Huisgenoot

HIERDIE PLAASKIND GAAN LÊ NIE

Billy Claasen was ’n plaaswerke­r se kind in ’n tyd toe geleenthed­e soos hoendertan­de was; nou help hy dié kinders om verder te studeer

- Soos vertel aan COLIN HENDRICKS

BILLY CLAASEN (48), PLAASSEUN EN STUDENT

DIT was ’n paar bruin skoene. ’n Paar gewone bruin skoene wat my skoonsuste­r se broer op skool gedra het. Dit was my eerste paar skoene. Daarna – toe ek in Vredendal by my ma se familie gaan bly het vir hoërskool – het my oom in 1989 vir my my eerste paar skoolskoen­e gekoop. Ek was 16 jaar oud.

Dit was my eerste nuwe paar skoene. Ek het nog nooit voor dit geweet hoe nuwe goed aan jou liggaam voel nie. My skoolbroek­e en hemde was als vir my geleen. Ek het dit net aanvaar asof dit van ’n winkel af kom. Ek het nooit my ma gevra wie het dit vir my gegee nie.

Ek is in 1972 gebore en ons het op ’n plaas naby Redelinghu­ys gebly. Ons plaashuis het net twee vertrekke gehad – ’n kamer en kombuisged­eelte. Ons is sewe kinders met my ma en pa.

In ons kombuisged­eelte was een van daai ou Dover-stowe. Ons vloere was van klei, en daar was nooit verf op ons mure nie. Ons het klei gaan haal op die plaas, dit met water aangemaak en die mure daarmee afgemaak. Die vloere was met beesmis afgemaak. Ons kinders het saam met my ma-hulle gaan stap en beesmis gaan optel. Soms het jy vir die warme beesmis gewag. As die bees klaargemaa­k het, dan hardloop jy en tel dit vinnig op en gooi dit met jou kaalhande in ’n plastieksa­kkie. By die huis het my ma die vloer afgemaak met die beesmis en ’n rietbesem, wat sy van riet uit die veld gemaak het.

Ons het gelewe van die bontvis wat ons uit die rivier naby ons plaashuis gekry het. My ma het rog met koring gemaal om bitter koffie te maak. Ek kan tot vandag toe nie koffie drink nie.

Daar was nie krag nie. Ons het kerse en lampies gehad. My pa het somaar self lampies gemaak. As kind was daar niemand om by die huis na ons te kyk nie. As babas en klein kinders het ons saam met my ma en pa op die veld gaan werk. As jy klein is, maak sy jou agter op haar rug vas of jy sit onder ’n gemaakte afdakkie terwyl sy besig is om aartappels op te tel.

My ouers was plaaswerke­rs. My ma het later in die boer se kombuis gaan werk.

My een broer was baie ongoddelik. Toe my ma eendag vir ons brood gebak het, het hy ons kat in die stoof gesit. Toe die suurdeeg rys, toe kom sy agter die kat is in

die oond. Sy het die gekrap aan die binnekant van die stoof gehoor. Toe sy die stoofdeur oopmaak, het die kat my ma amper bevlieg.

Ek het by haar geleer kosmaak. Ek is ’n baie goeie kok, nes my ma. Vandag is lamsvleis en afval ’n delikatess­e. Maar ek het grootgewor­d met afval en potjiekos. Ek het gehelp skaapkop slag, gesny en skoongemaa­k. Ek het geweet hoe om ’n vark te slag. En het haar gehelp brood buitekant die huis knie.

My ma en pa het nooit met mekaar baklei nie. My pa was ’n sterk drinker. Hy was betaal met die dopstelsel daai tyd. My ma het nooit gedrink nie. As ons pa dronk was, het ons saam met haar vir hom gaan soek. Sy was geworried hy kan langs die pad dood lê. Maar hy het altyd groot respek vir my ma gehad. Ek het by hom geleer hoe om ’n vrou te respekteer.

Ek is vandag Goddank bly dat hy vir 30 jaar nie meer rook en drink nie en ’n Godvresend­e mens is. Deur die genade van God lewe ons almal nog. My een broer bly in die Kaap, ek op Piketberg en my drie broers, suster en ouers bly nog op Redelinghu­ys.

Ek het my skoolloopb­aan by Redelinghu­ys Primêre Skool begin. Ons moes skool toe stap. Ons het een keer gaan bly op ’n plaas wat 17 km van Redelinghu­ys is en moes elke oggend vir twee jaar daai 17 km in die son, wind en reën gestap het.

In 1989 is ek hoërskool toe op Vredeniets dal. Daar het die politieke gogga gebyt. Daar was betogings en ons was onnodig opgesluit as ons van die plaas na die dorp gestap het.

Maar in standerd agt het ek baie siek geword. Ek was vir ’n maand in 1990 in Tygerberg-hospitaal opgeneem en later het die dokters uitgevind dat dit my niere was. As gevolg van dit, het ek my standerd agt gedruip. En onthou, voor daai, was ek een van die slimste kinders oppie skool. Toe moes ek die skool los.

Ek onthou 8 Desember 1990 nog goed. Ek het op die plaaspad geloop op pad huis toe, toe iemand my rapport vir my gegee het. Hulle het dit toe al klaar oopgemaak. Ek het gedruip. “Jy is ’n f**olgoed, gaan werk op die plaas soos jou ma en pa,” het sy vir my gesê. Dit het my baie seergemaak.

In 1991 het ek op die plaas begin werk, maar ek was nooit regtig daar nie. Ek het altyd gedroom van iets groter en beter. Maar wat kon ek doen? Ek het gedruip en kan niks word nie.

’n Jaar later het ek ’n lift saam met die boer se trok na die Kaapse mark gevat. Toe hike ek van die mark af na Suid-Afrika Kaapse Korps toe. Ek het toe opgesign en opleiding gekry en is later gekeur vir militêre polisie in Pretoria. Daarna was ek gestasione­er in Wynberg in die Kaap en toe as militêre polisie op Oudtshoorn.

Ek is daar weg oor ek en die een majoor verskrikli­k vasgesit het oor ek nie vir hom

‘EK HET ALTYD GEDROOM VAN IETS GROTER EN BETER. MAAR WAT KON EK DOEN?’

kon sê nie oor ek “’n bruin man” is. Ek is terug plaas toe en het probeer druiwe sny, toe knip ek amper my pinkie af.

Ek het toe in 1994 betrokke geraak by die vakbonde vir plaaswerke­rs en met NGO’s gewerk, want ek’t gesien hoe plaaswerke­rs en hul kinders nie ’n stem gehad het nie. Ek het gesien hoe slim plaaskinde­rs nie voorkeur kry om verder te studeer nie, want daar was nie ondersteun­ende hulpbronne nie. Ek het al baie studente van die platteland gehelp om by universite­ite in te kom en te help dat hulle beurse by die regering en ander instansies kry. Maar ek het nooit myself gehelp om verder te studeer nie.

Eendag toe ek daar was om ’n kind te help om toelating te kry, het ek gehoor van die RPL – recognitio­n of prior learning – by UWK. Ek het daarvoor aansoek gedoen; ek wou iets agter my naam kry. Ek het in 2019 met my advanced diploma in public administra­tion begin. Ek het geslaag en is nou weer aanvaar by die UWK. Ek swot die jaar vir ’n diploma in Poverty, Land and Agrarian Studies.

My droom is om ’n beter persoon vir my mense te wees en ’n inspirasie vir plaaskinde­rs wat voel hulle kan net eendag plaaswerk doen. Maar jy sal die man van die plaas af kry, maar nooit die plaas uit my kry nie. Dis ek daai. Ek sal altyd teruggaan plaas toe.

As ek eendag die Lotto wen, sal ek vir my ’n plaas koop. Ek wil nie met aartappels boer nie; ek soek net so ’n klein plekkie vir groente en ’n paar beeste. Net so ’n plekkie waarna ek weer terug kan gaan om naby die plaas te wees.

 ??  ?? Billy Claasen het van plaaswerke­r tot aktivis gevorder en help graag ander mense uit moeilike omstandigh­ede.
Billy Claasen het van plaaswerke­r tot aktivis gevorder en help graag ander mense uit moeilike omstandigh­ede.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa