’N UITTREKSEL UIT ‘VIER SUSTERS’
Die grammofoonplaat het lankal ophou speel, maar draai steeds sissend en effens wiebelend om en om. Beatrice verwag dat ’n stem uit die koperluidspreker sal kom. Boas se stem. Of haar ma s’n. ’n Swaar, slepende stem wat op een of ander manier in die plaat ingegroef is. Of dalk Felix Kögler se geaffekteerde stem wat een van die briewe voorlees wat hy destyds aan haar geskryf het. Jy is my Jane Morris, my Proserpina – die godin van die voorjaar . . .
Hoe is dit moontlik dat sy die verlede in soveel detail kan onthou, maar dat sy nie ’n behoorlike greep op die hede kan kry nie?
Sy is siek van die liefde en sy kan allermins soos die vrou in Hooglied gelawe word deur rosyne en appels. Die briewe wat Felix Kögler aan haar skryf, laat haar snags wakker lê. Sy woorde brand haar deur die papier en is werkliker as sy aanraking. Daar is drif in die krul van sy s en afwagting in die reuk van ink.
Snags droom sy van hom, drome wat geen Christenmens behoort te droom nie. Sy skryf terug, en die woorde vloei uit haar soos bloed.
Een aand skryf sy: Kom haal my. Jou briewe is alles, maar nie genoeg nie.
Naweke word sy Felix Kögler se minnares. Haar ouers verkeer onder die indruk sy kuier by ’n vriendin, of dat sy by ’n korfbalkamp is.
Ook toe sy die daaropvolgende jaar Johannesburg toe gaan om musiek te studeer, kom besoek hy haar waar sy by ’n ouer neef loseer, ’n “verwyfde alleenloper”, soos haar pa na hom verwys, wat Beatrice laat kom en gaan soos sy wil.
By die konservatorium is sy onbewus van manstudente se aandag; haar begeerte is na Felix Kögler alleen, en haar lewe draai net om daardie oomblik wanneer sy grys Steyr by haar neef se huis stilhou. Eers dan kan sy wéés, kry die vaagheid van haar bestaan vastigheid en word sy duidelik omlyn soos ’n foto wat perfek belig word.
Haar studies ly skipbreuk, nie net oor haar verliefdheid nie, maar ook omdat sy oorweldig voel deur die stad, deur die hoeveelheid leerwerk en deur die ander studente wat soveel beter is as sy.
In die kleindorpse kosskool was sy iemand, ’n mooi en talentvolle leerling; nou is sy net een van vele studente. Haar dosente is skepties oor haar klavierspel en een gaan selfs so ver om haar te vra of sy nie eerder die Hawaiiese kitaar wil oorweeg nie.