Mamishandeltoeaangenomekind
Die inspirerende verhaal van die ma en haar aangenome dogters was toe een van beweerde mediese mishandeling
DIS op die oog af ’n inspirerende storie. ’n Amerikaanse sendeling in Zambië neem twee weeskinders aan. Een van hulle is ’n baba wat in haar ma se baarmoeder aan dwelms en alkohol blootgestel is en waarskynlik met haar gesondheid sal sukkel. Terug in Amerika ontsien die aanneemma geen moeite nie. Sy ondersteun die jongste kind toe die seldsame neurologiese toestand gekruiste hemiplegie by haar gediagnoseer word, staan haar deur etlike operasies by en samel aanlyn geld in om vir die mediese rekeninge te betaal. Maar dan raak die verhaal meteens bisar.
Medici by ’n hospitaal begin vermoed die kind is nie regtig so siek soos wat die aanneemma sê nie, sy word uit haar ma se sorg verwyder en kort voor lank staan Sophie Hartman (31) van Renton, Washington, tereg op aanklagte van kindermishandeling. Want dié barmhartige samaritaan het na bewering vir haar aangenome kind allerlei siektes uitgedink waaraan die kind nooit gely het nie. Die verhaal van Sophie en haar twee dogtertjies, Miah (10) en Carmel (6), was so inspirerend dat Sophie selfs ’n boek daaroor geskryf het, Crowns of Beauty: A Story of Brokenness, Courage and Beauty Rising from Ashes. Nou blyk dit die verhaal was dalk al die tyd een van mediese mishandeling en waansin.
DIE polisie meen Sophie ly aan “Münchhausen se sindroom deur prokurasie”. Dié toestand behels dat ’n mens aandag probeer kry deur siektes vir iemand in hul sorg uit te dink en daardie persoon aan onnodige behandeling te onderwerp. Dié ernstige geestesiekte is genoem na die beroemde ou spekskieter Baron von Münchhausen, en “deur prokurasie” beteken die fabelagtige verhale word op iemand anders van toepassing gemaak: in dié geval die kind.
Niemand sou kon raai enigiets skort met Sophie toe sy as jong vrou sendingwerk in Zambië gedoen het nie. Daar het sy as ’n pleegma vir klein Miah (toe vier jaar oud) en Carmel (pas gebore) opgetree. Nadat sy die twee aangeneem en in 2015 saam geneem het Amerika toe, het sy Carmel deur dokters laat ondersoek. Hulle het bevind die kind het inderdaad breinskade. Dit het nie lank geneem voor Sophie die skade begin aandik het nie. Sy het dokters wysgemaak die kind het die spesifieke geen wat verantwoordelik is vir gekruiste hemiplegie in kinders.
Nadat sy haar dogter se toestand met die wêreld gedeel en hul lewe via sosiale platforms en in haar boek gedokumenteer het, het die geld ingestroom. Danksy ’n GoFundMe-blad kon Sophie ’n gespesialiseerde rolstoel vir haar “verlamde” dogter koop, en stigtings soos Make-aWish, wat kritiek siek kinders se wense bewaarheid, het na hulle uitgereik.
Maar by die Seattle-kinderhospitaal het dokters en verpleegsters ál bekommerder begin raak. Sophie het met elke besoek ingrypender prosedures versoek. ’n Ondersoek het gevolg. Een van die onthullings was dat Sophie onder meer die volgende soekterme met haar selfoon op die internet opgesoek het: “kogleêre inplanting swart kind” en “hoe om betaling te kry om ’n familielid met ’n gestremdheid te versorg”. Die polisie het ook afgekom op ’n dagboekinskrywing van Sophie wat lui: “As dit kom by lyding, is ek ’n kompulsiewe leuenaar/oordrywer.”
Nadat dokters bevestig het daar is inderdaad geen genetiese bewyse vir van die toestande waaraan Sophie beweer Carmel ly nie, is sy in hegtenis geneem. Die saak is nou in die hof se hande en die twee kinders is uit Sophie se sorg verwyder. En nou wag die wêreld om te sien wat sal word van die samaritaan wat haar aangenome dogter pal hospitaal toe wou sleep.