Huisgenoot

“Ek was jou man se skelmpie”

’n Vrou wat ’n twee jaar lange affair met ’n getroude man gehad het, skryf ’n brief aan sy vrou waarin sy haar spyt uitspreek en vergifnis vra

-

DIT is geen vrou se droom om op ’n dag “die ander vrou” in ’n getroude man se lewe te word nie. Sy bou nie van jongs af anderste lugkastele en verbeel haar dat sy eendag iemand se geheime minnares gaan wees nie. Nee, soos almal droom sy ook van ’n groot maar gewone liefde. Sy lê ook met haar rug op die gras, kyk op na die wolke en sien hoe die man van haar drome voor die kansel vir haar wag. En daarna is hulle vir ewig gelukkig saam.

Maar drome word nie altyd waar nie, en die lewe maak soms wilde en onverwagte draaie met ’n mens. Soos met ’n leser van Gauteng wat nou bitter spyt is oor haar twee jaar lange verhouding met ’n getroude man.

Dié verhouding was nie waarvan sy eens gedroom het nie, maar dít is wat sy gekry het.

Hier stort sy haar hart uit in ’n brief aan haar gewese minnaar se vrou, Estelle*.

Hoekom? Want sy glo mense moet ook verstaan hoe eensaam en moeilik dit is om “die ander vrou” te wees.

BESTE Estelle, As ek die tyd kon terugdraai, sou ek nooit saam met jou man ’n drankie gaan drink het toe hy my die eerste keer genooi het nie.

Ek sou nooit my voordeur vir hom oopgemaak het toe hy die eerste keer daaraan geklop het nie.

Maar teen daardie tyd was ek al malverlief op hom.

Ek was verblind deur wat ek gedink het ware liefde was.

Jy sien, ons werk saam. Hy was een oggend in ’n vergaderin­g in die konferensi­ekamer en ek by die koffiemasj­ien. Toe ontmoet ons oë die eerste keer.

Estelle, ek het nie geweet hy is getroud nie. Ek het toe nog nie eens sy naam geken nie.

Later het ons in e-pos begin gesels, en hy het my een Woensdagmi­ddag vir ’n drankie ná werk genooi.

Daar was vlinders in my maag. Dit was weer soos toe ek jonger was, in my studenteda­e, toe ek en my kêrel ure aaneen net kon gesels tot in die vroeë oggendure.

So het ek en jou man ook toe begin gesels: oor ons gedeelde liefde vir musiek, ons dae op universite­it, ons drome, ons ouers wat ouer word, oor die sin van die

lewe – en ons het selfs oor God gefilosofe­er.

Toe, talle e-posse later, het ons die tweede keer ná werk ’n drankie gaan drink. Daardie Vrydagmidd­ag het hy dit sommerso terloops genoem: Hy is getroud.

Dit was asof iemand ’n fles yskoue water oor my gesig uitgooi. Ek het dadelik afgekyk na sy linkerhand, soekend na ’n trouring. Maar daar was nie een nie. Ek was so naïef. Want heelwat getroude mans (en vroue) dra nie hul trouringe nie, maar dit beteken nie hulle is ongetroud nie.

Maar, Estelle, van daardie oomblik af het ek geweet hy’s getroud. Ek het geweet jy bestaan en wag saam met jul twee kinders vir hom by die huis.

Toe moes ek omgedraai en weggestap het. Want as ek dit gedoen het, sou ek my twee jaar se oneindige seer gespaar het.

Maar ek het net daar bly sit. Ek het na hom geluister hoe hy vertel hoe sielsongel­ukkig hy in sy huwelik is, terwyl hy oor die rand van sy glas rooiwyn na my staar. Julle het glo ’n jaar laas seks gehad en was intussen ook op geen ander manier intiem nie.

Hy het gesê julle leef by mekaar verby, maar dat julle ter wille van die kinders bymekaarbl­y. Toe vertel hy my hoe sy hart geboksprin­g het toe hy my daardie eerste keer vanuit die konferensi­esaal gesien het. Hy het vertel hoe “lewendig” hy die eerste keer in jare gevoel het en dat hy glo ons het ’n unieke soul connection wat min mense beskore is.

As ek nou aan alles terugdink, kan ek sien hoe die heuning by sy lippe afdrup. En ek het, willens en wetens, elke woord opgeslurp. Ek en my kêrel se paaie het agt maande tevore geskei toe ek Gauteng toe getrek het. Ek was bitter alleen en het gesukkel om in die stad aan te pas.

En toe ontmoet ek jou man. Aanvanklik was dit vir my net ’n goeie vriendskap met iemand met wie ek baie gemeen het. Maar toe word my hele wêreld omvergegoo­i.

Daardie aand het hy my die eerste keer gesoen. En ek het dit toegelaat. Sy hand waar sy trouring moes gewees het, het onder my bloes ingeskuif.

Maar die oomblik was kortstondi­g, want toe lui sy foon. Hy het geantwoord. Uitasem. Dit was jy.

Jy het gevra waar hy is en of hy sal omgee om pizzas vir julle en die kinders te kry op pad huis toe. Hy het jou vertel hy kuier saam met sy vriend Ivan* en is op pad huis toe. Dit was die eerste van honderde leuens wat hy jou vertel het.

Hy moet gaan, het hy toe vir my gesê; sy gesin wag vir hom by die huis.

ESTELLE, ek wens ek kon vir jou sê ek het die een of ander tyd tot my sinne gekom. Dat ek iewers omgespring het op die verwoesten­de pad waarop ek (en hy) was. Maar ek het nie. Ons albei het die verhouding soveel keer probeer beëindig. Dan verloop dae, selfs weke, sonder enige kontak tussen ons. Maar dan loop ons mekaar by die werk raak, en as ek weer sien, staan hy by my voordeur.

Hy wou my nooit eens na ’n koffiekroe­g neem nie. Selfs toe hy een naweek vir my

’n vliegkaart­jie Kaapstad toe koop (ek moes op ’n ander vlug as hy vlieg), moes ek heeltyd in die hotelkamer bly terwyl hy sake doen. Hy het kontant vir al ons etes in die kamer betaal sodat jy nie later eienaardig­e kaarttrans­aksies op sy bankstate sou bevraagtek­en nie.

Daardie naweek het jy hom verskeie kere gebel om te hoor hoe dit gaan. Ek het stilletjie­s langs hom in die bed gelê terwyl hy met jou gepraat het.

Gedurende die affair was daar niemand met wie ek kon praat nie. Ek was die enigste een wat werklik alleen was. Ek moes van my vriende en familie wegskram sodat ek ons geheim kon bewaar. Terwyl hy na aan syne moes bly om presies dieselfde rede.

Die affair het my hele lewe oorgeneem en al my ander verhouding­s vertroebel. Die enkele kere dat ek ’n date met iemand anders gehad het, sou hy my die aand onophoudel­ik bel wanneer jy reeds in die bed was. Of hy sou my WhatsApp terwyl jy op die bank langs hom sit, want hy kon dit nie verdra dat ek met ’n ander man uitgaan nie.

Ek het myself begin haat.

Ek het gewig verloor, op my eie begin drink en in ’n donker depressie verval. Ek kon dit nie verdra om vir myself in die spieël te kyk nie.

Skei was nooit vir hom ’n opsie nie, want hy wou nie jul gesin opbreek nie. Maar as ek dinge wou beëindig, sou hy sê hy kan nie sonder my leef nie. Ek was in ’n web van leuens en seks verstrenge­l.

Estelle, ek is bitter jammer dat ek nie vroeër ’n einde daaraan kon maak nie. Maar ná twee jaar was daar ’n oomblik toe ek in sy oë kyk en besef hy lieg net so baie vir my soos vir jou.

Die krake in sy mondering het begin wys en hy het gesukkel om sy kaarthuisi­e van leuens staande te hou.

Oor ’n paar maande vier julle jul soveelste huwelikshe­rdenking. Hoewel ek en hy geen kontak meer het nie, sit ek steeds met die stukke wat ek moes optel en die verwronge idees wat ek van liefde en seks ontwikkel het.

Ek is bang om self weer in ’n verhouding te wees, want ek ken nou ál die truuks van iemand wat jou verneuk.

Estelle, jy moet weet ek betaal die prys vir my aandeel in die affair. Vergewe my, asseblief, want selfvergif­nis is nie maklik nie.

Groete.

Jou man se eks

* Skuilname.

‘NÁ TWEE JAAR WAS DAAR ’N OOMBLIK TOE EK BESEF HY LIEG NET SO BAIE VIR MY SOOS VIR JOU’

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Sy betaal die prys vir haar aandeel in die affair, skryf “die ander vrou” vir haar eksminnaar se vrou.
Sy betaal die prys vir haar aandeel in die affair, skryf “die ander vrou” vir haar eksminnaar se vrou.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa