Liewe Elize
Ek voel die covidpandemie begin my nou toets en dat ek nie meer altyd die krag het daarvoor nie. Vóór die coronakrisis het ek weg van die huis gewerk, maar nou werk ek net van die huis af. Ek het nog nie iemand na aan my aan die dood afgestaan nie. Kollegas was siek, maar ek is net een keer vir die virussiekte getoets en dit was negatief. Ek is slapeloos. Ons het kinders op skool wat ek nou tuis onderrig en my man help baie. Ek voel net heeltyd so keelvol. E op A
Almal hanteer onsekerheid anders. Juis omdat daar met hierdie nuwe, onbekende siekte geen sekerhede is nie, vind soveel mense dit moeilik om die situasie te verwerk en sukkel hulle om ’n nuwe leefstyl te ontwikkel.
Een van die dinge waarvoor die pandemie ons almal te staan gebring het, is dat ons rolle verander het. Waar jy tevore dalk hulp by jou spanlede kon gekry het, moet jy nou tuis alleen beroepsuitdagings baasraak.
Laat ruimte hiervoor toe en kyk of iets benewens virtuele werkvergaderings jou kan help om kop bo water te hou. Dalk kan jy jou laat heroplei?
Dit sal wys wees om nie net by jou man emosionele steun te soek nie, maar om ook ’n vriendin gereeld buite die huis te sien. So iemand moet ’n goeie klankbord wees en na jou probleme luister sonder om te oordeel. Jy soek onvoorwaardelikheid by so iemand, want die inperking stel reeds soveel voorwaardes aan jou.
Ek is bly jy het ’n ondersteunende man, maar onthou dat sy rol dalk ook verander het en die frustrasies van die aanpassings hom dalk ook onkant kan betrap.
Noudat julle meer tyd saam deurbring, moet julle ’n hoë premie op bedagsaamheid plaas en mekaar van jul behoeftes vertel.
Toon klein blyke van waardering soos ’n geskenk op die regte tyd, gee toe in ’n rusie en wees ’n vredemaker.
Die slapeloosheid sal jy met jou huisdokter moet bespreek. Dit kan ’n voorloper van angs of depressie wees. Vind so gou moontlik uit of jy medikasie en behandeling daarvoor moet kry.