Huisgenoot

Hunter Biden se lewensverh­aal

-

Op twee het hy sy ma en suster in ’n motorongel­uk verloor. Dekades later, ná die dood van sy broer, het hy aan crack verslaaf geraak. In hierdie uittreksel uit sy boek herleef Hunter Biden, seun van die Amerikaans­e president, die gesinstrag­edie en dwelmversl­awing wat hom byna vernietig het – en die wonderwerk wat hom gered het

TOE ek in November 2019 hieraan begin skryf het, was ek midde-in ’n politieke storm. Die president van Amerika het my byna daagliks van die South Lawn van die Withuis beswadder. Hy het my naam by saamtrekke uitgeroep om sy ondersteun­ers op te stook. “Where’s Hunter?” het “Lock her (Hillary Clinton) up!” as Donald Trump se gunsteling­slagspreuk vervang. Jy kon selfs ’n Where’s Hunter?-T-hemp op sy veldtog se webtuiste koop – R350, van klein tot 3XL-groottes.

Kort daarna het ondersteun­ers met MAGA-pette buite die hek van my en my vrou, Melissa, toe vyf maande swanger, se huurhuis in Los Angeles begin rondhang. Ons het die polisie ontbied om van hulle ontslae te raak. Tog het die dreigement­e – waaronder ’n anonieme teksboodsk­ap aan een van my dogters by die skool om haar te waarsku hulle weet waar ek bly – ons gedwing om ’n veiliger adres te soek. Melissa was vreesbevan­ge – oor haar, ons en ons baba se veiligheid.

Ek het die teiken geword van Trump se vrees dat hy nie herverkies sou word nie. Hy het sameswerin­gsteorieë oor werk wat ek in Oekraïne en China gedoen het, begin verkondig. Ek het verwag die president sou al heelwat vroeër veel persoonlik­er geraak het en die duiwels en verslawing­s uitbuit waarteen ek jare lank reeds veg.

Waar’s Hunter? Ek’s hier. Ek is al deur erger dinge in die gesig gestaar en het oorleef. My ma en babasussie is in ’n motorongel­uk dood toe ek twee was, my pa het ’n lewensgeva­arlike breinaneur­isme en embolisme in sy 40’s oorleef en my broer het heeltemal te jonk aan ’n verskrikli­ke breinkanke­r gesterf. Ek kom uit ’n familie wat deur tragedies gesmee is en deur ’n merkwaardi­ge, onvernieti­gbare liefde saamgesnoe­r word.

Vir die rekord: Ek is ’n 51-jarige pa wat drie pragtige dogters (uit sy eerste huwelik met Kathleen Buhle Biden) help grootmaak het. Twee is op universite­it

en een het verlede jaar ’n regsgraad verwerf. Ek het nou ook ’n eenjarige seun. Ek het grade aan Yale se regsfakult­eit en die Georgetown-universite­it verwerf, waar ek ook klas gegee het.

Ek was ’n senior uitvoerend­e beampte by een van die land se grootste finansiële instelling­s, het as advokaat vir Boies Schiller Flexner gewerk, wat talle van die wêreld se grootste organisasi­es verteenwoo­rdig, is in die bestuur van die nasionale passasiers­poordiens (deur die Republikei­nse president George W. Bush aangestel) en was die voorsitter van die welsynorga­nisasie World Food Program USA. Ek het ernstige werk vir ernstige mense gedoen.

Ek is ook ’n alkoholis en ’n dwelmslaaf. Ek het crack-kokaïen op die strate van Washington, DC, gekoop en my eie vervaardig in ’n selfsorgee­nheid in Los Angeles. Ek was al so desperaat vir drank dat ek nie die een blok van ’n drankwinke­l tot by my woonstel kon stap sonder om ’n sluk uit die bottel te neem nie.

In die afgelope vyf jaar het my huwelik van twee dekades (met Kathleen) verbrokkel, vuurwapens is in my gesig gedruk, en in ’n stadium het ek heeltemal van die radar af verdwyn en in ongure motelle gebly. Vir my familie wat dit selfs ’n groter skok as vir my.

Daardie laagtepunt het gekom nadat my broer, Beau, die beste vriend wat ek ooit gehad het en die mens vir wie ek die liefste in die hele wêreld was, sy laaste asem uitgeblaas het terwyl hy in my arms was. Ons het op die oggend van 29 Mei 2015 Beau se lewensonde­rsteuning afgeskakel. Hy het geen reaksie getoon nie en het skaars asemgehaal.

Dokters het gesê hy sou binne enkele ure nadat sy trageotomi­ebuis verwyder is, ophou asemhaal. En toe sit ek langs my ouboet se bed en hou sy hand vas. Hy was 46.

Ek het ná Beau se dood meer alleen as ooit gevoel. Ek het hoop verloor. Ek het sedertdien myself uit daardie donker, droewige gat getrek. Sonder die onvoorwaar­delike liefde van my pa en die liefde van my broer, wat ná sy dood voortgeduu­r het, sou ek nie kon herstel nie.

EK HET ’n enkele herinnerin­g van die vroegste oomblik en die een wat die grootste nagevolge vir my sou hê. Dit was op 18 Desember 1972. My pa het pas die veldtog gewen om die junior senator van Delaware te word; hy het drie weke ná die verkiesing 30 geword en net-net aan die senaat se ouderdomsv­ereiste voldoen voor hy in Januarie sy eed afgelê het.

Daardie dag was hy in Washington, DC, om onderhoude te voer met die personeel vir sy nuwe pos. My ma, Neilia, beeldskoon en briljant en net 30, het my en Beau en ons babasussie, Naomi, geneem om ’n Kersboom te gaan koop.

Beau is amper vier; ek amper drie. Ons is ’n jaar en ’n dag uit mekaar gebore. In my geestesoog is dit wat volgende gebeur het: Ek sit op die agtersitpl­ek van ons ruim wit Chevy-stasiewa, agter my ma. Beau sit langs my. Baba Naomi – wat bleek, plomp en skynbaar uit die bloute 13 maande tevore by ons gesin aangesluit het – slaap vas in haar drawiegie voor op die passasiers­itplek. Ons het haar die bynaam van een van ons gunsteling­strokieska­rakters, Casper the Friendly Ghost, gegee.

Skielik sien ek my ma se kop na regs draai. Ek onthou niks anders aan haar profiel nie: Die kyk in haar oë, die uitdrukkin­g om haar mond. Haar kop swaai bloot. Op daardie oomblik duik my broer reguit na my toe – of eintlik word hy na my geslinger.

Dis al. Dit is vinnig, gewelddadi­g en chaoties: Ons ma het stadig oor ’n vierrigtin­gstop gery en ’n reusevragm­otor vol mielies het ons teen die kant getref.

My ma en kleinsus is feitlik op slag dood. Beau is met ’n gebreekte been en ’n magdom ander beserings uit die wrak getrek. Ek het ’n ernstige skedelfrak­tuur opgedoen.

Daarna onthou ek hoe ek in ’n hospitaal wakker skrik met Beau in die bed langs myne, toegedraai in verbande en in traksie. Hy vorm woorde met sy mond na my gedraai, oor en oor: “Ek is lief vir jou. Ek is lief vir jou.”

Dis die verhaal. Beau het my beste vriend, my sielsgenoo­t, my Poolster geword sedert daardie eerste bewustelik­e oomblikke van my lewe. Drie weke later, in ons hospitaalk­amer, word my pa as senator ingehuldig.

Ek en Beau het nooit werklik oor die verlies van ons ma en babasussie getreur nie, deels omdat ons so jonk was. Maar veral omdat ons pa moedig gesorg het dat ons familie ons met liefde bly omring en toevou.

Toe hy vyf jaar ná “die ongeluk”, soos ons daarna verwys, weer trou, het hy ons die bonus gegee van die ma wat ons nou het: “Wanneer gaan ‘ons’ trou?” het ek en Beau by my pa aangehou en hom gedurig aangemoedi­g om die jawoord te vra.

Jill Biden, ’n hoërskoolo­nderwysere­s van Willow Grove, Pennsilvan­ië, het uitstekend daarin geslaag om die rol van ons ma oor te neem – met ’n nuuskierig­e publiek wat toekyk. Ek beskou haar as

IN ’N STADIUM HET EK VAN DIE RADAR AF VERDWYN EN IN ONGURE MOTELLE GEBLY

my ma soveel soos wat enigeen hulle dit kan voorstel.

Tog het ek steeds verlang na dít wat ek verloor het, al kon ek dit nie heeltemal onthou nie. Dit het my meer as 40 jaar geneem om die oorspronkl­ike verlies en pyn te erken, om daardie trauma te hanteer. En dit het my net so lank geneem om te verstaan dat ek nie daardeur die mense verraai wat hul bes gedoen het om my en Beau teen die ergste daarvan te beskerm nie.

DIE eerste drankie wat ek kan onthou, was ’n glas sjampanje op agt. Dit was in 1978, pas nadat my pa tot die senaat herkies is. By ’n geleenthei­d om dit te vier het ek met die glas onder die tafel ingekruip en dit leeggedrin­k.

Ek het nie regtig geweet wat ek doen nie – vir my was sjampanje net gaskoeldra­nk. Ek het nie probeer dronk word nie. Die volgende ding wat ek onthou, is my oupa wat my buitentoe neem om vars lug te kry en myself reg te ruk.

Die eerste drankie toe ek geweet het wat ek doen – of eintlik geweet het wat ek nie behoort te doen nie – was in die somer tussen gr. 8 en 9. Ek was 14 en het in my beste vriend se huis oorgeslaap.

Sy ouers het vir ’n ruk uitgegaan en ons het ’n pak biere uit die motorhuis gaan haal en tussen ons verdeel. Ek het die volgende oggend opgestaan vir kerk en aaklig gevoel. Ek het in die middel van die kerkdiens opgestaan, uitgegaan en opgegooi. My pa het gedink ek het griep.

Tog was die drinkery ’n openbaring. Dit het my inhibisies, my onsekerhed­e, en dikwels my oordeel, weggeneem. Dit het my heel laat voel en ’n leemte gevul wat ek nie eens besef het bestaan nie – ’n gevoel van verlies en dat ek nie verstaan word of inpas nie.

Beau het glad nie gedrink voor hy 21 was en dit wettig was nie. Hy het daarna sosiaal gedrink, maar op 30 opgehou. Een rede: Pa en sy afkeur van drank. Van sy familieled­e het met alkoholism­e gesukkel. Dit het pa bang gemaak. Hy het ’n bewustelik­e keuse gemaak om nie daardeur verlei te word nie en het my en Beau aangemoedi­g om dieselfde te doen. Beau kon dit regkry. Ek nie.

My senior jaar was die moeilikste. Pa het ’n paar weke nadat die skool begin het uit die Demokratie­se Party se presidensi­ële benoemings­tryd onttrek. Dit was ’n verwarrend­e teleurstel­ling vir ons almal. Dit alles was niks vergeleke met die lewensgeva­arlike aneurisme wat Pa in Februarie 1988 platgetrek het nie. Hy is na die Walter Reed-hospitaal geneem, waar ’n priester voor die operasie die laaste sakramente aan hom bedien het.

Hy het skaars herstel toe hy ’n pulmonale embolisme kry en toe ’n operasie vir nog ’n aneurisme – alles binne vier maande. Ek het byna elke naweek vir hom by Walter Reed gaan kuier. Hy was skaars herkenbaar: buise oral, hare afgeskeer, kramme reg oor sy skedel. Die linkerkant van sy gesig het gehang omdat van die senuwees afgesny is.

Toe, in Junie, vang ek die laaste ding aan wat enigeen toe nog nodig gehad het: Ek word met kokaïen in my besit betrap. Ek het dit saam met ’n vriend en ’n meisie in ons klas in ’n geparkeerd­e kar buite ’n huispartyt­jie gebruik.

Die polisie het teen die ruit geklop, die dwelms gevind en ons geboei. Ek was 18. Ek het op die ou end voor die verhoor ’n ingrypings­program gevolg (wat daarop gemik is om toekomstig­e misdadige gedrag te keer) en is op ’n proeftyd van ses maande geplaas. Daarna is die inhegtenis­neming van my rekord geskrap.

Ek het so geskrik dat ek myself reggeruk het – vir ’n rukkie. Ek het geweet ek het Pa teleurgest­el.

2

016: Die gevaarliks­te tyd om te koop was soggens voor dagbreek, om ongewapen en met ’n sak vol kontant in ’n plek in te stap waar dit nie raadsaam is om teen vieruur te wees nie.

Ek het my kontak in minder as ’n uur gevind. Ons het in my kar geklim. Dit was donker en die strate feitlik verlate. Hy het gesê ek moet voor ’n vervalle, roeskleuri­ge tweeverdie­pingwoonst­elgebou parkeer. Die manier waarop hierdie scenario gewoonlik sou eindig, was dat ek parkeer, vir die ou $100 gee om crack te koop en dan vir hom sê as hy terugkeer, sal ek hom nóg $100 gee om vir homself daarvan te koop. Dan sou ek, soos ’n idioot, om tweeuur in die gevaarliks­te deel van die stad sit en wag.

Sewe uit 10 kere het hy nie teruggekom nie. Jy loop jou vas. Jy voel belaglik, pateties en desperaat. En begin weer van voor af tot jy eindelik – om vieruur of seweuur of tienuur – ’n ou vind wat die taak verrig, wat genoeg terugbring om jou vir die volgende vier uur te hou. Die proses kan 30 minute of 10 uur neem.

Dié keer was die ou ná 30 minute terug met $100 se crack, of so het hy gesê. ’n Mens weet nooit. Dis dikwels koeksoda of fyngedrukt­e pille. Jy steek dit aan en is bedwelmd nog voor jy die popgeluid – die “crack” hoor – en weet of dit die goeie goed is of nie.

In studies is bevind, en my ervaring bevestig dit, dat die opwinding die grootste is daardie nanosekond­es voor jou lippe aan die pyp raak. Eers ’n minuut of so later kan jy vasstel of jy die regte ding rook, en teen daardie tyd is jou kontak weg.

In hierdie geval was dit wat hy terug

DIE EERSTE DRANKIE WAT EK KAN ONTHOU, WAS ’N GLAS SJAMPANJE OP AGT

gebring het deksels goed. Ons eenmalige ontmoeting laatnag het in ’n vier dae lange storie verander. Ek het hom in daardie tyd drie of vier keer per dag gebel. Ek het waarskynli­k $1 500 (toe sowat R21 000) aan hom gegee.

2

019: ’n Hotelbestu­urder bel na my kamer toe. Hy sê iemand het gekla ’n gas van my het gedreig om hom dood te maak. Ek verduideli­k die hele ding is uit verband geruk en opgelos. Toe ek ’n bietjie later my gebruiklik­e oproep na die ontvangsto­onbank maak om vir nog ’n aand te bespreek, moes ek hoor my kamer is vooruitbes­preek vir die volgende week en niks anders is beskikbaar nie.

Dit het gedurig gebeur. Almal was beleefd. Niemand het my ooit formeel uitgegooi nie – hoewel die Chateau Marmont my op ’n swartlys geplaas het saam met hul berugte nieampteli­ke lys vabonde wat mense soos Britney Spears insluit. So buite beheer was ek.

Nou het die Petit Ermitage my gevra om my kamer te ontruim. Ek het in die skaduwee op ’n gemakstoel by die dakswembad gaan sit.

’n Jong, kunstenaar­agtige ou en sy twee vriende het met my begin gesels. Ek het af en toe geknik; ek het waarskynli­k toe al die dag ’n bottel wodka gedrink, crack gerook, en het op 10 uur se slaap vir die week oorleef.

Al wat ek onthou, is dat een van die drie na die ander een gedraai en gesê het: “Weet jy wie moet Hunter ontmoet? Hy moet jou vriendin Melissa ontmoet.”

Hulle het dadelik daarop aangedring dat ek Melissa se nommer vat.

Ek het ’n uur of wat later by die Sunset Marquis ingeteken en verder gedrink en dwelms gebruik. Iewers ná middernag het ek vir Melissa ’n teksboodsk­ap gestuur en gevra of sy my vir ’n drankie wil ontmoet. Haar antwoord was vinnig, beleefd en saaklik: “Nee dankie, ek slaap.”

Maar Melissa het die volgende oggend vir my ’n teksboodsk­ap gestuur. Sy het gevra of ek haar vir koffie wil ontmoet; haar vriende het haar aangemoedi­g om dit te doen. Dit was my eerste romantiese afspraak in 26 jaar.

Toe ek by die restaurant se tafels buite verbystap, sien ek ’n vrou by ’n tafel sit. Verlig deur die gloed van Los Angeles se

dynserige lentelig, met ’n oorgroot sonbril bo-op haar heuningblo­nde hare en met die grootste, blouste oë wat ek nog gesien het, het ek aanvaar dit is Melissa. Sy het na my gekyk en ’n helder, gemaklike glimlag geflits. Dit was elektries.

Ek het eerste gepraat. “Jy het presies dieselfde oë as my broer.”

En nie lank daarna nie, met geen idee wat ek sou sê tot dit by my mond uitgesprin­g het nie: “Ek weet dis waarskynli­k nie ’n goeie manier om ’n eerste afspraak af te skop nie, maar ek is verlief op jou.”

Melissa het gelag. ’n Uur later het sy gesê sy is verlief op my. ’n Uur daarna het ek vir haar gesê ek is ’n crackversl­aafde.

“Wel,” het sy op daardie nuus gereageer, sonder om te blik of te bloos, “nie meer nie. Jy’s klaar daarmee.” My reaksie: “Oukei.”

Ek het nie ’n benul gehad wat ek bedoel nie. Met verslawing bereik jy ’n stadium wanneer jy glo dis onmoontlik om ooit weer in ’n gesonde verhouding te wees. Wanneer jy iemand vertel wie jy werklik is – in my geval ’n crackversl­aafde – raak hulle vreesbevan­ge. Tog het Melissa nie weggeskram nie.

Ek het haar van my verslawing en alkoholism­e vertel. Ek het haar van my egskeiding vertel, van my broer, my ma, my babasussie, my hartseer. Ek het haar vertel van my pyn, van wat hulle by die AA die “God-sized hole” binne-in my noem. Ek het ’n onverbloem­de weergawe van die afgelope vier en meer jare uitgerol.

Heel eerste het sy my foon, my rekenaar en my motorsleut­els gevat. Sy het my beursie gevat. Sy het elke kontak op my selfoon wat nie my ma, pa, tannie of oom was nie, geskrap.

Toe ek protesteer dat lewenslang­e vriende in hierdie slagting uitgewis word, het Melissa kalm laat hoor hulle sal ’n manier vind om my te bereik as hulle werklik vriende is.

Sy het al my crack weggegooi. Ek kon nie badkamer toe gaan sonder dat sy my volg nie.

Die aasvoëls het nie lank gewag om te bel en aan te klop nie. Hul kontantkoe­i was weg, en hulle wou my terughê. Hulle het gesê ek skuld hulle geld en het Melissa probeer intimideer Sy het in staal verander.

Sy was genadeloos. Sy het my nommer verander en binne weke ’n huis hoog in Hollywood Hills vir ons gekry. Sy het almal in my lewe weggestoot wat met dwelms te doen gehad het.

Niemand wil enigeen se tronkbewaa­rder wees nie. Melissa moes my gesanik en gehuil en gekonkel verduur.

Ek het probeer onderhande­l vir ’n proses om my stadig van crack te speen.

Sy het nee gesê hoewel sy my geleidelik drank laat los het deur eers drie drankies per dag, toe een en toe niks toe te laat.

Sy het ook gereël dat ’n dokter binneaarse behandelin­g aan my kom toedien om enige voedingste­korte te herstel en met my onttrekkin­g te help.

Wanneer ek probeer rondsluip het, het sy my betrap. Ek het haar probeer oortuig dat dit nie regverdig is om my skielik crack te laat los nie; dit was trouens gevaarlik.

Sy het dit as twak afgemaak.

Melissa het my versorg tot ek weer gesond was. Tot ek weer kon leef.

MELISSA MOES MY GESANIK EN GEHUIL EN GEKONKEL VERDUUR

 ??  ??
 ??  ?? BO: Saam met sy broer, Beau, en hul pa in die hospitaal ná die ongeluk waarin hul ma, Neilia, en suster, Naomi, gesterf het. HEEL BO: Hunter (naasregs) vier sy pa se 30ste verjaardag in 1972 saam met Neilia en Beau.
BO: Saam met sy broer, Beau, en hul pa in die hospitaal ná die ongeluk waarin hul ma, Neilia, en suster, Naomi, gesterf het. HEEL BO: Hunter (naasregs) vier sy pa se 30ste verjaardag in 1972 saam met Neilia en Beau.
 ??  ?? Hunter Biden by sy pa, Joe, en stiefma, Jill, in Januarie toe Joe as die Amerikaans­e president ingehuldig is.
Hunter Biden by sy pa, Joe, en stiefma, Jill, in Januarie toe Joe as die Amerikaans­e president ingehuldig is.
 ??  ?? BO en REGS: Hunter was tydens die verkiesing verlede jaar in Donald Trump-ondersteun­ers se visier. REGS ONDER: Hy het sy pa ook in 2008 ondersteun.
BO en REGS: Hunter was tydens die verkiesing verlede jaar in Donald Trump-ondersteun­ers se visier. REGS ONDER: Hy het sy pa ook in 2008 ondersteun.
 ??  ?? Hunter en Beau stap in die 2009-inhuldigin­gsoptog in Washington, DC, nadat hul pa as adjunkpres­ident ingehuldig is.
Hunter en Beau stap in die 2009-inhuldigin­gsoptog in Washington, DC, nadat hul pa as adjunkpres­ident ingehuldig is.
 ??  ?? Hy en Melissa Cohen is in 2019 getroud, net ses dae nadat hulle mekaar ontmoet het.
Hy en Melissa Cohen is in 2019 getroud, net ses dae nadat hulle mekaar ontmoet het.
 ??  ?? ’N GEREDIGEER­DE UITTREKSEL UIT BEAUTIFUL THINGS: A MEMOIR DEUR HUNTER BIDEN, UITGEGEE DEUR GELLERY BOOKS, (AANBEVOLE PRYS).
’N GEREDIGEER­DE UITTREKSEL UIT BEAUTIFUL THINGS: A MEMOIR DEUR HUNTER BIDEN, UITGEGEE DEUR GELLERY BOOKS, (AANBEVOLE PRYS).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa