Huisgenoot

Covid konfrontee­r Celine met verlies

Toe die pandemie tref, moes Celine Dion die eerste keer sedert haar man se dood in 2016 haar hartseer konfrontee­r, maar sy het beheer oor haar lewe geneem

- Saamgestel deur LINDSAY DE FREITAS

SY WAS skaars ’n maand ná haar man se dood terug op die verhoog en het in die vier jaar daarna byna nooit ophou werk nie.

Uitverkoop­te optredes, ’n skouspelag­tige vertoning by die Billboard Music Awards in 2016, ’n toer na Europa en Kanada met 28 optredes, ’n Franse album, ’n nuutgevond­e liefde vir byderwetse modes wat die tonge laat klap het – daar was g’n keer aan Celine Dion nie.

Maar toe tref die pandemie. En die eerste keer sedert sy haar geliefde René Angélil, haar man van 22 jaar en die dryfveer agter haar musiekloop­baan, verloor het, moes sy haar hartseer konfrontee­r.

Die kollig, aanhangers wat haar aanbid en ’n uitmergele­nde werkrooste­r het verdwyn en plek gemaak vir tyd: om rustiger te word, haar kinders te sien en te besin oor haar verskrikli­ke verlies.

“Om my man te verloor en vir die kinders om hul pa te verloor was iets groots,” het ’n emosionele Celine onlangs aan Natalie Morales van The Today Show gesê.

Optredes en opnames het haar gedagtes aanvanklik weggehou van die hartseer wat haar oral gevolg het nadat René in 2016 aan keelkanker oorlede is, maar sy het eindelik besef sy moet dit konfrontee­r en haar pyn verwerk.

Celine (54) het ook erken sy het gesukkel om die selfvertro­ue te vind om haar eie loopbaan te bestuur nadat sy so lank op René staatgemaa­k het.

René was aan die stuur van Celine se loopbaan sedert hy die sangeres met die vyf-oktaafstem as 12-jarige ontdek het, en sy invloed op haar lewe en loopbaan het diep gestrek.

“Ek dink gedurig: Sou hy dit gedoen het? Is dit te gewaagd? Sou hy hierdie goedkeur?” sê sy.

Tog het daar ’n punt gekom toe sy besef het sy moet sy dood aanvaar. “Dit was tyd vir my om beheer oor my lewe te neem.”

CELINE sê sy en haar kinders, die 20-jarige RenéCharle­s en die 10-jarige tweeling, Eddy en Nelson, voel gedurig hul man en pa se teenwoordi­gheid aan.

‘EK KYK NA MY KINDERS EN BESEF

ONS LEEF SAAM MET HOM. HY’S IN ELKE DEEL VAN ONS LEWE’

“Ek voel René het vir my soveel oor die jare gegee; hy gee vandag nog,” sê sy. “Ek kyk na my kinders en besef ons leef steeds saam met hom. Hy’s in elke deel van ons lewe, en daarom moet ek sê ek voel baie, baie sterk.”

Sy sê haar seuns is baie soos hul pa, en sy glo hulle sal binnekort in René se voetspore volg en hul beroemde ma se loopbaan bestuur.

“Hulle is baie musikaal; eintlik meer as musikaal. Ek dink een van hulle gaan my bestuurder word en een van hulle gaan my liedjies skryf.”

Boonop leef haar man se nagedagten­is nog so sterk voort dat sy vyf jaar later nog nie naastenby gereed is om ’n ander man in haar lewe toe te laat nie.

“Ek dink nie aan ’n verhouding en weer liefde vind nie,” sê sy.

En sy het dit ook nie nodig nie. “Ek het op die oomblik soveel liefde in my lewe: my kinders, die lewe self. Moet ek sê ek sal nooit weer verlief raak nie? Ek weet nie. Ek weet nie.

“Ek glo in die liefde, jy weet – vir my aanhangers en my kinders en my familie. En ek voel daardie liefde aan, en dit hou my aan die gang. Maar ware liefde en romanse is daar nie. En dis oukei.”

Tog beteken dit nie sy mis nie die vertroosti­ng en teerheid wat ’n verhouding bied nie. Sy het in 2019 hartroeren­d erken sy “mis dit om aangeraak te word”.

“Ek mis drukkies. Ek mis dit om te hoor: ‘Jy’s beeldskoon.’ Ek mis wat ’n kêrel of ’n man sou doen.”

Maar vir eers “vat ek die liefde waar dit is, wanneer dit oor my pad kom en in enige vorm”.

En die meeste van daardie liefde kom van haar drie seuns. Nog ’n voordeel van die pandemie was die gehaltetyd wat sy saam met haar seuns kon deurbring.

“Dit was outydse gesinspret – die eenvoudige plesiertji­es in die lewe, baie buite speel, saam met hulle wees, mekaar bederf, saam kook.”

Die gesin het baie tyd in Quebec deurgebrin­g en Celine was verbaas oor hoeveel jazz haar kinders luister.

“Ek het gedink: ‘Sjoe, dis omtrént strelend. Dis ’n goeie verrassing.’ Die kinders het ook gevra: ‘Ma, ek wil Star Wars kyk. Kan jy vir ons lightsaber­s koop?’ So daar was lightsaber­s, die trampolien, teken, kook en klavierspe­el. Dit was wonderlik. Ons leef nou in ’n ander wêreld en ek is bly hulle tel goed op om mee te speel en beproef nuwe dinge.”

Moedersdag was ’n emosionele dag vir die gesin, want soos met elke groot dag op die kalender – verjaardae, Kersfees, Vadersdag – herinner dit hulle aan die leë plek aan die tafel.

Maar die seuns het dit vir haar spesiaal gemaak, sê Celine. “Die kinders het vir my oliebolle en blomme gegee, en ons het in die swembad en saam met die hond gespeel. Dit was wonderlik.”

NES sy die tyd saam met haar kinders geniet het, is Celine gereed om weer op die verhoog te klim. Sy berei haar voor om terug te keer na Las Vegas met optredes by ’n nuwe hotel, Resorts World Las Vegas. Sy het voorheen ’n kontrak van ses jaar vir optredes by Caesars Palace gehad en sy en haar gesin het van 2013 tot 2019 in Henderson, naby Las Vegas, gewoon.

Haar optredes het geld soos bossies gemaak en was die winsgewend­ste musiekoptr­edes in Las Vegas sedert Elvis Presley – dit het 2 miljoen mense gelok en R10 miljard laat inrol.

“Vegas het vir my die geleenthei­d gegee om ’n ma te wees, vir my kinders om kindwees te geniet, vir my om op te tree vir aanhangers en my passie uit te leef en elke aand huis toe te gaan.

“Dis seldsaam, en ek voel werklik Vegas het vir my die beste van albei wêrelde – as ma en kunstenaar – gebied.”

Maar sy erken dis bittersoet om voor te berei vir ’n nuwe vertoning in ’n wêreld wat vir altyd deur covid-19 verander is. Sowat 117 miljoen Amerikaner­s is reeds ingeënt, en die land keer stadig terug na die normalitei­t van voor die coronaviru­skrisis – maar sy is bewus daarvan dat talle ander lande nog teen die virus baklei.

“Dinge in Amerika begin stadig maar seker na normaal terugkeer. Dis moeilik, want ons skep die vertoning en beweeg aan, maar terselfder­tyd sien ons wat in ander dele van die wêreld aangaan.”

Sy hoop haar nuwe optrede sal aanhangers ’n kans gee om te glimlag.

“Dit gaan oor energie, oor weer begin, oor voluit leef, om te voel daar gaan iets goeds hieruit kom, hopelik. Dit gaan oor die oomblik.”

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Celine Dion se styl het uitdagende­r geword. BO: Celine en René Angélil het in 1987 begin uitgaan toe sy 19 was. REGS: Hulle is in 1994 getroud.
Vir Celine was een positiewe ding van die pandemie die gehaltetyd wat sy kon deurbring saam met haar seuns, (van links) Nelson, René-Charles en Eddy, by hul huis in Quebec, Kanada.
HOOFFOTO: Celine Dion se styl het uitdagende­r geword. BO: Celine en René Angélil het in 1987 begin uitgaan toe sy 19 was. REGS: Hulle is in 1994 getroud. Vir Celine was een positiewe ding van die pandemie die gehaltetyd wat sy kon deurbring saam met haar seuns, (van links) Nelson, René-Charles en Eddy, by hul huis in Quebec, Kanada.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa