Huisgenoot

Die Alice in Wonderland-verlowing

-

DIE ysingwekke­nde “Off with their heads!” uit die mond van ’n melodramat­iese koningin is sekerlik nie iets wat jy graag wil hoor nie. Maar toe die Kaapse kleutersko­olonderwys­eres Nadine Abrahams (26) dit hoor, was haar enigste reaksie ’n klokhelder laggie. Trouens, sy was in die wolke.

Want die liefde van haar lewe het haar gunsteling­storie, Alice in Wonderland, herskep om haar die jawoord te help vra, en die Koningin van Harte met haar wrede sêgoed was deel van dié eiesoortig­e verlowing.

Maar eers moes Martin Martinus (32),

Nadine se kêrel van die afgelope sewe jaar, sy eie Alice met ’n slim set in sy “haasgat” aflok. Die plek van sy keuse? Die Sorbet-skoonheids­alon in die V&A Waterfront in Kaapstad.

En net toe Nadine haar tuismaak om gepamperla­ng te word, daag die karakters so reg uit Tim Burton se eksentriek­e 2010-rolprentwe­ergawe van die Lewis Carroll-storie op: die bose Red Queen en haar kaartmanne­tjiesoldat­e en haar vet seuns Tweedledum en Tweedledee.

En wie is die Mad Hatter wat ook ingewals kom? Martin, natuurlik – uitgevat om sy meisie te vra om te trou.

“Ek kon my oë nie glo nie. Ek is die een wat glo in sprokies en stories wat ek vir my kinders lees. Hy is ’n ou vir syfers,” vertel Nadine oor haar verlowing.

“’n Mens sou nie ’n prys op haar reaksie kon plaas nie,” laat Martin, ’n finansiële adviseur, doodluiter­s hoor.

Sy eie lewe die afgelope jaar was allesbehal­we ’n sprokie. Sy pastoor-pa, Martin Charles Martinus (57), is in Augustus verlede jaar weens nierversak­ing oorlede en covid-19 het sy “grootmaakb­roer”, John George (49), wat vir Martin soos sy eie bloedfamil­ie was, weggevat.

Deels daarom het “die ou vir syfers” gevoel dit is ná al die hartseer nou tyd vir ’n bietjie vreugde, fantasie en hoop.

Nadine se 21ste verjaardag­partytjie vyf jaar gelede het ook ’n Alice in Wonderland-tema gehad, en Martin het geweet daar sou geen beter tema vir hul verlo

Hy het haar verras toe hy haar die jawoord vra omring met karakters uit Alice in Wonderland

Deur PIETER VAN ZYL

wing wees nie. Ses weke lank het hy in die geheim aan sy produksie beplan. Dit sou hom R75 000 uit die sak jaag – en dis sonder die verloofrin­g. Maar die oomblik toe sy Alice “ja” sê, was dit elke sent werd.

Selfs die bose Red Queen het glimlaggen­d toegekyk en besluit die Mad Hatter se kop kan maar op sy skouers bly. Hy moet immers nog kansel toe stap.

VIR Nadine was dit net ’n lekker bederf toe sy, haar suster, Tamia (20), en hul niggie Cheslyn Davadoss (30) die Vrydagaand by die skoonheids­alon afgelaai word. Martin het vroeër aan haar vertel dat hy by sy werk ’n koepon vir die pamperlang­sessie gewen het.

Maar getrou aan die klassieke sprokie was niks soos dit blyk nie. Martin het die hele salon vir die aand gehuur en ’n ganse rolverdeli­ng aangestel. Nadine se haarkapper, Melanie Johnson van Platinum Hair, was deel van die komplot.

“Haai, jinne,” herhaal Nadine vandag telkens hier waar Huisgenoot saam met haar en Martin in haar woonstel in Ottery na ’n video van die hele petalje kyk.

Terwyl sy op haar skoonheids­behandelin­g wag, vra die salon se “sosialemed­iabestuurd­er” of sy nie in ’n glansryke aandrok vir foto’s sal poseer nie. Dit was Martin wat spesiaal die swart tabberd vir haar by Laryne Jefferies in Johannesbu­rg laat maak het.

Nadine het hom immers al mooi laat verstaan: Die dag wanneer sy verloof raak, wil sy ’n mooi rok dra en moet haar hare en naels gedoen wees. G’n sweetpak nie, dankie.

Die “fotosessie” begin skaars, of ’n vorstelike stem bulder: “Jy lyk absoluut verruklik!” Dan sien ’n mens in die video hoe die Red Queen binnestap.

“Wat gaan aan?” is al wat jy die verstomde Nadine in die video hoor sê.

“Kom sluit by my aan op my troon,” gebied die koningin te midde van ’n trompetges­kal. In die videobeeld glimlag Nadine dan soos een van haar kleutersko­olkinders wat ’n sak lekkers kry.

“Haai, jinne!” laat sy nou weer hier in die woonstel hoor.

Dan gelas die Red Queen: “Waar is my vetseuns; jy moet hulle ontmoet!”

Die karakters Tweedledee en Tweedledum kom aangewagge­l en Nadine gil uitbundig. Die twee stamp aan mekaar en trap op mekaar se tone tot groot vermaak van Nadine en die bose vorstin. Sy verklaar Nadine terstond as “my nuwe

gunsteling, uhm . . . haar naam is Uhm!”

Dan gelas die tiran haar kaartmanne­tjiesoldat­e om “die gevangene” in te bring. En niemand anders nie as Martin, opgetof as die Johnny Depp-weergawe van die Mad Hatter, word ingesleep.

In die video druk Nadine haar hande oor haar oë toe sy Martin onder die grimering en pluiskeil erken. Hier in die woonstel vertel sy: “Gewoonlik sal hy nie eens vir partytjies op-dress nie.”

Op die skerm sak haar eie Mad Hatter dan op sy een knie af. “Ek wou net seker maak jou naels en alles is gedoen sodat jy so pragtig voel soos jy is,” sê hy dan.

Die uitdrukkin­g op haar gesig wys sy weet wat volgende kom: “Ek sal nooit vir jou kan sê hoe lief ek vir jou is nie; ek wil jou vir die res van ons lewe saam wys hoe baie.”

En Alice antwoord sonder huiwering: “Ja, ja, ja!”

Haar foon lui eensklaps. Dis ’n videooproe­p van haar gunsteling­musikant, The Kiffness, om haar geluk te wens.

Die pas verloofde paartjie vind hul pad na ’n kamer in die luukse Table Bay-hotel digby die Waterfront. Dis met swart en goue ballonne versier en oral is groot boodskappe aangebring wat lees: “We are all MAD in here”; “I’m MADly in love with you”; en “She said yes!”

En natuurlik is ’n regte Mad Hatter-teepartytj­ie vir hulle voorberei, met ’n kaartjie wat lui: “Nadine in Wonderland”.

VIR Martin sou alles perfek gewees het as sy pa ook in hul vreugde kon deel. Hy en Nadine het mekaar juis sewe jaar gelede by Martin sr. se kerk, Rehoboth Community Life Centre, in Mitchells Plain ontmoet. “Hy het nooit kommentaar gelewer oor my verhouding­s nie, maar hy was in sy noppies met Nadine. Sy was die enigste een wat hom by die hospitaal mag gaan haal het na afloop van sy dialise,” vertel Martin.

Sy pa sou net sy kop in ongeloof geskud het. “Hy sou veral nie kon glo dat ek in ’n kostuum verskyn het nie.”

Nadine vertel haar 20 leerdertji­es by die Gaia Waldorf-skool in Pinelands was uit hul vel toe hulle die diamant aan “teacher” se vinger sien blink.

Nadine en Martin het nog nie op ’n troudatum besluit nie, maar hulle hoop dit sal einde vanjaar of vroeg 2022 wees.

En die tema? “Iets Disney, natuurlik,” antwoord Nadine dadelik. “Dalk Beauty and the Beast . . .”

 ??  ?? KLOKSGEWYS VAN LINKS: Nadia se reaksie toe sy die Mad Hatter sien aangestap kom en Martin onder die grimering herken; Martin vra die jawoord; sy sê: “Ja, ja, ja!”
KLOKSGEWYS VAN LINKS: Nadia se reaksie toe sy die Mad Hatter sien aangestap kom en Martin onder die grimering herken; Martin vra die jawoord; sy sê: “Ja, ja, ja!”
 ??  ?? HOOFFOTO: Nadine Abrahams het by die Kaapstadwa­terfront aan Martin Martinus in sy Mad Hattergewa­ad verloof geraak. LINKS: Die gelukkige paartjie. Die Tim Burton-weergawe van Alice in Wonderland is Nadia se gunsteling en was die tema van die verlowing.
HOOFFOTO: Nadine Abrahams het by die Kaapstadwa­terfront aan Martin Martinus in sy Mad Hattergewa­ad verloof geraak. LINKS: Die gelukkige paartjie. Die Tim Burton-weergawe van Alice in Wonderland is Nadia se gunsteling en was die tema van die verlowing.
 ??  ?? BO: Saam met die pasverloof­des is die rolverdeli­ng van hul eie die Red Queen (Shelley Nicole), Tweedledum en Tweedledee aan weerskante van haar (Jared Classen en Umirr van der Poel), die kaartmanne­tjiesoldat­e agter (Tylor Spelman en Nicola Pharo) en die Knave of Hearts (Michael Kwong).
Alice in Wonderland:
BO: Saam met die pasverloof­des is die rolverdeli­ng van hul eie die Red Queen (Shelley Nicole), Tweedledum en Tweedledee aan weerskante van haar (Jared Classen en Umirr van der Poel), die kaartmanne­tjiesoldat­e agter (Tylor Spelman en Nicola Pharo) en die Knave of Hearts (Michael Kwong). Alice in Wonderland:
 ??  ?? Die twee koninginne van die dag. Die Red Queen en Nadine in ’n rok wat Martin spesiaal vir haar laat ontwerp en maak het.
Die twee koninginne van die dag. Die Red Queen en Nadine in ’n rok wat Martin spesiaal vir haar laat ontwerp en maak het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa