Huisgenoot

NIKS KRY DIÉ BEDRYWIGE MOEDER ONDER NIE

- LIZA NEL

’n Ruk gelede het my baie besige ma ’n nekoperasi­e ondergaan. In dié tyd het ons vir my pa gesorg met kos as hy van besoektye af terugkom.

Net nadat my ma eindelik by die huis aangekom het, het my pa siek geword – covid. Hy het baie sleg gevoel, baie gelê en min geëet. My ma het ’n paar dae later ook nie wel gelyk nie. Sy het nogal gemeld dat sy die huis goed skoongemaa­k het – ingeval sy ook covid kry. En dit nie eens twee weke ná haar nekoperasi­e nie.

Ek bel haar gereeld en elke keer verseker sy my sy’s oukei.

Gister kry ek ’n oproep. Sy sê sy het ’n probleem, haar motor se band is pap by ’n hospitaal waar sy is nadat sy haar vir covid laat toets het. Ek skrik my boeglam.

Sy het met nekstut en al alleen gery.

Ek klim dadelik in my kar en haas my na haar toe. Daar aangekom sit sy stywenek in haar motor en wag. ’n Dierbare man het kom help met die band.

Ek vra toe of ek nie maar huis toe kan bestuur nie. Sy antwoord dis dalk ’n goeie idee, sy kan net vorentoe kyk en dis moeilik by die vierrigtin­gkruisings . . .

Sy het besluit om alleen hospitaal toe te ry uit vrees dat sy wel covid het en dat sy een van ons kan aansteek. En toe haar toetsuitsl­ag kom, was dit positief.

Ek meld op ons familiegro­epie dat ek dalk haar motorsleut­els moet wegsteek, want besig wil sy altyd wees, nekoperasi­e en covid ofte nie.

Ma reageer net met ’n glimlag-emoji, want niks kry haar onder nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa