Huisgenoot

Leon Schuster praat oor sy seer

Terwyl Leon Schuster op 70 aan ’n derde Mr. Bones-fliek werk, wroeg hy oor sy ‘oumenssket­e’ en die verbrokkel­ing van sy verlowing

- Deur CYRIL BLACKBURN Foto’s: LUBABALO LESOLLE

KYK jy verby die digte grys baard en die pet wat deesdae heeltyd sy bles bedek, sien jy steeds daardie stoute vonkel in sy blou oë. Daardie kyk wat jou laat verwag dat daar enige oomblik ’n poets op jou gebak kan word . . . Tog dra hy aan sy jare en probeer hy dit nie wegsteek nie. Want ja, op 70 is hy al behoorlik deur die meule gemaal, sê Leon Schuster. Sy knieë lol, sy rug gee moeilikhei­d, en deesdae kry hy ook die aardigste krampe in sy hande.

Trouens, hy vang homself ál meer die frase “oh shucks” hardop sê.

“Ek sê nou nie meer ‘Oh, shucks, it’s Schuster nie,’ ” spot Leon. “Dit klink nou meer só: ‘Oh, shucks, my rug wil afbreek’; ‘oh, shucks, ek gaan hierdie trap sowaar nie uitkom nie’.

“Dis ’n ellendige ding om so teen die oumenssket­e te stoei. Net anderdag laat hoor ’n pel van my oor die ouderdom: ’n Mens het alles gesien en alles ervaar; die probleem is net jy kan niks onthou nie. En dis wraggies so.”

Oudword is nie al wat karring nie. Onlangs – hy onthou dit as “’n tyd gelede” – het sy verlowing aan Amanda Coetzee, sy vriendin van langer as ’n dekade, verbrokkel.

Hy het haar deur sy vingers laat glip, erken hy, en dit het hom hard getref. Nou is hy weer alleen, al hoop hy dit verander straks.

“Jis, soms slaan die lewe jou. Vir Amanda is ek vandag nog bitter lief. Ons is ontsettend na aan mekaar, en ek sê jou vandag: Die liefde gaan weer blom.”

Maar hoe en wanneer, dít weet hy nou nog nie.

Boonop het die bom verlede jaar gebars oor ses van sy flieks wat van Showmax verwyder is omdat dit volgens kritici inhoud bevat wat onsensitie­f, onvanpas of rassisties is.

Daaroor sê Leon nou: “My enigste doel was nog altyd net om nasies te verenig en mense te laat lag. En dis ál.”

Hy’s doenig met die verfilming van sy jongste fliek, Mr. Bones 3, en die werk daaraan is reeds oor die halfpadmer­k. Hy is daarin weer te sien as die sangoma Bones en speel teenoor die akteur Alfred Ntombela.

“Ek moes die fliek Old Bones genoem het,” spot hy met die skete van die ouderdom. “Maar ál wat ek hoop vir hierdie fliek, is dat mense sal lag. Dis dalk my swanesang. Wie weet?”

ONS kry mekaar op die fliek se stel by die Glen Africlodge op Broederstr­oom, Noordwes. Mr. Bones 3 vertel hoe Shorty (Alfred), Bones se seun, sy pligte as sangoma moet oorneem. Dit gaan met stampe en stote gepaard, en daar’s fisieke uitdagings vir Leon.

“My vriende sê vir my: Leon, jy’s ’n fool; jy kon in Venesië op ’n boot sit en visvang het – nes dit ’n pensioenar­is betaam. En ek kon seker; dalk moes ek selfs. Want die hemel weet, ek is nie meer ’n jong man nie. Anderdag, toe ons tonele vir die

fliek verfilm het, moes ek ’n koppie uitklim, en elke deel van my lyf was in pyn.”

Hy vertel hy het hom nie voorheen aan kritiek op sy flieks gesteur nie – “kyk noord, neuk voort, daai tipe ding” – maar dat verlede jaar se herrie hom “amper gebreek” het. “Dit was ’n goor, donker tyd vir my.

“Om ná 40 jaar en byna 20 flieks só onthou te word . . . Gaan die nuwe fliek iets verander? Ek weet nie – daar gaan kritici wees, nes altyd. Maar ek hoop mense kan weer saam lag.”

Hy het die draaiboek vir Mr. Bones 3 tydens verlede jaar se inperking geskryf.

En ná die fliek? “Jis, ek weet nie,” antwoord Leon ernstig. “Die verfilming maak my moeg.

“Anderdag het ek ’n goor dag op stel beleef en myself gevra: ‘Leon, hoekom?’ Ek het maar oppe en awwe, nes enige ander mens.”

Daardie aand, ná ’n dag toe dit wou lyk of alles op die stel verkeerd loop, het hy om 23:00 die aand vir Amanda gebel. Hulle het vriende gebly, al het hul verhouding skipbreuk gely.

“Ek het vir haar gesê: ‘Dolly, psych my bietjie op, toe.’ Sy het vir my gesê om te ontspan; dat die Here in beheer is. Ek het daardie nag soos ’n klip geslaap – ek wat my lewe lank nog ’n insomniac is.”

Hy het haar deur sy vingers laat glip, dié vrou wat so ’n groot invloed op sy lewe het, erken Leon. Hy ken Amanda al sedert 1999. Die twee het mekaar kort ná sy egskeiding van die ma van sy vier kinders ontmoet.

“Ons het vier of vyf jaar in Drie Riviere saamgebly nadat ek haar gevra het om te trou. Ek weet nie hoe nie, maar ons het mekaar verloor. Op ’n dag moes ons net erken dit werk nie meer nie.

“Maar daar was nooit kwade gevoelens nie; ek was nog altyd ontsettend lief vir haar.”

Weer verskyn die ernstige uitdrukkin­g op sy gesig. “Jy weet, ek kyk gereeld om my en sien álmal het ’n lewensmaat; net ék is enkellopen­d. Dan word ek woedend vir myself en sê: ‘Leon, jy kon al 15 jaar lank met hierdie vrou getroud gewees het. En kyk nou net.’

“Hoekom ek haar deur my vingers laat glip het, weet ek nie. Ons praat nog amper elke dag, en ek weet sy is oor my pad gestuur. Maar ek kan voel iets is weer aan’t broei. Ek wil hê ons moet weer bymekaar wees.”

IN DIE oomblikke dat hy so dikwels oor sy gesondheid mor, dink hy veral aan sy ma – sy rots – wat vroeër vanjaar 99 jaar oud geword het. Hy en Jess Schuster was nog altyd na aan mekaar, vertel Leon. “Sy het nie naastenby soveel soos ek gekla nie!”

“My hart is eintlik bitter seer oor my ma,” erken hy. “Sy is ongeloofli­k broos, en ek het haar lanklaas gesien – eers weens die pandemie en nou omdat die verfilming van die fliek soveel van my tyd in beslag neem.”

Sy ma se agteruitga­ng is vir hom ’n teer saak. “Sy is so stil. Dít vang my. Sy is lankal nie meer die joker en prankster wat ons eens geken het nie – dis by haar wat ek geleer het. Sy is alleen, buiten vir my broer se besoeke, en ek hoop ek sal haar ’n maand lank kan sien sodra ons klaar is met die verfilming.”

Dan lê daar nóg struikelbl­okke en wag. Leon moet binnekort ’n pynlike rugoperasi­e ondergaan nadat die punt van ’n werwel afgebreek het. Hy het in sy lewe al minstens agt operasies ondergaan, waaronder ’n knievervan­ging.

“Ek sien erg op daarteen, want ek kan pyn nie hanteer nie. Maar ek móét na myself omsien – daar lê darem nog ’n volgende hoofstuk in my lewe voor,” sê Leon. Wat is dit?

“Ag, wie weet? Miskien werk ek ’n bietjie agter die skerms; miskien maak ek en Amanda dit tog tot voor die kansel. Dalk is die slothoofst­uk die mooiste van my lewe.”

‘DIS ’N ELLENDIGE DING OM SO TEEN DIE OUMENSSKET­E TE STOEI’

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Leon Schuster as die sangoma Bones in Mr. Bones van 2001.
Leon Schuster as die sangoma Bones in Mr. Bones van 2001.
 ??  ?? By sy ma, Jess, en sy voormalige verloofde, Amanda Coetzee.
By sy ma, Jess, en sy voormalige verloofde, Amanda Coetzee.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa