Die grootste hawens
Hulle is op waterweë geleë en speel ’n groot rol in die vervoer van passasiers en goedere
’NHAWE is ’n veilige plek aan die kus of langs ’n groot meer of bevaarbare rivier waar skepe kan aandoen. Dis beskerm teen groot golwe en seestrome. As die hawe in ’n inham geleë is, noem ons dit ’n natuurlike hawe. Kunsmatige hawens kom voor waar die mens seemure en hawehoofde (keerwalle) bou om die hawegebied kalm te hou. In groot hawens laai skepe goedere in en uit. Daar is ook hawens wat toegespits is op woonbote, vissersbote en -geriewe en hawens wat plek het vir groot passasierskepe. Ons kyk na die heel grootste hawens.
DOEL
Die hoofdoel van groot hawens is om goedere wêreldwyd te verskeep. Nog ’n doel – veral in vroeër jare voor lugvervoer – is om mense te vervoer. Daarom het talle van die wêreld se grootste stede rondom ’n besige hawe tot stand gekom. Dink maar aan groot kusstede in Suid-Afrika, soos Kaapstad en Durban.
VERKEER
Hawens word ingedeel volgens die verskillende soorte verkeer wat daar hanteer word. ’n Nywerheidshawe spits hom toe op grootmaatvrag soos graan, suiker, ystererts, steenkool, olie, chemikalieë en soortgelyke produkte. ’n Kommersiële hawe hanteer algemene vragte soos verpakte produkte en vervaardigde goedere, asook passasiersverkeer. Omvattende hawens hanteer grootmaaten algemene vragte in groot getalle.
EENHEDE
Dis nie altyd so maklik om die data oor vragverkeer in hawens met mekaar te vergelyk nie. Die vragte se tonnemaat, algehele massa of volume (vir vloeibare vrag) kan nie geredelik direk met mekaar vergelyk word of in ’n enkele gestandaardiseerde eenheid omgeskakel word nie.
TEU
’n Nuttige maar onpresiese eenheid is die TEU (twenty-foot equivalent unit) wat vragskepe en vraghouerhawens help om kapasiteit te bepaal. Dit is gegrond op die volume van die 20 voet (6,1 m) lange vraghouer, ’n standaardgrootte-metaalboks wat maklik tussen verskillende vervoermiddels soos skepe, treine en vragmotors oorgelaai kan word. Die TEU is gegrond op die vraghouer se lengte, maar die houer se hoogte kan wissel (en daarom is die TEU onpresies). Die hoogte wissel tussen 1,3 m en 2,9 m, maar die algemeenste hoogte is 2,59 m. As die vraghouer 40 voet lank is, word dit as 2 TEU beskou.
Besigste hawens volgens vraghouerverkeer
(gegrond op jongste beskikbare data uit 2018)
Shanghai (China) – 43,3 miljoen TEU Singapoer (Singapoer) – 37,2 miljoen TEU Ningbo-Zhoushan (China) – 27,5 miljoen TEU Shenzhen (China) – 25,8 miljoen TEU Guangzhou (China) – 23,2 miljoen TEU Busan (Suid-Korea) – 22 miljoen TEU Qingdao (China) – 21 miljoen TEU Hongkong (China) – 18,4 miljoen TEU Tianjin (China) – 17,3 miljoen TEU Rotterdam (Nederland) – 14,8 miljoen TEU
Besigste hawens volgens tonnemaat
(gegrond op jongste beskikbare data uit 2017) Ningbo-Zhoushan (China) – 1 077 110 kiloton Shanghai (China) – 705 630 kiloton Singapoer (Singapoer) – 626 170 kiloton Suzhou (China) – 607 740 kiloton Guangzhou (China) – 566 190 kiloton Tangshan (China) – 565 400 kiloton Qingdao (China) – 507 990 kiloton
Port Hedland (Australië) – 505 330 kiloton Tianjin (China) – 502 840 kiloton Rotterdam (Nederland) – 467 350 kiloton
Die meeste van die grootste hawens is in China. Dit hang saam met China se opkoms as ekonomiese mag. Invoer en uitvoer is van kardinale belang vir dié land met sy 1,4 miljard mense.