TurksetelenovellesboeiSA’ners
Suid-Afrikaners sit vasgenael voor oorgeklankte Turkse telenovelles. Hoe kry dié reekse dit reg om kykers so mee te voer?
DIE vele intriges draai dikwels om die wel en wee van die liefde, maar dit is geen gewone sepie nie. Die vroue is beeldskoon en die mans aantreklik, maar hulle is allesbehalwe bekende gesigte op ons plaaslike skerms. Trouens, ons ken die akteurs eintlik van g’n kant af nie . . .
Tog hou Turkse telenovelles – ja, nie net een van hulle nie, sommer ’n halfdosyn – derduisende Suid-Afrikaners deesdae elke weeksaand vasgenael voor hul televisieskerms.
Dié reekse, wat vanuit Turks in Afrikaans oorgeklank word en ook Engelse onderskrifte kry, is trouens deesdae so gewild dat van die sterre wat eintlik ’n heel ander taal praat nou ’n groot Afrikaanse aanhang het.
“Ek gee nie om of die kos op die stoof brand nie; ek wil nie hoor wat my man en kinders te sê het nie. Almal moet my uitlos sodat ek my stories kan kyk,” skryf die kyker Ronel Ferreira op die Facebookgroep “Turkse sepies op eExtra”.
Dié “stories” is kykstof so lekker soos Turkish delight, kan jy maar sê. Toe die eerste oorgeklankte episode van die telenovelle Gebroke harte in Oktober 2018 op eie bodem uitgesaai is, het ongeveer 120 000 mense landwyd ingeskakel. Die kykergetal het intussen so gegroei dat meer as 2 miljoen mense nou die Turkse novelles – met name soos Bittersoet, Doodsondes en Stiletto-vendetta – getrou op e.tv en en eExtra volg. Die eerste daarvan skop elke weeksaand om 17:30 af, en daarna word hulle die een ná die ander ingeryg tot om 22:30.
En wanneer aanhangers eindelik ná vyf uur se kykgenot van die rusbank opstaan, bespreek hulle druk die jongste gebeure in Facebookgroepe wat spesiaal daarvoor gestig is.
“Iemand moet net vir Koray ’n groot klap gee. Een wat hom sal laat lê. ’n Regte knockout-klap,” skryf ’n aanhanger op die blad van die novelle As die skoen pas.
“Ek stem 100% saam,” beaam ’n ander kyker. “Hy werk net op my nerves.”
MAAR hoe kry die telenovelles, wat in ’n vreemde land met vreemde akteurs in ’n vreemde taal, verfilm is, dit reg om Suid-Afrikaanse kykers so mee te voer? ’n Aantreklike rolverdeling in stylvolle klere, boeiende intriges, pragtige natuurtonele en storielyne wat van goeie familiewaardes getuig, is van die bestanddele van die wenresep.
Omdat die telenovelles as “skoon” beskou word, kan oud en jonk daarna kyk, sê Marli Schulze, ’n inhoudspesialis by e.tv. Die Turkse kultuur is te bedees om vuurwarm tonele tussen die lakens op die skerm toe te laat, verduidelik sy.
“Eers ná tientalle episodes sal jy dalk ’n enkele vinnige kus tussen twee spelers sien. Die Turke het met hierdie programme die kuns vervolmaak om intimiteit grootliks deur die dialoog en ook deur die akteurs se spel uit te beeld.”
Ondanks hul gewildheid loop die telenovelles ook onder kritiek deur. Hoewel swak toneelspel plek-plek deurslaan en die oorgeklankte Afrikaanse woorde nie altyd presies gesinchroniseer is met die beweging van die Turkse akteurs se monde nie, meen aanhangers die beeldskone karakters en die uitmuntende gehalte van die Afrikaanse dialoog en Engelse onderskrifte vergoed daarvoor.
En moenie dink dit is net vroue wat saans regskuif vir die volgende episode van hul gunsteling- oorgeklankte program nie. Onlangse kykernavorsing deur e.tv wys mans van alle ouderdomme – van tienerseuns tot gryskoppe – kyk dit ook graag saam met hul ma of die vrou in hul lewe.
Die Turkse telenovelles – van romantiese komedies en dramas tot speurverhale – is nie net in Suid-Afrika ’n wegholsukses
nie; dit word ook in ander tale oorgeklank en maak opslae in Sentraalen Oos-Europese lande. Ook in Spanje en LatynsAmerikaanse lande verkoop die reekse soos soetkoek, al lewer dié lande ook hul eie gewilde plaaslike kykstof op.
En hoe verskil die telenovelles van meer tradisionele sepies? Anders as ’n sepie het so ’n novelle ’n begin, middel en einde, verduidelik Marli. “Dit verloop oor meer as 60 episodes en kom eindelik tot ’n einde. ’n Sepie kan deur die jare net aanhou en aanhou.” Sy beskou die Turkse telenovelles geensins as ’n plaasvervanger vir ons plaaslike sepies nie, sê Angela Richardson van Redhead Global, ’n televisieverspreidingsmaatskappy wat internasionale programme na Afrika-uitsaaiers bring. “Dit dien eerder as net nog ’n vorm van televisievermaak vir kykers.”
Die Turke het ’n wonderlike manier van stories vertel, meen sy. Sy glo die emosionele en spannende dialoog asook die hoë produksiegehalte van die reekse help om dit ’n wenresep plaaslik te maak.
“Jare gelede het e.tv die goeie inhoud van die Turkse programme raakgesien en gedink dit sal wonderlik wees vir hul Afrikaanse mark, vertel sy. “Hulle het die puik idee gehad om ’n groot verskeidenheid Afrikaanse plaaslike stemme – veral van die Wes-Kaapse mense, insluitend die dialek van inwoners van die Bo-Kaap en Kaapse Vlakte – vir die oorklank van die
programme te gebruik sodat kykers makliker met die spelers kan identifiseer.”
En intussen het die gewildheid van die reekse – en die getal plaaslike stemme wat daarin gehoor kan word – net toegeneem. Van die gesoute akteurs wat al in die Turkse novelles hul stemme laat opklink het, is Rolanda Marais, Lochner de Kock, Deon Coetzee, Henriëtta Gryffenberg, Abduragman Adams, Marion Holm en Simon Bruinders.
“Ons herskryf die Afrikaanse teks met plaaslike idiome en sêgoed sodat kykers hulle met die karakters kan vereenselwig,” vertel Marli. En op dié manier bring die reekse oorsese drama huis toe.
WANNEER e.tv die Turkse novelles aankoop, is die Turkse teks reeds in Engels vertaal. Dan spring sowat 200 mense – onder wie regisseurs, klankingenieurs en stemkunstenaars – in om dit in ’n Afrikaanse reeks te omskep. Nadat vertalers die Engelse teks in Afrikaans vertaal het, herskryf teksskrywers die dialoog om dit meer toepaslik vir die Afrikaanse gehoor te maak.
Die episodes word dan na drie verskillende oorklankingsateljees in Johannesburg en Kaapstad gestuur waar plaaslike akteurs en stemkunstenaars dit in Afrikaans oorklank.
Daarna word die Afrikaanse dialoog in Engels vertaal vir die onderskrifte.
In die ateljee kyk die stemkunstenaars na die Turkse beeld op ’n skerm terwyl hulle die Afrikaanse oorklanking doen. “Hulle probeer dan om die woorde in die akteur se mond te laat pas. Hulle praat wanneer die akteur praat en stop wanneer hy of sy ophou praat. Hulle sug wanneer die akteur sug en gee ruspouses wanneer daar een is,” verduidelik Marli. “Daarna word die episode stuk vir stuk aanmekaargesit met die musiek en klankeffekte.”
Ongelukkig glip klein jakkalsies soms in, erken sy. Perfekte sinchronisasie tussen die Afrikaanse woorde en Turkse monde is nie altyd moontlik nie.
“Die gehalte van die verfilming, die Turkse musiek en die uitsonderlike storielyne vergoed daarvoor,” meen sy. “Danksy die Afrikaanse dialoog is die episodes bekend genoeg vir die kykers, maar dit is steeds eksoties genoeg om hulle deurentyd te boei.”
DIÉ REEKSE IS SO GEWILD DAT VAN DIE STERRE NOU ’N GROOT AFRIKAANSE AANHANG HET
DIS stikdonker en snerpend koud, maar tienduisende drawwers staan skouer teen skouer en wag op die oomblik waarvoor hulle so hard gewerk het. In sitkamers landwyd sit gesinne met bekers stomende koffie met ewe veel afwagting voor die televisie. Die opgewondenheid styg wanneer die hoendervelklanke van “Chariots of Fire” oor die atlete spoel. Dan kraai die hoenderhaan en met ’n gejuig begin die see van mense deur die strate stroom.
Dis die begin van nog ’n Comradesmarathon, Suid-Afrika se weergalose sportskouspel wat vanjaar ’n eeu oud is.
Dis 90 km van bloed, sweet en trane, ongelooflike drama en heldedade. Een jaar afdraand van Pietermaritzburg na Durban; die volgende jaar opdraand. Teen moordende bulte soos Polly Shortts en Cowies Hill word atlete gebreek en legendes gebore. Wally Hayward, Bruce Fordyce, Frith van der Merwe, Nick Bester, David Gatebe . . .
“Die Comrades is uniek in soveel opsigte,” vertel Cheryl Winn, voorsitter van die Comrades Marathon Association (CMA) en die 1982-vrouekampioen. “Die oudste, grootste en beroemdste wedloop in Suid-Afrika geniet
die respek van hardlopers oral.”
Maar dis nie die kampioene wat aanhangers so begeester nie. Die hardste toejuiging is vir gewone deelnemers wat, fisiek geknak, soms letterlik oor die eindstreep kruip. Ons word ontroer deur onselfsugtige atlete wat ander na die einde sleepdra; en jy huil saam met dié wat net-net die afsnytyd misloop.
Die Comradesheld Nick Bester reken dis die groot gros gewone deelnemers “wat in die donker begin hardloop en in die donker klaarmaak” wat dié ultra
marathon so glorieryk maak.
“Die son brand, jou tone is stukkend, jou skene pyn, jy’s honger en dors, dalk gedehidreer, maar jy maak klaar. Dis dié ouens wat die wedloop maak,” sê Nick.
Want daardie Comradesmedalje verteenwoordig die triomf van die menslike gees bo geweldige uitdagings – nes ’n Suid-Afrikaanse oorlogsveteraan dit 10 dekades gelede beoog het.
Op 13 Junie vanjaar sou die 95ste Comrades “af ” na Durban gehardloop word – volgens gesoute Comrades-atlete erger as om “op” te hardloop.
Toe kom die coronaviruskrisis en pootjie alles. Maar in die ware gees van die marathon word ’n virtuele, meer inklusiewe wedloop gereël vir al die duisende vaardige langasems, doodgewone geesdriftiges en dromers reg oor die wêreld wat bo die pandemie wil uitstyg.
Want in die woorde van Louis Massyn (70), houer van die meeste Comradesmedaljes ooit: “Daar’s regtig net een woord vir die Comrades: kameraadskap.”
Ons kyk na 100 jaar se trane en glorie. UIT DIE PUIN VAN OORLOG
Die Comrades was die geesteskind van Vic Clapham, ’n veteraan van die Eerste Wêreldoorlog, wat ’n lewende eerbewys wou skep vir die Suid-Afrikaanse soldate wat in daardie konflik dood is.
As soldaat moes hy en sy kamerade ’n uitmergelende 2 700 km ver te voet aflê deur die onherbergsame en snikhete
Duits-Oos-Afrika terwyl hulle Duitse koloniale troepe agternasit. As hulle as troepe belaai met wapens, ammunisie en ander voorraad dit kon doen, het Vic geredeneer, sou opgeleide atlete sekerlik 90 km ver kon hardloop. Want dit was die punt: ’n toets van deelnemers se uithouvermoë.
Die wedloop se naam, Comrades, kom van die kameraadskap van soldate wat saam beproewings deurgemaak het. Die eerste marathon is op 24 Mei 1921 gehou en daarna jaarliks met die uitsondering van die Tweede Wêreldoorlog (1941-1945) en die afgelope twee jaar weens covid.
Die eerste wedloop het net 34 manlike deelnemers gehad en 16 het die afstand voltooi. Die eerste wenner, Bill Rowan, se 8:59 bly die stadigste wentyd vir mans. DIE EEUVIERING
Die virtuele Comrades Centenary Hope Challenge – wat kort ná ons saktyd sou plaasvind – is meer as net ’n eeuviering, sê Cheryl Winn.
“Dit versinnebeeld hoop te midde van soveel swaarkry, verlies en die groot ontwrigting van ons lewe. Ons maak voorsiening vir mense van alle vermoëns wat kan hardloop, stap of selfs in ’n rolstoel aan afstande van 5 km, 10 km, 21,1 km, 45 km of 90 km deelneem en 24 uur sal hê om hul gekose afstand te voltooi.”
Die 2020-Comrades was ook virtueel en meer as 43 700 mense het daaraan deelgeneem.
Vanjaar se Hope Challenge sou op Sondagoggend 13 Junie om 00:01 begin en om 23:59 eindig. Deelnemers kon tot op die dag registreer vir die uitdaging van hul keuse en dan hul wedloopdata laai – alles op die Comradeswebtuiste. En jy stap of hardloop dit waar jy wil: in jou woonbuurt, in jou tuin, op ’n trapmeul . . . solank jy covid- en padregulasies eerbiedig.