Kabelkarongeluk wis seun se gesin uit
Klein Eitan het ál sy naastes verloor toe ’n kabelkarretjie teen ’n berg in Italië afgetuimel het weens beweerde peutery
HY IS die seuntjie wat oornag wees gelaat is; die kind wat ál sy naastes verloor het toe die ondenkbare gebeur het: ’n Kabelkarretjie sukkel moeisaam bergop, net om dan digby sy eindpunt na benede te tuimel . . . Sy gesin het vooraf alle rede gehad om uit te sien na die kabelkarrit wat hulle ’n asemrowende uitsig oor die natuurskoon by Stresa in Italië se Piedmontprovinsie sou gee.
Amit Biran (30), sy vriendin, Tal Peleg (27), hul kinders, Eitan Biran (5) en Tom (2) – almal van die Italiaanse stad Pavia – was met ’n langverwagte vakansie nadat die coronavirus-inperkings in die land eindelik verslap is.
Vir Tal se besoekende grootouers, Itshak (82) en Barbara Cohen (71) van Tel Aviv, was dit ’n welkome blaaskans van die dodelike konflik tussen Israel en die Palestyne. “Die vuurpyle het in Israel geval, en hulle het gedink: ‘Wat kan tog in Italië gebeur?’ ” onthou Amit se suster, Biran (41). Maar dié woorde spook nou by haar. Want byna die hele familie het gesterf toe die kabelkar teen die berg afgetuimel het in die fratsongeluk wat Italië geruk het.
Die enigste oorlewende van die familie wat vooraf so vrolik oor hul uitstappie was? Die vyfjarige klein Eitan.
Altesaam 14 mense is in die ramp dood. Eitan is na ’n hospitaal in Turyn geneem en in ’n geïnduseerde koma geplaas om sy lyfie ’n beter kans te gee om van sy traumatiese beserings te herstel. Albei sy bene is gebreek en hy het skedelen maagbeserings.
Hy het vermoedelik sy lewe aan sy pa te danke. “Eitan se oorlewing van die ongelooflike impak is moontlik daaraan toe te skryf dat sy pa hom in ’n lewensreddende omhelsing vasgehou het,” het ’n dokter aan ’n plaaslike koerant vertel.
Kort voor Huisgenoot se druktyd het dokters hom uit die koma gebring. Die eerste gesig wat hy langs sy bed gesien het, was dié van sy tannie Aya. “Hy praat met sy tannie en beweeg rond, maar is nog in ’n kritieke toestand,” vertel ’n hospitaalwoordvoerder. Maar op Aya, ’n Italiaanse dokter, wag nou ’n onbenydenswaardige taak – om haar broerskind die vreeslike nuus te vertel dat Mamma, Pappa, Boetie, Ouma en Oupa nooit weer terugkom nie.
DIE kabelspoor aan die voet van die imposante Italiaanse Alpe is gewild onder Italianers sowel as buitelandse toeriste. Dit styg tot ’n hoogte van 1 500 m en bied jou ’n onbelemmerde uitsig oor die Piedmontomgewing met sy prentjiemooi mere en stap- en fietsroetes.
Amit, ’n mediese student, en Tal, ’n sielkundige, wou die kinders en Tal se grootouers op ’n besonderse natuuruitstappie neem. Almal is Israelse burgers, hoewel net die twee grootouers daar gewoon het.
Die Sondag toe hulle aan die voet van die kabelspoor gaan toustaan het, was die weer sonnig en lieflik – perfek om die berg te bestyg. Dosyne ander mense het dieselfde plan gehad, want die kabelAya
spoor was tot onlangs gesluit weens die pandemie, wat besonder fel was in Italië.
Maar sowat 300 m van bo het die hok van metaal en glas skielik buite beheer na onder begin afgly. Stappers in die gebied onthou hulle het ’n “harde sisgeluid” gehoor.
Die noodremme van die kabelspoor het nie gewerk nie, en dit het toe glo een van die vertikale maste getref voor die kabel gebreek het. Die kabelkar het sowat 20 m tot op die grond geval en daarna teen die berg afgetuimel, sê Marcella Severino, die burgemeester van Stresa.
Sommige van die dooies is uit die tuimelende kabelkar gegooi, terwyl ander uit die opgefrommelde metaal bevry moes word. “Jy kan maar vir jouself dink wat die reddingswerkers daar gesien het,” het Marco Gabusi, een van die ongeluksondersoekers, gesê.
Aya was nog onbewus van die ongeluk toe haar foon begin biep met boodskappe van medelye. Sy het vriende gevra wat aangaan en toe die aaklige werklikheid gehoor. Sy het eers later besef haar broerskind het dalk oorleef toe sy nie Eitan se naam op die lys van slagoffers sien nie en het hom toe in die hospitaal in Turin opgespoor.
Nog ’n kind, Mattia Zorloni (9), van die dorp Vedano Olona in die distrik, is ook lewend gevind en saam met Eitan na die hospitaal gevlieg, maar hy het ’n dag later gesterf. Mattia se ouers, Vittorio Zorloni (55) en Elisabetta Personini (37), wat verloof was, was onder dié wat op die berg gesterf het.
Aya het later gehoor Eitan was by sy bewussyn toe in by die operasieteater ingestoot is. “Los my; ek is bang,” het hy glo geskreeu.
Maar van sy ouers se dood wis hy toe nog niks.
Intussen beweer owerhede ’n tydelike klamp wat doelbewus op die foutiewe noodremstelsel aangebring is – eerder as om die noodremstelsel behoorlik te herstel – het tot die ramp bygedra.
Pleks van om die hele diens te sluit, wat vertragings sou veroorsaak met die aanvang van die somerseisoen en covid wat aan die wyk is, is die klamp as tydelike oplossing op die remme geplaas.
Maar die klamp het verhoed dat die noodremme geaktiveer word toe die kabel breek, en dit het die kabelkar laat val.
Die eienaar, direkteur en die dienshoof van die kabelspooronderneming is tydelik in aanhouding geneem en word deur aanklagte van manslag, poging tot manslag en ’n aanval op openbare vervoer in die gesig gestaar. Hulle is kort voor druktyd vrygelaat, maar die ondersoek duur voort. “Dit was nie vergeetagtigheid nie,” het die aanklaer Olimpia Bossi gesê. “Dit was ’n bewustelike besluit om die noodstelsel te deaktiveer om tegniese probleme te herstel. Hulle was weke lank bewus van die noodremme wat onklaar is,” sê Olimpia.
DIE liggame van Eitan se familie is op die dag van die ramp na Milaan gevlieg waar lede van die plaaslike Joodse gemeenskap vir hulle gebid het voor die liggame na Israel sou terugkeer.
“Ons sal hier wees as ’n gemeenskap om Eitan te ondersteun – emosioneel, materialisties en op regsvlak,” sê Milo Hasbani, voorsitter van die gemeenskap.
Kleurvolle handafdrukke met die name van Eitan se skoolmaats en boodskappe, geskryf met behulp van onderwysers, is na hom in die hospitaal in Turyn gestuur.
“Eitan, ons is lief vir jou en wag vir jou,” lees een.
In Stresa, aan die oewer van die Maggiore-meer, brand nou daagliks 14 kerse: een vir elke kabelkar-oorledene, voor die altaar van die plaaslike katedraal. Die onderpunt van die kabelspoordiens is ook hier by die meer.
Die priester, Don Gianluca Villa, het by die diens ’n spesiale boodskap van pous Franciskus aan die gemeente voorgelees: “Die Heilige Vader dink met gevoel aan die lewens wat tragies geneem is terwyl hulle meegevoer was deur die opdrag van die skepping. Wees verseker dat die slagoffers en klein Eitan in sy gebede is.”
Voor hy sy preek afgesluit het, het die priester ’n kwalik bedekte verwysing na die drie kabelspoorbase gemaak: “99% van boosheid in die wêreld is weens ons (as mense). Dis onbevoegdheid, dis oppervlakkigheid, dis ons wat altyd ons sin wil hê,” het hy gesê.
“Die onverantwoordelikheid van ’n paar mense het tot boosheid gelei. Ons bid vir die klein seuntjie wat oorleef het sodat hy ’n ligpunt, ’n herinnering aan die lewe, sal word.”
Toe klink die pragtige koorsang op en sweef na die bergpieke ver bo die katedraal – troosmusiek wat klein Eitan nog nie sal of kan hoor nie.