Huisgenoot

Liewe Elize

-

Ek het met ’n vrou uitgegaan wat behep is met haar ouers, en ek moes myself afvra wat sou gebeur het as ons sou trou. Ek het toe besluit om eerder die verhouding te beëindig. ’n Ruk lank het ons geen kontak gehad nie. Al kon ek weens covid-19 nie met ’n ander verhouding begin nie, kon ek baie ander dinge regkry. Nou wil sy weer deel van my lewe wees, maar in die twee of drie afsprake kon ek sien die ou probleme van familie wat inmeng, het nie verdwyn nie. Ek en sy het ’n humorsin gedeel en dit trek my steeds na haar toe aan, maar dis seker nie genoeg nie. G op B

Romantiese verhouding­s kan deur ’n te hegte band tussen volwasse kinders en hul ouers beïnvloed word. Soms spruit sulke oorafhankl­ikheid bloot uit onvolwasse­nheid, en met leiding kan ’n maat groei en selfstandi­g word.

Hoe weet jy of die beheptheid gaan voortduur? As jou antwoord op die volgende vrae meestal ‘ja’ is, sal alles vir haar steeds om haar ouers draai:

■ Laat die kontak wat sy voortduren­d met haar familie het, jou bydrae tot haar lewe onbelangri­k voel?

■ Verwag sy dat haar ouers in haar emosionele behoeftes moet vervul?

■ Voel sy gedurig skuldig dat sy te min tyd saam met haar ouers deurbring?

■ Ken sy heeltyd haar ouers in haar besluite?

Talle van hierdie ouerbehept­es is so blind hiervoor dat ’n mens selde met hulle oor ’n gesonde verhouding kan onderhande­l.

As jy wel met die verhouding wil voortgaan in die hoop dat groter volwassenh­eid by haar mettertyd ’n verskil sal maak, moet jy dit ruim tyd gee voor julle verloof raak of trou.

Intussen kan jy jou eie lewe makliker maak deur nie kritiek op haar ouers te lewer nie en daarop te fokus om julle twee as ’n paartjie hegter saam te snoer. As julle haar ouers besoek, sorg dat julle ook by joune uitkom.

As jy ’n besluit oor die toekoms neem, vra jouself: Kan sy jou, haar eie of jul belange as ’n paartjie bo haar ouers se gerief stel? Moenie in ’n verhouding bly wat nie die beste in jou na vore bring nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa