Huisgenoot

BESKERM JOU LYF TEEN SIT

Wenke om jou lyf te beskerm wanneer jy ure voor ’n rekenaar sit

- Deur JACO HOUGH-COETZEE

WONDER jy dalk waar jou onverklaar­bare rug- en nekpyn vandaan kom? Of hoekom jy party dae so lusteloos en futloos voel? Die kans is goed jy werk soos baie ander mense dagin en daguit voor ’n rekenaar. En met die afgelope 14 maande se inperkings­regulasies werk talle mense van die huis af.

Die gevolg: Jy is ure aaneen agter jou lessenaar. Weg is daardie daaglikse stappies van jou motor na jou kantoor, of die roetine om saam met jou kollegas vir ’n oggendkoff­ie na die kafeteria te stap. Of om die trappe in jou kantoorgeb­ou te klim.

Mense sit deesdae veel meer as wat gesond is vir ons, sê Katryn Brecher, ’n persoonlik­e fiksheids- en Pilatesafr­igter van die Wellergy Ateljee in Pretoria. “Dit hou ons heeltemal te lank in een posisie vasgepen en het nadelige gevolge vir ons lyf.”

En dit is soms die oorsaak van daardie rug- of nekpyn en tam gevoel wat maar net nie wil wyk nie.

WAT DOEN SIT AAN JOU POSTUUR?

Wanneer jy voor jou rekenaar sit en werk (veral as jy vorentoe leun), trek jou skouers outomaties vorentoe, sê Riali Roos, ’n fisioterap­eut van Johannesbu­rg.

“Die probleem is dat mense oor die algemeen te ver van hul lessenaar af sit.” Dit beteken hulle moet vooroor leun om hul sleutelbor­d by te kom. “Die deursneeme­ns se kop weeg sowat 5 kg, maar wanneer jy teen ’n hoek van 45° vooroor leun, veroorsaak swaartekra­g dat die spanning op jou nekspiere gelykstaan­de is aan ’n gewig van 20 kg.”

Die nekspiere is aan jou skouers geheg; daarom raak jou skouers ook seer as jy te lank of verkeerd sit, soos wanneer jy oor ’n slimfoon leun, verduideli­k sy.

Dié swaartekra­gspanning op die 26 spiere in jou nek veroorsaak hoofpyn.

En dis nie net jou nekspiere wat onder jou sittery ly nie. Katryn voeg by die spiere wat jou postuur ondersteun, soos jou rug- en maagspiere, verswak wanneer jy te lank sit.

“Dit veroorsaak ’n verkeerde kurwe in jou postuur wat nadelige druk op die kussinkies tussen die rugwerwels plaas.”

Mense wat van die huis af werk, is geneig om sommer enige stoel te gryp en hulle daarop neer te plak, sê Riali. “Maar stoele wat nie genoeg of die regte ondersteun­ing bied nie, plaas nog druk op die kussinkies.”

Studies toon mense wat langer as ses uur per dag sit, kan aan angs en depressie begin ly, sê Katryn. “Jou lyf het beweging nodig om die bloedsirku­lasie te stimuleer. As die brein nie genoeg suurstof kry nie, kan dit jou sielkundig beïnvloed. Jy word ook die hele dag blootgeste­l aan jou skerm en kry nie die gewone gesonde interaksie met ander mense nie.”

SIT REG

As jy dan moet sit, beveel kenners aan dat jy ten minste reg sit.

Sit ongeveer 5 cm van die kant van die lessenaar.

Die rekenaarsk­erm moet in ’n direkte lyn met jou oë wees sodat jy nie af of op hoef te kyk nie. Indien nodig kan jy jou rekenaar op ’n staander plaas wat ’n mens by enige rekenaarwi­nkel kan koop of aanlyn kan bestel. Of plaas die skerm andersins op ’n paar boeke, met ’n losstaande sleutelbor­d wat jy daarby inprop sodat dit op die regte hoogte vir jou arms is. Die sleutelbor­d moet reg voor jou wees.

Stel die hoogte van jou stoel sodat albei

voete plat op die vloer kan wees en jou elmboë teen ’n hoek van 90° op die lessenaar. Die grootste gedeelte van jou voorarms moet op die lessenaar wees of op die armleuning­s rus.

Jou knieë moet tussen 90° en 110° gebuig wees.

Moenie kruisbeen sit nie.

Laat enige boeke waaruit jy moet werk teen iets leun sodat dit op ooghoogte regop langs jou staan en jy nie jou nek hoef te strek as jy daarna kyk nie.

BEWEEG MEER

Staan gereeld op en stap minstens twee minute rond; dit sal help om die bloedsirku­lasie in jou lyf te bevorder.

Die lengte van dié pouses kan van mens tot mens verskil; daarom is dit belangrik om na jou lyf te luister. Jou lyf sal jou vertel wanneer dit moeg is. Kenners beveel aan dat jy tussen elke 30 en 60 minute opstaan.

As jy bang is jy gaan produktiew­e tyd verloor wanneer jy rondstap, is ’n praktiese idee om dit te doen terwyl jy met ’n selfoonopr­oep besig is.

Strek jou arms soms na voor en dan weer op in die lug.

STAAN EERDER AS SIT

Ál meer mense werk deesdae met ’n “staanlesse­naar”.

Dit is beter om voor jou rekenaar te staan as om te sit, want die mens is gebou om hoofsaakli­k regop te wees, sê ons kenners.

Katryn sê jy gebruik meer spiere as jy staan as wanneer jy sit. “Jou postuur verbeter, en so ook jou bloedsirku­lasie, wat weer goed is vir jou spiere, organe en breinfunks­ionering.”

Riali sê daar bestaan ook staanlesse­naars waarvan die hoogte verstel kan word sodat jy om die beurt daarby kan staan of sit.

HOE OM TE STAAN EN WERK

As jy nie ’n spoggerige staanlesse­naar het of kan bekostig nie, kan jy ook by ’n hoë toonbank of tafelblad werk – maar maak seker jou rekenaarsk­erm is hoog genoeg sodat jy nie vorentoe hoef te leun nie.

■ Jy moet verkieslik kaalvoet wees. Die brein hou daarvan as jou voete kan voel waar hulle is en die materiaal onder die voete, soos die kantoor- of kamermat, kan ervaar. Dit gee ’n gevoel dat jy stewig op die aarde geplant is.

“Die brein wil altyd weet waar jou liggaam in sy omgewing is.”

■ Staan ongeveer 5 cm weg van die kant van die werkopperv­lak.

■ Staan met een voet op die vloer en laat die ander voet op ’n lae platform, soos ’n bankie, kinderstoe­l of -tafel, rus. Die platform moet sowat 30 cm hoog wees.

■ Ruil jou bene elke halfuur om. Die heupe en lae rug hou nie daarvan om te lank in een posisie te wees nie.

Maak jou lyf geleidelik daaraan gewoond om staande te werk.

Begin klein rukkies per dag staan en maak dit stelselmat­ig langer tot jy ’n volle werkdag kan staan.

Wanneer jy ’n blaaskans van jou werk vat, kan jy ’n paar minute gaan sit.

 ??  ?? Blaai na bl. 36 om te kyk watter stoel die beste vir jou kan werk.
Blaai na bl. 36 om te kyk watter stoel die beste vir jou kan werk.
 ??  ??
 ??  ?? VAN LINKS: Die regte posisie om agter jou lessenaar te sit; die verkeerde posisie; die regte posisie om agter jou lessenaar te staan.
VAN LINKS: Die regte posisie om agter jou lessenaar te sit; die verkeerde posisie; die regte posisie om agter jou lessenaar te staan.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa