch omhels die lewe in Amerika ten volle. Sy het Hollywood toe getrek om ’n aktrise te word. REGS: Op die stel van die kortfliek Hannah. Anna speel die rol van ’n blinde meisie in dié film.
 ??  ?? BO: Anna is gek daaroor om uitdagende rolle te vertolk waaroor sy navorsing moet doen en wat propvol emosie is. ONDER: Op die stel van die bekroonde kortfliek Paintless, wat verlede jaar uitgereik is.
BO: Anna is gek daaroor om uitdagende rolle te vertolk waaroor sy navorsing moet doen en wat propvol emosie is. ONDER: Op die stel van die bekroonde kortfliek Paintless, wat verlede jaar uitgereik is.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa