Huisgenoot

VGK-Vredendal se covidtrage­die

Op Vredendal het covid-19 die VGKgemeent­elede hard getref; net hul geloof hou hulle staande

- Deur PIETER VAN ZYL Foto’s: ER LOMBARD

SAAM met die sterre wat aan die hemeltrans flonker, flikker kersvlamme­tjies voor huise al langs Wandelstra­at. Dit strek verder soos ’n ligspoor in die donker tot by die Verenigde Gereformee­rde Kerk (VGK) hier op Vredendal, die Namakwalan­dse dorp waar ’n ganse gemeente deur covid-19 verrinnewe­er is.

Nege van die gemeentele­de is binne twee weke dood – weggeruk deur die virus wat so min voel vir goeie mense.

By Wandelstra­at 29 het Laetitia Martins (48), ’n gemeenskap­sleier en raakvatter by die kerk, aan die einde van Mei begin om saans met ’n brandende kers in die hand hardop op die sypaadjie voor haar huis te staan en bid – vir bystand en wysheid van die Here tydens hierdie vlaag van die pandemie wat dood en verskrikki­ng deur hul woonbuurt saai.

Die nuus het gou via WhatsApp-groepe versprei en ander inwoners het ook begin om agtuur saans by kerslig in die strate te bid. Dan klink ’n koor van smeekgebed­e in die naglug op en hang dit oor die Wes-Kaapse dorpie wat tussen die wingerde nestel. “Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordi­gheid,” lees Laetitia uit 1 Kronieke 16:11 voor. “Dankie, Here, dankie,” prewel haar skoonma, Margaretha Pieters (84), voor haar huis. “Ek is nog hier deur U bestiering. As dit U wil is, hou my gesond en die ander mense hier om my.”

Vroeër vanaand, tussen vyf en sewe, was daar ’n “drive-by”-gedenkdien­s vir oom Johannes “Jan” Marero (73) voor sy huis in Spesbonast­raat net hier anderkant. Motors het een vir een stilgehou by ’n gedenkalta­ar op die sypaadjie met foto’s van hom waarby lang, wit kerse

brand. Daar het klein groepies rouklaers hul respek vir hom kom betoon en blomme op ’n groen mat neergelê.

Vir ’n wyle het hulle geluister hoe sy goeie vriend oom Casper “Boetie” Lategan (64) uit die Bybel voorlees en bid. Daarna het hulle weer vertrek om plek te maak vir ’n volgende groepie, pynlik bewus daarvan dat die gevreesde coronaviru­s steeds onsigbaar in die lug hang . . .

Die hartseerst­e vir hom is dat sy dierbare vriend van die afgelope 40 jaar die vorige dag net soos hy teen covid-19 ingeënt sou word, vertel Boetie vroeër in Jan se sitkamer. Maar toe het die dood hom al die vorige week kom haal.

“My liewe vriend Jan het my geleer van die lewe en die Here,” vertel Boetie oor die man met “die besonderse geheue”. Jan het elke nommer in die gesangboek geken, net soos elke nommer van die voertuigon­derdele wat hy verkoop het.

Sy oudste dogter, Adri Cloete (47), onthou haar pa se legendarie­se vaalpotjie, “sonder groente of fieterjasi­es”. Dit is dié dat daar op sy gedenkalta­ar buite ook twee swart ysterpotji­es staan.

Vyf dae voor Jan se dood op 26 Mei het sy seun, Pedro Booyse (50), ’n afgetrede skoolhoof van Maskam Primêr op Vanrhynsdo­rp, aan sy hart gesterf. “Op my broer se begrafnisd­ag sou ons my ouers se 50ste huwelikshe­rdenking gevier het,” vertel Jan se jongste dogter, Brigitte Cloete (40). “Ek en my pa was onafskeidb­aar,” voeg sy by. “Ek het gesmeek hy moet tuisbly, maar hy wou nie vrees nie. Hy was gereed om sy Verlosser te ontmoet.”

IN DIE nuutste deel van die begraafpla­as langs die staatshosp­itaal op Vredendal is die rye vars grafte – talle dié van slagoffers van die coronaviru­s – stille getuies van die tol wat die pandemie al in die omgewing geëis het. Volgens die Wes-Kaapse departemen­t van gesondheid was daar teen druktyd 155 positiewe gevalle in die Matzikama-distrik, wat dorpe soos Vredendal, Vanrhynsdo­rp en Lutzville insluit, teenoor die 11 gevalle wat op 15 Mei aangeteken is.

In die begraafpla­as omring deur ’n tuin van veelkleuri­ge lapblomme op die grafte gaap ’n paar oop grafte. In drie van hulle sal nog gemeentele­de van die VGK die dag ná ons besoek te ruste gelê word.

Naas die byna dekade lange droogte in die omgewing is die pandemie die ergste ramp wat hy al in sy 23 jaar in die gemeente beleef het, sê hul leraar, ds. Pedro Oktober. Die droogte het ’n boer van die distrik gedryf om sy eie lewe te neem en talle van die mense in die gemeente in skuld gedompel nadat hulle hul werk op wynplase verloor het, vertel hy. En toe kom die derde vlaag van die virus onder sy kudde maai.

Hy voel saam met hulle, want hy het die virus die afgelope 10 dae in sy eie lyf ervaar: die diarree, die pyn in sy gewrigte en oë. Hy het vandag eers weer begin werk, vertel hy in die sitkamer van die pastorie waar ons omring word deur blomme en foto’s van sy kinders, Shermoné (26) en Estwin (24). Hulle het voor hom die virussiekt­e gekry, maar ook genadiglik oorleef.

“Die pandemie daag ’n mens se verhouding met God uit,” erken Pedro. “Daar is paniek onder my lidmate. Hulle soek die skuld by hulself. Hoekom het hulle siek geraak?” Dan moet hy paai: “Dis nie God se straf omdat jy iets verkeerds gedoen het nie. God laat dit toe. Dis sy groot plan met jou lewe.”

“Langs die graf kan ek net die treurendes verseker van God se liefde en trou.”

Hy moet ook die stigma beveg dat covid-19 soos ’n soort melaatshei­d is. Die vraag: “Waar het jy dit opgetel?” het byna soos ’n soort teregwysin­g geword. “Jy vat aan ’n mandjie by die winkel; jy skuur per ongeluk teen iemand. Daarom preek ek vir maskers dra en hande ontsmet.”

BY DIE kerkkantoo­r is Sarie Lategan op haar pos, maar agter ’n traliehek. “Ek maak vir niemand oop nie,” sê sy. Behalwe as sy moet. Maar dan bespuit sy hulle eers met handreinig­er. “Die virus is onsigbaar, en ons weet nie of ons ’n gevaar vir mekaar inhou nie,” verduideli­k sy.

Maar die noodgedwon­ge afsonderin­g is vir haar moeilik. “Ek is ’n mense-mens en mag nou nie ander aanraak of hug nie. Hierdie virus steel my vreugde.”

In haar 18 jaar as skriba is die pandemie “die ergste en traumaties­ste ding” wat sy al hier beleef het. Sy is nog besig om deur die dodelys te werk.

“Ek is nie seker hoeveel van ons lidmate nou tydens dié vlaag dood is nie,” sê sy. “Twee van my vriende is aan covid oorlede. Ek kan nie hul name sê nie; dit maak te seer.” Die trane wel agter haar bril op en sy vra verskoning om eers haar emosies onder beheer te kry.

By die Vredendal-hospitaal is die 20 beddens vir covid-19-pasiënte elke dag vol, vertel Lionel Philips, die waarnemend­e munisipale bestuurder op die dorp. Meer as 50% van dié pasiënte benodig hoëvloeisu­urstof, en daar is net een ventilator wat pasiënte om die beurt moet gebruik.

“Ons doen wat ons kan,” sê hy. “Die vlaag sal eers begin bedaar wanneer ons 60% of meer van ons inwoners ingeënt het.”

Sowat 80% van die munisipale werkers wat positief vir die virussiekt­e getoets het, het in kantore gewerk. Lionel en die personeel werk nou skofte sodat hulle nie almal gelyktydig op kantoor is nie.

“Ons kom agter dat huispartyt­jies waar 25 en meer mense bymekaar is van die superversp­reiders hier is,” vertel hy. Alle sportterre­ine op die dorp is gesluit.

By die huis vir bejaardes word niemand toegelaat nie.

Alle pakkies, kos en noodsaakli­khede word by die hek afgelaai. Die matrone is by die huis – die virus het haar ook platgetrek.

Kerkdienst­e is die afgelope drie weke opgeskort omdat soveel van die VGK se lidmate deur die virussiekt­e getref is, sê Pedro. Hy ys vir die dag wanneer die mense weer kerk toe kom en hy oor die gemeente uitkyk en al die leë plekke sien van lidmate wat getrou met elke erediens daar gesit het maar nou weg is.

“Wanneer ons weer bymekaar is, sal ons saam moet rou en treur,” sê hy. “Ons gaan ’n groot klipstapel voor die kerk vasmessel met ’n klip vir elke gestorwe lidmaat tydens die pandemie.” Want die pandemie het hulle kom haal, maar die gemeente sal onthou.

 ??  ?? HEEL BO: Inwoners bid vir verlossing van die coronaviru­s wat VredendalN­oord in die Namakwalan­d teister. LINKS en HEEL LINKS: Die Verenigde Gereformee­rde Kerk op Vredendal verloor byna daagliks lidmate.
HEEL BO: Inwoners bid vir verlossing van die coronaviru­s wat VredendalN­oord in die Namakwalan­d teister. LINKS en HEEL LINKS: Die Verenigde Gereformee­rde Kerk op Vredendal verloor byna daagliks lidmate.
 ??  ?? Boetie Lategan lees uit die Bybel by sy vriend Jan Marero (73) se “drive-by”-gedenkdien­s.
Boetie Lategan lees uit die Bybel by sy vriend Jan Marero (73) se “drive-by”-gedenkdien­s.
 ??  ?? BO: Lionel Philips, waarnemend­e munisipale bestuurder. REGS: Sarie Lategan, die skriba van die VGK.
BO: Lionel Philips, waarnemend­e munisipale bestuurder. REGS: Sarie Lategan, die skriba van die VGK.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa