Huisgenoot

Wanneer die maan verdonker . . .

-

BAIE oë is op 26 Mei na die hemel gelig toe ’n maansverdu­istering sigbaar was uit dele van Noord Amerika, Australië en Asië. Die maan word verduister wanneer die aarde se skaduwee op die maan val. Aangesien die son die hele tyd op die aarde skyn, het die planeet natuurlik ’n skaduwee aan die nagkant. En as die maan in sy wentelbaan om die aarde wentel, dan is dit so dat die maan soms presies deur die aarde se skaduwee gaan.

Die son is so groot en so helder dat nog ’n interessan­te ding gebeur: Die aarde het twee soorte skaduwees. ’n Klein, donker skaduwee, wat ons die “umbra” noem, word omring deur ’n groter maar ligter skaduwee, genaamd die “penumbra”.

’n Maansverdu­istering duur gewoonlik so twee uur lank. In dié tyd sal jy sien hoe die gewoonlik wit en grys plekke op die maan geleidelik geel en dan donkerrooi word. Dis hoekom die verduister­ing soms die “bloedmaan” genoem word, maar wees gerus: Geen maan word ooit seergemaak in die proses nie.

Die buiteskadu­wee (penumbra) laat die maan rooi lyk omdat daardie lig reeds deur die aarde se atmosfeer gegaan het, waar die blou lig geabsorbee­r is. So: Om dieselfde rede dat die lug op aarde blou lyk, lyk die aarde se skaduwee rooi. Wanneer lig deur ons atmosfeer gaan, kom net rooi anderkant uit.

Die maansverdu­istering van 26 Mei was ook spesiaal omdat die maan toe ook ’n “supermaan” was. Die baan wat die maan om die aarde volg, is ’n ovaal en nie presies ’n sirkel nie. Dit beteken die maan is soms ’n bietjie nader aan die aarde en soms ’n bietjie verder. Die supermaan lyk groter en helderder. Instagram is mal daaroor.

Die maan se gemiddelde afstand van die aarde af is 382 900 km. Met supermaan is hy 360 000 km weg, en op sy verste – met mikromaan – is hy 405 000 km weg. Dis ’n verskil van 45 000 km. Die supermaan lyk 6% groter as wat die maan gewoonlik vir ons lyk.

DRIE SOORTE MAANSVERDU­ISTERING

■ Algeheel Met ’n algehele maansverdu­istering beweeg die maan presies deur die aarde se umbra – die donkerste deel van die skaduwee.

■ Gedeelteli­k Dis wanneer net ’n deel van die maan in die umbra inbeweeg. Dit beteken die son, aarde en maan is nie in ’n reguit lyn nie.

■ Halfverdui­stering Die maan glip net deur die penumbra – die halfskaduw­ee wat sy oppervlak net donkerder en rooier laat voorkom.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa