Huisgenoot

‘SO ONTHOU ONS HOM’

‘WANNEER BEN GEPRAAT HET, KON JY MAAR NA SY INSIG EN KENNIS LUISTER’

-

Hy was “’n grapgat en paartiegat”, vertel die akteur Frank

Opperman oor wyle Ben Kruger, met wie hy sedert die middel 1980’s bevriend was.

“Ons is abei Lions-ondersteun­ers, en ons het ’n losie op Ellispark gedeel. Dit was groot pret om daar saam met hom te kuier en rugby te praat en saam ’n ietsie te drink,” deel Frank van sy aangename herinnerin­ge.

“Maar net so lekker soos hy kon lag, so maklik kon hy huil. Hy het so vier jaar gelede een van my vertonings op Cullinan kom kyk. Die vertoning het hom geroer. Ná die tyd toe loop sy emosies oor en toe lóóp die trane. Dit is ’n kompliment as jy jou buddy kan laat huil.”

Die akteur en sanger Richard

van der Westhuizen was “dekades lank” vriende met Ben. Hulle het in die 2000’s ’n kleedkamer gedeel toe hulle saam in 7de Laan gespeel het.

“Daardie tyd moes ons altyd seweuur soggens op stel wees, al was jou beurt eers die middag. Ben moes van Pretoria af ry, en as hy in die kleedkamer kom, het hy altyd op die bed gaan neerval en geslaap. Maar hel, daai man kon snork! Dit sal ek nooit vergeet nie.”

Richard spog ook dat hy “die oorspronkl­ike resep van Mrs. Ball’s Chutney” het. Dié het hy by Ben gekry, in ruil vir twee bottels ingelegde vye.

“Ek sal nou nie kan sê hoe oorspronkl­ik dit werklik is nie, maar Ben het altyd gesê dit is!”

Hy onthou Ben “as die innemendst­e mens wat altyd tyd gehad het vir ander”, sê Frans

Swart, die besturende direkteur van Lefra Produksies. Die akteur het deur die jare in talle van hul verhoogpro­duksies opgetree.

“Jy kry akteurs wat net praat om hul eie stem te hoor, maar wanneer Ben gepraat het, kon jy maar na sy insig en kennis luister. En wanneer jy vir hom iets vertel het, het hy geluister en onthou wat jy gesê het.

“Hy het ook baie potjiekosk­ompetisies wat ons aangebied het, beoordeel,” vertel Frans. “Maar hy sou so intens belangstel­lend met elke deelnemer gaan gesels dat elkeen van hulle seker gedink het húlle is die wenner!”

Sowat 10 jaar gelede het Ben in Groet die grotoupa gespeel. In ’n stoel waarop die “grotoupa” dikwels op die verhoog gesit het, was ’n komparteme­nt waarin hy onder meer sy pille gebêre het.

“Tydens een van die vertonings wou die deurtjie nie oopgaan nie, maar die teks het vereis dat hy sy pille kry,” onthou Frans. “Sonder dat die gehoor dit besef het, het Ben die situasie gered deur af te stap terwyl hy sê: ‘Alzheimers het sy tol geëis; ek het vergeet my pille is in die kombuis.’

“Hy was ’n meester op sy vakgebied; hetsy op die verhoog of voor die TV-kameras.”

In die vermaakbed­ryf was Ben daarvoor bekend dat hy sy woorde baie vinnig kon leer, vertel Frans.

“Op die verhoog het hy nooit oor sy woorde gestruikel nie. Voor die kameras was die meeste van sy tonele ‘one takes’, so woordvas was hy.”

 ??  ?? Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies, en Ben tydens ’n Groet die grotoupa-repetisie.
Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies, en Ben tydens ’n Groet die grotoupa-repetisie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa