Rasieleiers in goue jare wys passies
’n Japannese rasieleiergroep vir mense in hul goue jare het mense aan die gons met hul danspassies
HUL tone is gepunt in blinksilwer skoene, ritselende pompons blink in hul hande en daar is breë glimlagte op hul gesigte – dié groep ratse rasieleiers is reg vir hul oefensessie.
Maar dis nie ’n groep giggelende tieners dié nie. As jy jou ding saam met hierdie glansryke groep wil doen, moet jy 55 of ouer wees.
Hulle staan bekend as Japan Pom Pom, ’n Tokio-gebaseerde groep senior cheerleaders wie se huidige lede se ouderdomme tussen 60 en 89 wissel. Hul doelwit is om stereotipes oor oudword en hoe ouer vroue hulle behoort te gedra uit te daag in ’n land met streng sienings oor hoe bejaardes dan nou kwansuis moet optree.
“Soos ons leier sê, probeer enigiets. As jy in iets belangstel, vergeet van jou ouderdom; vergeet van mense wat sê dis nie ’n goeie idee nie,” sê Tami Shimada (69).
Oefensessies is vir ’n jaar opsygeskuif as gevolg van die coronaviruskrisis, maar het onlangs weer voortgegaan – en ’n video van die 17 dansende vroue met hul silwer haredosse het vinnig op sosiale media versprei.
Dis volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie ’n ouderdomsgroep wat kwesbaar is vir die virus, en daarom word die lewenslustige seniors se temperature gemeet, hulle dra maskers en behou ’n veilige afstand van mekaar wanneer hulle een keer per week twee uur saam met ’n beroepsafrigter oefen.
“Ek doen dit nie vir my gesondheid nie,” sê die stigterslid, Fumie Takino (89). “Ons almal doen dit omdat dit pret is en ons dit geniet. Die woord ‘cheer’ beteken immers vrolikheid, vreugde en om mense aan te moedig. Ek dink dit lei tot iets om voor te lewe.”
FUMIE het haar nog nooit aan die samelewing se verwagtinge gesteur nie. Nadat sy aan universiteit gegradueer het, het sy getrou en twee kinders gehad. Volgens die Japannese kultuur van destyds was die vrou se plek in die huis en om haar man en kinders te ondersteun, waarna sy stilweg haar goue jare betree.
Beslis nie in Fumie se geval nie. Sy wou altyd oorsee gaan, en toe haar kinders onafhankliker was, het sy in die 1990’s aansoek gedoen om aan die Universiteit van NoordTexas in Amerika te studeer, en sy is aanvaar.
Op 53 het die ouma van drie haar tassies gepak en gerontologie, die studie van ouderdomsverskynsels, gaan studeer en haar meestersgraad verwerf. “Ek gebruik nooit my ouderdom as verskoning om nie
iets nuuts te begin nie,” sê Fumie, wat op 80 die ukulele begin speel en ook al skubaduik en valskermsweef op haar emmerskoplysie afgetiek het. “As iemand iets nuuts wil begin, dink ek regtig hulle moet dit doen om die res van hul lewe so lekker moontlik te maak.” Nadat sy haar persoonlike doelwit bereik het, het sy teruggekeer Japan toe en aangehou om te lees en haar wêreldbeskouing te verbreed. Toe sy op ’n boek oor ’n senior rasieleierspan in Amerika afkom, het sy gedink: Sê nou maar net sy begin haar eie spannetjie in haar tuisland.
Die sport het in die 1860’s in Amerika posgevat as ’n manier vir studente om voetbalspanne by universiteitswedstryde aan te moedig en het sedertdien ontwikkel in ’n mededingende sport uit eie reg wat nou in verskeie lande beoefen word.
Daar was verskeie aktiewe rasieleierspanne reg oor Japan, maar geen span vir ouer mense nie. Nadat sy meer daaroor uitgevind het, het Fumie die idee met vier van haar vriendinne bespreek, en in 1996 is die Japan Pom Pom-groep gebore.
Hulle het aanvanklik die oefensessies gebruik as ’n tyd om sosiaal te verkeer, te dans en aktief te bly. Hulle het met elke sessie meer kennis oor die sport bekom en dié leuse as hul eie aangeneem: “Ons bied drome, energie en hoop.”
Hul passies, met helderkleurige pompons in die hand, het seepglad geword, en hul formasies en tydsberekening was in die kol. Tog was dit eers toe hulle vir hul sewende bestaansjaar in die vroeë 2000’s by ’n liefdadigheidsgeleentheid opgetree en die skare aan hul voete gehad het dat die groep besef het hulle het dalk iets spesiaals beet.
“Dit het my vir die eerste keer laat besef dis waaroor die sport gaan,” sê Fumie, wat binnekort haar vierde agterkleinkind ryker sal wees. Hul gewildheid het toegeneem en hulle het ál meer aandag getrek, maar die groep – met ’n gemiddelde ouderdom van 72 – het dit verpes om “oumarasiedansers” genoem te word.
“Ons het na ’n klub vir senior burgers gegaan en hulle het nie juis van ons gehou nie. Hulle het nie eens een keer geglimlag nie. Japannese vroue wat sulke klere dra, op hul ouderdom! Ek dink deesdae is die helfte van mense oukei met ons en die helfte kan ons steeds nie aanvaar nie,” sê Fumie.
Hulle het al die wenkbroue laat lig met die helderkleurige minirompe, Lycrarokke met blinkers en wit knielengtestewels wat hulle met optredes gedra het.
Dit het Fumie en die ander vroue min geskeel.
“Dis dans – en dis lekker om jou lyf te beweeg,” sê Fumie. “En die kostuums is omtrént oordadig. As jy oor 60 is, kry jy nie sommer ’n geleentheid om so iets te dra nie. Sommige sluit by ons aan net sodat hulle dit kan dra.”
Japan Pom Pom het die geleentheid gehad om met senior spanne van Amerika te gesels. Hulle het ook op televisie in Japan verskyn, by ’n aantal geldinsamelings-, sport- en liefdadigheidsgeleenthede opgetree en het rolmodelle vir ’n aktiewe lewe as bejaardes geword.
VERLEDE jaar was hul 25ste bestaansjaar. Hulle het ’n liefdadigheidsgeleentheid beplan om dit te vier, maar die pandemie het die planne gefnuik. Fumie hoop egter hulle sal vanjaar voor toeskouers kan optree om hul kwarteeu te vier.
Die lede van die groep, wat hul bene tot hoog bo hul koppe kan swaai en selfs kan split, bly oorgehaal om te wys ouderdom is net ’n syfer.
Fumie leer tans Spaans en hou daarvan om solitaire op die rekenaar te speel. Dis moeilik om te glo sy word volgende jaar 90. Maar die stigterslid van Japan Pom Pom erken sy twyfel of sy nog lank die energieke passies sal kan doen.
“Ek het die afgelope drie of vier jaar gouer moeg geword. En om weens die pandemie tuis te bly het my stamina laat afneem. Ek voel niks wanneer ek oefen nie, maar is die volgende dag erg uitgeput,” sê Fumie. Tog vertel sy vrolik dis die moeite werd. “Ek vergeet van alles wanneer ek dans.”