Boeke: Gerda Taljaard se vierde roman
Jy moenie Gerda Taljaard se vierde roman misloop nie
VIER SUSTERS
Deur GERDA TALJAARD (Penguin, R314*)
“My ouma Griet was ’n bobaasstorieverteller. Wanneer sy oor haar kindertyd op die plaas Wysfontein vertel het, het ons kinders ons ingeleef in al die gebeure en karakters wat sy met verskillende stemtone en gesigsuitdrukkings opgetower het.” So vertel Gerda Taljaard waar sy kom aan die storie vir Vier susters, haar jongste roman.
“Sy het dikwels oor haar susters vertel, van Kattie en Pieta en Grieta en Anna. Anna was my ouma se Sotho-suster; sy was altyd ten volle deel van die huishouding en van die staaltjies wat my ouma vertel het. Ek dra al jare lank die storie oor vier susters in my rond, maar ek was eers onlangs gereed om dit neer te skryf, dalk omdat baie dinge daaromtrent pynlik is.”
Die plaas Broedersdraai is die gemene deler in Vier susters, wat rondom 1945 afspeel – maar moet geen tradisionele plaasroman verwag nie. Die drama in die lewe van Beatrice, Kietie, Sophié en Ivy bereik ’n hoogtepunt met die aankoms van Domenico Valente, ’n Italiaanse krygsgevangene, op die plaas.
Ek vra Gerda hoe sy dit reggekry het om die vier vroue te teken sodat hulle nie dieselfde lyk en klink nie; of sy hulle vooraf dalk werklik op papier geteken het.
“Ek kan nie teken nie, maar ek is sterk visueel ingestel. En ek hou daarvan om mense dop te hou. Ek is self een van vier susters, en het my nog altyd verwonder aan hoe uiteenlopend ons persoonlikhede is, selfs al is ons bloedsusters. Elkeen van die susters in my boek het baie helder voor my kom staan, elkeen met haar eie geaardheid, giere en geite. Ek het eers elkeen se storie apart vertel, en dit toe afgewissel deur te spoeg en te plak.”
Sy vertel sy moes heelwat navorsing oor die era doen waarin die boek afspeel, en Albert Blake se Wit terroriste en Hermann Giliomee se Die Afrikaners was ’n onuitputlike bron van inligting oor die Ossewabrandwag.
“Die lekkerste navorsing was die deel oor die vroueterroriste wat vir die Stormjaers opgetree het. Hulle het dinamiet aangery, die Rooilissies verlei en met ammunisie gesmokkel. Hulle was onverskrokke, avontuurlustig en militant.”
Een van Gerda se manskarakters is die grillerige dog interessante fotograaf wat Beatrice verlei, en ek vra of hy op ’n ware mens geskoei is.
“Gelukkig nie. Maar sy soort het my pad al ’n keer of wat gekruis: talentvol, narsisties en so sjarmant soos die dood. Maak aanvanklik ’n vreeslike bohaai oor jou, tot jy jou feilbare menslikheid wys, dan word jy soos ’n warm patat laat staan.”
Ek vra haar hoe goed of sleg sy reageer op ’n redakteur wat veranderings aan haar manuskrip voorstel.
“Nie altyd goed nie! Ek raak besitlik oor my darlings en kan nie maklik laat gaan nie, maar as jy ’n uitstekende redakteur soos Marietjie van Rooyen het, is dit makliker.”
In Vrye Weekblad noem die resensent Deborah Steinmair Vier susters “’n sterk feministiese teks, vol bloed, erotiek en ironie”.
Hiermee is Gerda erg in haar skik: “Sterk feministies is dit beslis, al was dit nie noodwendig my bedoeling nie. Ek wou maar net die storie van vier sterk, onafhanklike en soms gevaarlike vroue vertel, wat hulle nie deur die patriargie laat boelie nie.”