Huisgenoot

HOEKOM IS HY GOUER GEPOS AS ANDER OMSTREDE POLITICI?

-

Dit lyk dalk of Mkhize gou moes spore maak, maar kenners meen dit is net omdat Suid-Afrikaners al aan die gesloer gewoond geraak het voor daar teen ANC-politici opgetree word wat by korrupsie betrek word.

Die president moes Mkhize eintlik al in Februarie, toe die tenderskan­daal onthul is, uit sy amp verwyder het, glo die politieke ontleder Sethulego Matebesi. Die erns van die bewerings teen die minister en die feit dat daar soveel bewyse was, het dit genoodsaak.

Hy skryf die tyd wat eers verloop het daaraan toe dat politieke oorwegings moontlik groter gewig as etiese oorwegings by Ramaphosa gedra het.

Met die ANC se nasionale verkiesing­skonferens­ie wat volgende jaar gehou word en Ramaphosa wat homself vir ’n tweede termyn verkiesbaa­r wil stel, kan hy nie bekostig om te veel mense in die party te vervreem nie, sê Sethulego.

Hiermee stuur die president “’n uiters problemati­ese sein” uit, sê die politieke ontleder Tessa Dooms – “dat hy sterk politieke oorwegings in die oog moet hou en dat dit ten koste van die land gedoen word”.

Die politieke ontleder Ralph Mathekga wys daarop dat Mkhize nie net ’n lid van die party is nie; hy is ook ’n senior figuur in die regering. “Dit beteken hy is onderhewig aan ’n etiese kode vir die uitvoerend­e gesag, ongeag van wat in die ANC gebeur.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa