Huisgenoot

Seuntjie tuis ná drie jaar in hospitaal

Weens ’n ongeneesli­ke siekte moes klein Travonne al meer as die helfte van sy lewe in die hospitaal deurbring, maar nou is hy eindelik tuis

-

MET die eerste oogopslag lyk dit soos enige ander seuntjie se kamer. Die boekrak is toegepak met superhelde, Kinderbybe­ls en karretjies. Die blou beddegoed is oortrek met prentjies van strokieska­rakters. Die Springbokr­ugbykussin­gs op sy bed verklap sy groot liefde vir die Bokkaptein, Siya Kolisi, en sy spanmaat Cheslyn Kolbe.

Maar kyk jy weer, is dit die groot suurstofte­nk en hospitaals­taander met ’n drup en masker in die hoek van die kamer wat die harde werklikhei­d onthul van die seun wat hier woon.

Travonne Rhoda (6) was maar drie jaar oud toe die seldsame siekte bronchioli­tis obliterans, ook bekend as “springmiel­ielong”, by hom gediagnose­er is. Die afgelope drie jaar was die Melomed Bellville-hospitaal in Kaapstad sy huis – dis hier waar hy die grootste deel van die helfte van sy lewe deurgebrin­g het.

Hy het nog elkeen van die verjaardae in sy kort lewe in die hospitaal gevier, die eerste paar tree van sy skoolloopb­aan daar gegee en die meeste Kersfeeste daar deurgebrin­g.

Maar op 26 Mei vanjaar is die klein mannetjie met die reuseperso­onlikheid ontslaan en kon hy die eerste keer in drie jaar in die holte van sy ma se arm in haar bed aan die slaap raak. “Dit is net amazing om hom by die huis te hê,” sê sy ma, Simoné Rhoda. “Die eerste aand het hy vroeg aan die slaap geraak en toe twaalfuur wakker geword. Hy het die hele nag gesels, want hy wou net by ons wees.”

Bronchioli­tis obliterans is ’n seldsame ongeneesli­ke toestand wat oor die jare erger raak. Die kleinste lugweë in die longe (bronchiool) word deur inflammasi­e beskadig. Dit is die eerste keer by werkers van ’n springmiel­iefabriek opgemerk nadat hulle die chemikalie­ë ingeasem het wat gebruik word om geur aan springmiel­ies te verleen.

Nie net kan Travonne en sy ouers nou buite die hospitaal se vier mure saam kuier nie; hulle kan ook vanjaar op 21 Julie die eerste keer sy verjaardag by

die huis vier. En die tema?

“Go, go, Power Rangers,” sing Travonne. Simoné (38), wat in Foschini se finansiële afdeling werk, en Travonne se pa, Clement Christoffe­ls (40), ’n verkoopsbe­stuurder by ’n maatskappy wat kos vervaardig, het ’n lang pad tot hier gestap. En al is hulle verheug oor hul seuntjie wat eindelik by die huis is, weet hulle nie wat die toekoms inhou nie.

“Die dokter het ’n ruk lank vermoed hy het bronchioli­tis obliterans, maar was nie seker nie. ’n Mens gaan lees mos op en jy google en jy sien dit is ’n ongeneesli­ke siekte.”

Simoné se oë skiet vol trane terwyl sy gesels, maar sy bly moedig.

“Mense met die siekte leef nie lank nie. Twee jaar. Die dokter sê ek moenie google nie,” herinner sy haarself. “Ons wag vir die Man van Bo en Hy sal besluit wanneer dit tyd is.

“Ons grootste hoop vir hom is om ’n normale lewe te hê, te kan trou en kinders te hê. Ek dink dit is elke ouer se hoop. Maar vir eers leef ons in die oomblik.”

SEDERT die seuntjie met die spontane glimlag en die diep kuiltjies op ses maande die eerste keer siek geword het, is hy permanent op suurstof. Tog lyk dit asof hy hom nie laat onderkry nie. Die ellelange pypie wat aan die masjien gekoppel is, moet maar net agternakom wanneer hy in die huis rondskarre­l.

Hy verdwyn na sy kamer en kom met ’n speelgoedk­arretjie te voorskyn. “Jy moet hom stoot,” vertel hy.

Ná die demonstras­ie gaan sit hy moegerig op die bank om energie bymekaar te skraap. Maar eers druk hy sy kop liefdevol by Clement se nek in.

Hy het net sowat 30% longkapasi­teit. “Hy kan nie soos ander kinders speel nie,” vertel Simoné. “Toe hy jonger was en by die huis gebly het, het hy soms ’n bal deur die hek se tralies gegooi sodat die kinders in die straat dit moes optel en vir hom bring. Net om te gesels. Of hy sou vir die mense skree en vra wat hul naam is.”

Klein Travonne is 10 jaar ná sy ouboet, Terriano (17), gebore.

“Travonne was ’n gesonde klein seuntjie,” sê Simoné. “Ons het een middag besluit om as ’n gesin te gaan stap om oefening te kry, en toe begin hy so hoes.”

Hulle het hom hospitaal toe geneem en daar is dubbele longontste­king by hom gediagnose­er. Hy is dadelik op suurstof gesit. Ná die longontste­king het sy immuunstel­sel baie swaargekry en hy het verskeie virusse opgedoen.

“Hy het agter in die hospitaals­aal naby die badkamer gelê, en omdat hy so ’n spontane persoonlik­heid het, het hy altyd die ander ouers geroep as hulle daar verbykom. Hy wou altyd aan hulle vat en gesels; ons dink dit is hoe hy van die virusse opgetel het.”

Tussen 2014 en 2017 was hy in en uit die hospitaal. Eers in 2017 kon hulle regtig begryp wat aangaan toe sy dokter die diagnose gemaak het.

Die nagte in die hospitaal was lank. Soms het Simoné daar geslaap en soms het hulle mekaar afgelos sodat hulle ook steeds na Terriano kan omsien.

“’n Mens moet sterk bly vir jou kind,” sê Simoné. “Jy kan in die badkamer gaan breek, maar as jy voor hom breek, gaan hy ook swak raak. As ek sterk is, gaan hy sterk wees en wil baklei.”

Clement kyk stil na sy vrou. “Dit is maar deel daarvan om ’n ouer te wees,” beaam hy.

Sedert Travonne in Junie 2018 weer opgeneem is, het hy drie jaar lank in die hospitaal gebly. In dié drie jaar het hy die hospitaalp­ersoneel se harte gesteel, vertel Simoné.

“Hy ken die laaste een in daai hospitaal,” beaam Clement.

“Hy ken hul kinders, hy ken hul mans, hy ken elkeen wat op ’n skof was,” las Simoné by. Dit is hoekom mense so lief raak vir hom, oor sy persoonlik­heid.

“As hy nie van die kos gehou het nie, dan vra hy hulle om hom deur te sit na Antie Annie, die opsigter in die kombuis. Dan sê hy vir haar: ‘Your chefs is not making nice food. Kan ek asseblief iets anders kry?’ Dan maak hulle vir hom iets anders daar.”

Die lewe het die klein seuntjie vroeg in sy lewe al ’n paar harde houe gegee, maar van opgee is daar geen sprake nie.

“Hy is my angel fighter,” sê Simoné. “Ek dink nie ek sou oorleef het as ek gehad het wat hy het nie. Hy wys elke dag vir ons om nie tou op te gooi nie en elke dag te leef asof dit jou laaste is.”

‘HY KEN DIE LAASTE EEN IN DAAI HOSPITAAL – HY KEN HUL KINDERS, HY KEN HUL MANS’

 ?? Deur MARELIZE GRBICH Foto’s: CORRIE HANSEN ?? Travonne in sy slaapkamer met die nodige mediese toerusting.
HOOFFOTO: Clement Christoffe­ls en Simoné Rhoda saam met hul seuntjie Travonne wat ná amper drie jaar in die hospitaal eindelik tuis is. REGS: Musiek is vir hom soos terapie – hy is mal oor Early B en Emo Adams.
Deur MARELIZE GRBICH Foto’s: CORRIE HANSEN Travonne in sy slaapkamer met die nodige mediese toerusting. HOOFFOTO: Clement Christoffe­ls en Simoné Rhoda saam met hul seuntjie Travonne wat ná amper drie jaar in die hospitaal eindelik tuis is. REGS: Musiek is vir hom soos terapie – hy is mal oor Early B en Emo Adams.
 ??  ?? BO: Simoné en Clement het hul dae in die hospitaal deurgebrin­g om by hul seun te wees. LINKS: Toe hy op lewensonde­rsteunende masjiene was.
BO: Simoné en Clement het hul dae in die hospitaal deurgebrin­g om by hul seun te wees. LINKS: Toe hy op lewensonde­rsteunende masjiene was.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa