Huisgenoot

My driejarige se dood – nie my skuld

Sy het eers gedink sy het haar eie seuntjie doodgery, maar meer as drie jaar later is sy onskuldig bevind

- Deur JACQUES MYBURGH Foto’s: ONKGOPOTSE KOLOTI

SY HET meer as ’n maand lank met die pynlikste wrok denkbaar in haar hart rondgeloop: verterende selfhaat dat dit dalk sý was wat haar klein blondekopp­ie se dood veroorsaak het. Al het ander haar as ’n slegte ma oor haar seuntjie se dood uitgekryt, was die gedagte dat sy sélf vir die driejarige AJ se dood verantwoor­delik was nog erger as die kwetsende woorde van ander. Die moontlikhe­id dat sy met haar motor oor haar eie kind gery het, het genadeloos aan Bernadette Small (31) geknaag.

“Dit het tot in my siel gesny as ek die koerant optel en sien hulle sê ék was die een wat my kind doodgemaak het,” vertel Bernadette oor die mediaberig­te van daardie tyd. “Ma het nie geweet sy ry oor seuntjie,” het die berigte dit in Maart 2017 uitbasuin.

Terwyl dit binne haar wou breek oor wat met haar jongste gebeur het, moes sy probeer kophou ter wille van haar oudste kind, Jessica (nou 9).

“Ek het probeer sterk wees vir Jessica – AJ se dood was geweldig traumaties vir haar; sy was baie hartseer daaroor. Ek kon nie voor haar huil nie,” sê Bernadette oor die swaar jare sedert die ongeluk.

Maar nou, ná maande van selfvertwy­feling en ’n lang stryd om die waarheid te laat geld, is daar eindelik die geringste troos: Die hof het bevind Bernadette was nié vir sy dood verantwoor­delik nie.

Dit was nie haar skuld nie; die seer selfkastyd­ing kan nou end kry.

Klein AJ is in 2017 op die Smalls se plaas buite Koppies in die Vrystaat doodgery. Bernadette en almal wat sy ken, was eers oortuig daarvan dit was sý wat die seuntjie onwetend raak gery het toe sy die erf daardie dag met haar motor verlaat het. Die gedagte daaraan was vir haar ondraaglik swaar.

Maar ’n maand ná sy dood het Bernadette en haar familie begin dink alles is nie pluis nie – die moontlikhe­id dat dit Bernadette se skuld was, het net nie vir hulle sin gemaak nie.

“Hoe sou ek oor my kind kon ry en dit nie eens agterkom nie?” herhaal sy nou die vraag wat by haar bly spook het.

Dit was toe dat die Smalls ’n privaat speurder aangestel het om ondersoek in te stel. En wat hy bevind het, het haar van die skuldgevoe­lens verlos.

HIER op die plaas wys die jong ma nou klein AJ se kamer. Ná meer as drie jaar het sy nog nie sy speelgoed weggepak nie. Dit staan op houtrakke uitgestal. “Dit laat my voel hy is hier naby. Asof hy enige oomblik hier gaan inkom en weer met sy speelgoed gaan speel . . .”

In hul leefkamer is die verlange ook merkbaar. Een van die mure is vol foto’s

van die glimlaggen­de seuntjie. Daar is verskeie foto’s van ’n doodgewone gesin – foto’s wat spreek van die geluk wat binne ’n oogwink versplinte­r is.

“Ek dink nog elke dag aan hom; ons mis hom verskrikli­k,” vertel Bernadette.

Maar dan kyk sy jou reguit in die oë: “Daar is darem vertroosti­ng: Ek is onskuldig bevind. Ek weet nou ek het nie my eie kind doodgemaak nie.”

Dit is ’n week nadat sy in die landdrosho­f in Kroonstad amptelik onskuldig bevind is aan strafbare manslag.

“Ons het eindelik afsluiting gekry. Vir die eerste keer kan ek oor my seun rou. Nadat dit gebeur het, kon ek nie, want ek het in my eie onskuld getwyfel.

“Ek kon nie slaap nie. Ek het heeltyd gedink dit was alles my skuld dat ons seuntjie nie meer hier is nie. Ek het soos ’n moordenaar gevoel.”

Bernadette studeer voltyds om ’n pastorale berader te word, en haar geloof het haar staande help hou ná daardie verskrikli­ke dag: 20 Maart 2017.

Binne die huis was Jessica en haar nefies besig om te speel. AJ was buite doenig. Die laaste keer wat Bernadette hom gesien het, het hy op ’n hoop sand naby die skaapkraal gespeel.

Sy was besig om in die huis te studeer en wou ’n blaaskans neem. “My suster se kinders was hier en dit was besig by die huis. Ek het besluit om na die laagwaterb­rug te ry – water kalmeer my altyd.”

Sy het die motor agter die huis uitgetrek en met die oprit uitgery na die plaashek, waarna sy met ’n grondpad na die laagwaterb­rug gery het. Sy was sowat ’n kilometer van die huis af toe haar selfoon lui. Dit was haar man, Pieter. “Hy was histeries. Hy het vir my gesê ek het oor AJ gery . . .”

Haar oë rek. “Ek was in skok. Ek het nie geweet wat om vir hom te sê nie. Ek wou dit nie glo nie. Ek het dan nie eens gevoel ek ry oor iets nie.”

Pieter het die beseerde, bewustelos­e kind in sy motor gelaai en na ’n hospitaal in Kroonstad begin jaag. Hy het Bernadette op pad na die hospitaal langs die pad opgelaai.

“Ek het net heeltyd gesê ek is jammer; ek is jammer. Ek het onophoudel­ik gehuil terwyl ons met sy lewelose liggaampie na die hospitaal gejaag het.”

By die Kroon-hospitaal het dokters gespook om die bewustelos­e AJ by te bring, maar hy is dood sonder dat hy sy ogies ooit weer oopgemaak het.

Bernadette onthou sy was “mal” van skok en verdriet. “Hulle het my daardie aand vir skok in die hospitaal opgeneem.

Ek het dit oorweeg om my eie lewe te neem. Ek kon nie met die gedagte saamleef dat ek my kind doodgemaak het nie.”

Ook toe sy terugkeer huis toe, was die seer en vrae pal daar. “Ek het heeltyd met die skuldgevoe­l rondgeloop. Ek het myself kwalik geneem. Mense het my begin bel en vir my gesê ek is ’n slegte ma. Dit was ’n bitter moeilike tyd in my lewe. Ek het die hele tyd gewonder hoe kon ek hom nie gesien het nie? Hoe kon ek nie gevoel het ek ry oor hom nie?”

Pieter het byna twee weke nie met haar gepraat nie. “So iets kan nie anders as om ’n invloed op jou huwelik te hê nie.”

Tog beklemtoon sy: “Pieter het my nooit verwyt of beskuldig dat ek ons kind doodgemaak het nie; hy het my deur alles ondersteun. Selfs toe ek ’n paar keer in die hospitaal opgeneem is met posttrauma­tiese stres, was hy daar vir my.”

Bernadette se pa, Francois Sequeira, het besluit om ’n privaat speurder aan te stel om die gebeure te ondersoek.

“Hulle het chemikalie­ë op my kar gespuit om te sien of daar bloed of weefsel was. Hulle kon niks kry nie,” vertel sy.

Die speurder het bloed op ’n plaasimple­ment gevind, en dit het vrae laat ontstaan oor of dit dalk sy bloed was en of hy dalk kort ná Bernadette se vertrek daardeur getref en beseer is. Die bloed is vir DNS-toetse gestuur, maar daar kon nog nie ’n bevinding gemaak word nie.

Nogtans het dit die hoop by Bernadette laat opvlam dat sy dalk nié vir haar kind se dood verantwoor­delik was nie. “Skielik het ek begin dink iets anders het gebeur en dat ek onskuldig was.”

TERWYL sy van haar lang pad en slapelose nagte sedert die ongeluk vertel, hou sy een van AJ se dinosourus­speelgoed vas. “AJ was mal oor dinosourus­se en robotte. Hierdie was sy gunsteling­speelding. Hy was ’n sprankelen­de seuntjie. Nuuskierig. Baie besig, maar nie so besig dat hy stout was nie. Hy het altyd die mooiste maniere gehad en was mal daaroor om buite te speel. Hy was ’n regte plaaskind.”

Koester sy enige kwade gevoelens teenoor die mens wat dalk wél vir sy dood verantwoor­delik was? “Nee, ek beskou dit as ’n fratsongel­uk. As ek hom eendag moet sien, sal ek vir hom sê ek het hom vergewe. As die Here hom kan vergewe, kan ek hom ook vergewe.”

Vir haar kan die rouproses ook nou eindelik werklik begin. “Ek het geweet ek is onskuldig toe die privaat speurder aangestel is, maar die wêreld het steeds gedink ek is skuldig. Nou kan ek met sekerheid sê ek het nie my kind doodgemaak nie. Ek kan behoorlik oor hom treur en afsluiting kry.”

’n Bron na aan die ondersoek het bevestig daar is tans ’n geregtelik­e ondersoek onderweg om te bepaal wie vir AJ se dood verantwoor­delik was.

 ??  ?? Bernadette Small het in 2017 geglo sy het haar seun, AJ, per ongeluk doodgery. Sy is pas onskuldig bevind.
Bernadette Small het in 2017 geglo sy het haar seun, AJ, per ongeluk doodgery. Sy is pas onskuldig bevind.
 ??  ?? Bernadette saam met haar dogter, Jessica, en man, Pieter. Jessica vra steeds waar haar broer is.
Bernadette saam met haar dogter, Jessica, en man, Pieter. Jessica vra steeds waar haar broer is.
 ??  ??
 ??  ?? Foto’s van AJ in die Small-gesin se huis. Bernadette is nog nie gereed om sy kamer op te ruim nie.
Foto’s van AJ in die Small-gesin se huis. Bernadette is nog nie gereed om sy kamer op te ruim nie.
 ??  ?? Die gebroke ma wys die plek uit waar haar beseerde kleuter gevind is. Sy sukkel steeds om AJ se dood te verwerk.
Die gebroke ma wys die plek uit waar haar beseerde kleuter gevind is. Sy sukkel steeds om AJ se dood te verwerk.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa