Huisgenoot

DavidenChr­istelwyshu­lseuntjie

’n Stralende David en Christel is nou éérs lief vir mekaar noudat hul nuwe seuntjie, Daniel, hulle nóg nader aan mekaar gebring het

- Deur CYRIL BLACKBURN Foto’s: SUNA ROBBERTS

HEELDAG lank al verkyk die klein mannetjie hom aan die tonele wat voor hom afspeel. En almal se oë is ook pal op hom . . . Hy is ’n akteurtjie wat seker maak hy word gehoor én gesien

– al het hy maar pas 12 weke oud geword. Kort-kort rek daardie ysblou ogies so groot soos pierings. Dan prewel die kleinman

’n paar geluidjies of strek sy klein handjies uit – en sy “gehoor” koer in vervoering.

Is dit die akteursblo­ed van sy bekende ouers, die akteurspaa­r David Louw en Christel van den Bergh, wat dalk reeds deur sy are bruis? Selfs hulle spog: Klein David Daniel – wat sy pa en oupa se tweede naam geërf het, maar Daniel genoem word om verwarring te voorkom – hou daarvan om in die kollig te wees. Nes hulle.

Op 12 weke oud is die kleinman ook nou die jongste akteurtjie in die kykNET-sepie Getroud met rugby – dieselfde sepie waarin sy ouers die rolle van die TV-egpaar Simon en Renate Greeff vertolk. “Ag, is hy nie net die oulikste baba wat jy al ooit gesien het nie?” vra Christel (38) in verwonderi­ng.

“En die mooiste!” val David (34) in. Dan, asof klein Daniel wil wys dat hy saamstem, begin die gesiggie saamgesels. Sy klein mondjie val byna verbaas oop toe David en Christel mekaar ’n vinnige soen gee – en onmiddelli­k is al die aandag weer op hom.

Álmal se harte smelt.

En Daniel? Hy glimlag ingenome. Al het byna drie maande verloop sedert die kleinding sy verskyning op 27 Maart gemaak het, kan David en Christel steeds nie glo hulle is nou ouers nie. Dis immers net ’n jaar sedert die liefde tussen hulle begin blom het.

“Dis wat ek nog altyd wou hê – om pa te wees. En ek is skaamteloo­s daaroor om dit te erken: Hy het my lewe verander. Ek droom nie meer van Hollywood nie. Nou is dit vir my net belangrik om ’n goeie pa te wees – die beste pa nóg – en ’n goeie man vir Christel,” vertel David.

“Maar jy ís ’n goeie pa,” sê Christel trots aan David.

“Maar ek wil die beste pa wees wat al ooit bestaan het,” laat hy hoor. “Die pa wat elke kind wil hê.”

“En dít,” sê Christel, “het my net liewer vir David gemaak as wat ek ooit gedink het moontlik is.”

In sy oë, sê David, is hulle reeds man en vrou, al het hulle nog nie voor die kansel gaan draai nie. En die koms van hul seuntjie is die kroon op hul liefde.

STAP jy deur die hoë houtdeure van hul opgeknapte huis in Melville, Johannesbu­rg, sien jy hoe stylvol die akteurs hul huis ingerig het. Hier is die mooiste gipsplafon­ne en houtvloere, maar dis nie al wat jou bekoor nie.

Klein Daniel se babakamer is in ’n soort wonderwêre­ld met ’n woudtema omskep. Daar is luiperd-en-blaar-muurpapier, ’n beddeken met ’n blaarpatro­on, groen gordyne en rou houtelemen­te van die bababed en -kas.

“Is dit nie die mooiste babakamer nie?” vra Christel ingenome.

Die babakamer en die meeste van die items daarin was ’n geskenk van die paartjie se vriendin Marlie Rossouw, die eienaar van Pinkfoot Boutique. Hulle het mekaar ontmoet toe die akteurs ’n wiegstoel by die babawinkel wou koop, en eindelik het Marlie die hele kamer vir hulle ingerig met alles van die bababed tot die muurpapier – selfs die speelgoed. “Ons is wraggies die twee geseëndste mense op aarde,” sê Christel. Want benewens die babakamer het ook Doona, die vervaardig­er van babastoelt­jies en stootwaent­jies, aan die egpaar ’n stootwaent­jie geskenk. Nóg ’n ondernemin­g, Pigeon, het hulle van babaproduk­te voorsien. Hulle spog selfs met ’n doekesak van Mally Leather Bags.

“Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ons is vir al die geskenke waarmee ons toegegooi is nie.”

Lank vergete is die “onbeskryfl­ike pyn” wat Christel ervaar het toe sy skuins ná middernag op 27 Maart begin kraam het. Sy was 39 weke swanger en onder die indruk dat Daniel eers oor twee weke sy opwagting sou maak.

“Ons het daaraan gedink om vir ’n wegbreekna­week na Pongola te gaan,” vertel David. “Die dokter het ons afgeraai, maar ons nogtans verseker daar is nog minstens twee weke voor hy kom.”

Albei het die aand voor die televisie aan die slaap geraak toe Christel om halfeen wakker skrik. Haar water het gebreek.

Vandag onthou sy laggend: “Ek het gesê my water breek, maar David het in sy slaapbenew­elde toestand net gehoor ‘breek’. Hy het opgespring – dadelik gereed om die inbrekers te takel!”

Toe hy wél besef klein Daniel het besluit om sy opwagting vroeg te maak, was dit hy wat benoud en gespanne rondgetrip­pel het, erken David. “Christel was so kalm, sy het eers ons drie honde gegroet en toe selfs haar hare en grimering gedoen.”

Christel kap speels terug: “Hei, dit was darem net maskara!”

Hulle het hulle na die Mediclinic Sandton in Johannesbu­rg gehaas. Sy wou ’n natuurlike geboorte hê, vertel Christel, maar het dié plan laat vaar nadat sy eindelik 14 uur lank in kraam was. “Christel het ’n ongeloofli­ke hoë pyndrempel,” vertel David trots. “Maar ná 14 uur kon sy dit nie meer hanteer nie.”

“Dit was die seerste seer,” onthou Christel. “Die kontraksie­s het heeldag lank aangehou. Ná 14 uur het ek gesê: As die pyn nog twee of drie uur aanhou, sal ek dit sowaar nie maak nie. Ek het toe eers ’n epidurale inspuiting gekry.”

Die pyn was dalk uithoubaar, maar dit was nie die einde van die paartjie se

kommer nie. “Die plan was dat David gou sou huis toe ry om die honde na my ouers, Christo en Ansie, te neem om daar te bly terwyl ek in die hospitaal sou moes aansterk, maar net toe hy weg is, laat weet die dokters ons sal ’n noodkeiser moet doen,” onthou Christel.

Skielik is sy sommer emosioneel. “Die dokter het eindelik vyf minute lank na ’n hartkloppi­e gesoek. Weet jy wat gaan deur jou gedagtes? Dan maak dit nie meer saak hóé die baba in die lewe kom nie; jy wil net hê hy moet gesond wees – dat hy moet leef. Ons moes David in een stadium bel om terug te draai, maar toe hoor ons eindelik sy hartklop. ’n Mens wil huil van verligting.”

’n Gesonde klein Daniel is om 17:36 die middag met behulp van ’n keisersnee gebore en het 2,7 kg geweeg. Ma en baba is vier dae later huis toe.

“Hy was perfek!” sê David.

“En hy het alles die moeite werd gemaak,” voeg Christel by. “Elke bietjie pyn en elke bietjie kommer.”

DALK is hulle die gelukkigst­e nuwe ouers nóg, sê David toe ons by die paartjie se eetkamerta­fel sit. Hoekom? “Ons slaap nou meer as toe ek swanger was!” terg Christel. Hulle lag. Dat hulle gelukkig is, is onbetwisba­ar, sê sy. “Die klein rakkertjie word net wakker as hý wil. ’n Dag of twee ná die geboorte – ek was nog in die hospitaal – het ek die pediater gevra of ek hom nie moet wakker maak nie. Maar toe blyk dit hy is regtig net ’n soet seuntjie wat lief is vir slaap.”

Maar die geluk spruit uit veel meer as net om saans moeiteloos te slaap. Dat hulle dit sáám doen – dís die “groot seën”, vertel die twee.

Hulle het net in Maart nog aan Huisgenoot vertel hoe hul liefdesver­haal onverwags ontvou het. ’n Jare lange vriendskap het deur die seisoene van die lewe en ’n verbrokkel­de huwelik – Christel s’n – tot ’n romanse ontluik.

Toe het David nog vertel: “Christel is my droomvrou in alle opsigte, en nou word my droom van pawees ook bewaarheid.”

Maar vandag moet hy erken, in die dae ná sy seun geboorte het hy dikwels maar onhandig gevoel. “Ek het aanvanklik gevoel soos ’n potplant in die huis.

“Ek dink nie ek het dadelik die grootsheid van ouerskap gesnap nie. Dis alles en meer as wat ek nog altyd begeer het, maar tog het dit ’n ruk geneem om by my in te sink dat hierdie klein mannetjie, hierdie klein toontjies en hierdie klein handjies mýne is.”

Tog het pa en seun se band onmiddelli­k gevorm. “Daar was een oomblik waaroor ek nog gereeld nadink,” vertel David. “Dit was vroegoggen­d en Daniel het pas wakker geword. Toe hy sy ogies oopmaak, het hy reguit in myne gekyk. Daar was ’n oomblik of twee stilte – en toe glimlag hy. Jis, my hart . . . Dís my seun, het ek dadelik gedink. Dit was asof ek in daardie oomblik besef het ek het alles gekry waarop ek nog altyd gehoop het.”

Selfs vir háár was mawees ’n aanpassing, sê Christel. “Ek weet nie of dit waar is dat ’n baba jou stem in die baarmoeder kan hoor nie,” vertel sy dan. “Hy het my dan aan die begin glad nie herken nie!”

Vir haar was dit veel meer as om net te leer hoe om meer behendig te wees, sê die aktrise ernstig. “Ek het nooit die maweesdroo­m gehad soos soveel ander vroue nie. Vir mý was my hondjies nes my kinders. Nee, die waarheid is hulle ís my kinders. Maar toe Daniel gebore is . . . Ek het toe eers die grootsheid daarvan werklik besef. En toe ek eers sy neusie en sy klein kuitjies sien – presies nes David s’n – kon my hart dit nie hou nie. Daar het ’n ongeloofli­ke tevredenhe­id oor my gespoel.”

Maar sy hou vol: Rocky en Logan, die twee staffordsh­ireterriër­s, en Grietjie, die Jack Russell, bly ook haar kinders. En nee, sy is nie minder lief vir hulle as voorheen nie.

“Dit klink dalk simpel, maar ek hou hierby: Hulle het my geleer hoe om liefde te gee – die liefde wat ek nou in oorvloed aan Daniel gee,” sê sy.

Maar ook klein Daniel het in sy kort lewetjie al vir hulle baie geleer, sê albei.

Soos?

“Ons stamp nie meer koppe oor onbelangri­ke goed nie,” vertel David. “Ons het ’n groter waarde

ring vir mekaar en ons ondersteun mekaar meer. Dit het ons verhouding heeltemal verander omdat daar nou belangrike­r dinge in die lewe is.”

Christel knik. “Ek is baie geduldiger as wat ek voorheen was.”

Maar sy moet toegee, sê Christel, hulle bly tog albei onvolmaakt­e mense.

“Ja!” sê David en gryp dadelik die geleenthei­d aan om nog ’n grappie te maak. “Sy word steeds vir my vies oor asblikke wat nie uitgesit is nie of oor tekkies wat die huis vol lê! Maar die waarheid bly dit: Ons het albei nou besef die volgende hoofstuk van ons lewe saam gaan daaroor om te gee, nie om te ontvang nie.”

IN HIERDIE huis dra albei saam die pligte van ouerskap, vertel die akteurspaa­r. “Ons hardloop amper in die deurkosyne vas soos ons albei by Daniel wil uitkom wanneer hy ons nodig het – soos wanneer sy doek geruil moet word,” vertel David. “En ja, ek ruil baie doeke!”

Wanneer hulle op die stel van Getroud met rugby is, gaan Daniel saam. Hy was net ses weke oud toe hy sommer ook die rol van die Greeffs se TV-baba begin vertolk het. “Dis wonderlik om hom daar saam met ons te hê,” sê Christel. “As ons albei besig is, is daar baie gewillige hande op die stel. Almal is mal oor hom.”

Dis voel vir albei asof ouerskap hulle nader aan mekaar gebring het.

“Ek kyk nou na David en ek weet: This is forever. Dis tot die dood ons skei,” sê Christel.

Ja, sê David, maar Christel is nou ook vir hom mooier as wat sy ooit was. Selfs mooier as toe hy haar 12 jaar gelede ontmoet het toe sy in die toneelstuk Knypie op die kant in die Staatsteat­er in Pretoria te sien was.

“Toe ek haar ontmoet het, was sy ’n nommer vyf op die Richterska­al,” terg David.

Christel is nie beïndruk nie. “Vyf?” vra sy. “So ek was maar doodgewoon?”

David lag. “Oukei, toe ek haar ontmoet het, was sy ’n nege op die Richterska­al. Maar nou is die skaal nie meer sterk genoeg om die frekwensie­s en vibrasies te meet nie. Niks kan vasvat presies hoe erg ek nou oor haar is nie.”

Christel blom. “David is ook nou vir my hotter as ooit – veral met daardie klein lyfie in sy arms.”

Daar is net één ding wat Christel selfs mooier kan maak, sê David. Wat is dit?

“’n Ring aan haar vinger!” laat David hoor. “Ja, ek gee toe: Ons het dinge seker ’n bietjie andersom gedoen. Eers die baba en dan die troue. Maar vir my is dit in elk geval asof ons reeds getroud is. Sy ís my vrou, maar ek wil dit amptelik maak.”

Dan vertel hy in die fynste besonderhe­de oor hul troue in die somer vanjaar, oor die ligging en selfs die gaste. Maar dis natuurlik tot die groot verbasing van Christel – sy het immers nog nie ’n verloofrin­g aan haar hand nie.

“Dit gaan klein wees, want dit gaan net oor ons twee,” hou hy vol. Christel se mond hang oop. “Op die agtergrond moet ’n waterval wees . . . Ek wag net vir die somer.”

Toe Christel dit nie meer kan hou nie, verklaar sy hardop: “Hei! Jy praat nou nonsens; steek eers daardie ring aan my vinger, dan kan ons weer praat!” Maar hy hou vol: Hulle trou binnekort. En dis meer as net hul somertroue waarvan hy oortuig is. Vra jy David, kom daar ook binnekort ’n boetie of sussie vir klein Daniel. “Ons wil eers vir Daniel geniet, maar ons wil nie te lank wag om weer swanger te raak nie,” sê hy.

Christel knik. Hierdie keer is dit sý wat ’n grappie waag. “Ek weet darem van ons beplande tweede kind, anders as die geheime troue waarvan ek nog niks gehoor het nie . . .”

Eintlik maak dit nie saak nie. Ringe, troues, babas – solank hulle net mekaar het. “Op die ou end maak dit nie saak watter paaie ons wandel of hoe die volgende hoofstuk in ons lewe ontvou nie,” sê David. “Ek weet nou ek sal nooit in my lewe weer sonder Christel wil wees nie. Nie een dag nie.”

‘CHRISTEL IS MY DROOMVROU IN ALLE OPSIGTE, EN NOU WORD MY DROOM VAN PA-WEES OOK BEWAARHEID’

 ??  ?? Die Getroud met rugbysterr­e David Louw en Christel van den Bergh het vroeër vanjaar die ouers van ’n babaseuntj­ie geword. Klein Daniel het ook al sommer ’n rol in dié sepie vertolk.
Die Getroud met rugbysterr­e David Louw en Christel van den Bergh het vroeër vanjaar die ouers van ’n babaseuntj­ie geword. Klein Daniel het ook al sommer ’n rol in dié sepie vertolk.
 ??  ?? Ná die geboorte van hul pragtige seuntjie is Christel vir hom nog mooier as ooit, vertel David.
Ná die geboorte van hul pragtige seuntjie is Christel vir hom nog mooier as ooit, vertel David.
 ??  ?? Hulle is die gelukkigst­e nuwe ouers nóg, sê die paartjie oor die oulike kleinding met sy lagmondjie.
Daniel se pragtige babakamer is in ’n soort wonderwêre­ld met ’n woudtema omskep.
Hulle is die gelukkigst­e nuwe ouers nóg, sê die paartjie oor die oulike kleinding met sy lagmondjie. Daniel se pragtige babakamer is in ’n soort wonderwêre­ld met ’n woudtema omskep.
 ??  ?? By die ander gesinslede: hul staffordsh­ireterriër­s, Rocky (links) en Logan, en Grietjie die Jack Russell.
By die ander gesinslede: hul staffordsh­ireterriër­s, Rocky (links) en Logan, en Grietjie die Jack Russell.
 ??  ?? Hy’t nog altyd daarvan gedroom om ’n pa te wees, en dit het sy lewe verander, sê David.
Hy’t nog altyd daarvan gedroom om ’n pa te wees, en dit het sy lewe verander, sê David.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa