Huisgenoot

Kristen Raath draai by die dood om

Kristen moes nes haar karakter in 7de Laan ’n swaar pad stap – in haar geval weens ’n raaiselagt­ige siekte

- Deur JACO HOUGH-COETZEE Foto’s: ONKGOPOTSE KOLOTI

NES haar karakter uit 7de Laan verdwyn het toe sy ná haar egskeiding werk gaan soek het as ’n sjef in Europa, het die aktrise Kristen Raath in 2018 van ons TV-skerms verdwyn. Toe sy die sepie aan die einde van daardie jaar vaarwel toegeroep het, het sy groot planne gehad om meer te fokus op haar sangloopba­an, modelwerk en studie in rekenaarwe­tenskap aan Unisa. Maar ’n paar maande later het die veelsydige aktrise uit die openbare oog en selfs die sosiale media verdwyn.

“Ja, ek was stil, want net soos Amorey het ek toe net nie die emosionele kapasiteit gehad om te praat nie,” sê Kristen oor haar karakter wat tot haar skok ontdek het haar man, Willem Spies (gespeel deur Markus Haywood), het haar verkul.

“En net soos my karakter moes ek eers die tyd gebruik om deur my eie vrese, emosies en tekortkomi­ngs te werk,” voeg sy by. Want sedertdien moes Kristen self ’n seer, moeilike pad stap, en vreesaanja­ende uitdagings trotseer.

Kristen is nou terug voor die TV-kameras as Amorey, wat 7de Laan-kykers op 14 Junie verras het toe sy uit die bloute na die Laan teruggekee­r het.

Dit is interessan­t hoe ’n akteur se eie lewensverh­aal soms ooreenkoms­te toon met dié van die karakter wat hy of sy speel, vertel sy nou. Want soos die lewe Amorey onverwags in ’n ander rigting gestuur het, was daar ook op Kristen se pad ’n onverwagte wending en moes sy alles in heroënskou neem nadat ’n raaiselagt­ige siekte haar skielik platgetrek het.

Vandag praat die pragtige aktrise die eerste keer haar hart uit oor die vreemde ervaring toe sy met die dood geworstel het – en oorleef het om na die lewe en haar geliefdes terug te keer.

SY WAS gesond, aktief, gelukkig en hard besig om al haar drome waar te maak toe ’n terugslag haar in September 2019 tref, vertel Kristen by ’n restaurant naby haar huis in Fourways, Johannesbu­rg. Dit het begin met ’n onverklaar­bare moegheid wat haar oorval het en kwaai hoofpyne wat net nie wou weggaan nie. Twee weke later het sy tydens ’n sangoptred­e by ’n winkelsent­rum in Johannesbu­rg ’n hoë koors ontwikkel. Sy is na ’n dokter toe wat vir haar antibiotik­a voorgeskry­f het, maar haar toestand het

so vinnig verswak dat sy twee dae later in ’n hospitaal in Sandton opgeneem is. Toe haar pa, Hannes, ’n bedryfsgen­eesheer in Mbombela, daarvan hoor, was hy so bekommerd dat hy vir haar ma, Des, gesê het: “Klim in die kar en gaan hospitaal toe. Ek kom vanaand.”

Intussen het ’n hele span dokters onder wie ’n internis, gastroënte­roloog, chirurg en ’n dermatoloo­g kopgekrap oor haar toestand.

“Kyk, ek het soos ’n alien gelyk,” sê Kristen en wys foto’s op haar selfoon van hoe erg haar toestand was. “Ek het ’n rooi, jeukerige uitslag oor my hele lyf gehad. My buik en later my hele lyf het opgeswel. Ek het ’n gevaarlik hoë koors gehad asook ’n abnormale lewerfunks­ie, ’n verhoogde witbloedte­lling, klierswell­ing en ’n verdikte galblaas. Ek was vodde.”

Die een ná die ander toets en sonar het niks opgelewer nie. “Hulle het my vir als getoets: geelsug, masels, malaria, bosluiskoo­rs, lewerkanke­r, noem maar op,” vertel sy. Die medici was steeds in die duister, en Kristen het ál sieker geword. Die dokters wou ’n noodoperas­ie uitvoer om haar verdikte galblaas te verwyder, maar moes dit kanselleer omdat haar liggaam te swak was. In daardie stadium het haar pa gedink sy gaan sterf, het hy later vir haar vertel, “want daar was nie meer plek in jou lyf oor om nog meer agteruit te gaan nie”.

Sy het haar pa nog nooit so baie sien huil nie, sê Kristen. “Hy was moedeloos. Hy is ’n dokter en hy weet nie wat ek makeer nie. Hy kon sien hoe ek besig was om dood te gaan.”

Toe, een aand in haar hospitaalb­ed, praat sy met God soos wat sy dikwels doen. “Skielik kon ek aanvoel hoe die hele kamer met ’n Goddelike teenwoordi­gheid en energie gevul word. In my kop kon ek God hoor wat my vra: ‘Wil jy leef of wil jy huis toe kom?’ Toe dink ek ek kan mos nie my ouers hier los nie. Hulle sal dit nooit kan hanteer nie. En toe is die Goddelikhe­id weg, maar net so vinnig is daar ’n bose, donker energie in die kamer wat net meer en meer intens raak. Ek het begin panic.” Kristen onthou hoe sy op daardie energie geskree het: “Dit is on; ek sal julle fight!”

“En toe is die Goddelikhe­id terug, in sy volle glorie,” vertel sy. “Toe weet ek alles gaan oukei wees.” Net so onverklaar­baar soos wat sy siek geword het, so onverklaar­baar het haar simptome daarna begin verbeter, vertel sy. Agt dae nadat sy in die hospitaal opgeneem is, het haar pa versoek dat sy ontslaan word.

’n Maand later, teen die einde van Oktober, was al haar orgaanfunk­sies normaal.

Kristen se pa het haar mediese toestand, asook al die toetse wat in die hospitaal op haar gedoen is, noukeurig gedokument­eer en Huisgenoot het dit onder oë gehad. Hy sluit dit af met die woorde dat hy soos die mediese span wat haar behandel het “steeds heeltemal onbekend met die oorsaak” van haar siekte is.

Die ondervindi­ng het haar sterker en emosioneel meer volwasse gemaak, sê Kristen. “Dit het my laat groei. Daar was baie vrese in my. Ek was bang vir die dood en vir die idee van mislukking. Dit kan ek nou alles hanteer. My siekte was ’n omdraaipun­t.”

Tog erken sy toe die coronaviru­skrisis verlede jaar uitbreek, was sy bekommerd. “Maar nie bang nie,” voeg sy by. “Dit was eerder ’n gevoel van onsekerhei­d omdat ek nie geweet het hoe my liggaam sou reageer as ek dit sou kry nie.”

Verlede jaar tydens die inperking het sy haar graadkursu­s in rekenaarwe­tenskap aan Unisa voltooi. Maar dit was ook ’n tyd van selfonders­oek en groei wat vir haar nuwe insig gebring het. Sy het besef van al haar passies – sang, dans, drama, modelwerk, inligtings­tegnologie – is toneelspel die grootste. Sy wil weer ’n aktrise wees.

TOE die vervaardig­ers van 7de Laan haar ses maande gelede vra of sy beskikbaar is om die rol van Amorey te hervat, het Kristen nie op haar laat wag nie. Haar karakter keer onverwags terug om haar suster, Alexa Welman (gespeel deur Carina Nel), as strooimeis­ie met haar troue by te staan. Met haar terugkeer uit Europa was Amorey opgewonde om weer haar familie en vriende te sien – ’n emosie wat Kristen met haar karakter gedeel het. Op die eerste dag terug op die stel het dit vir Kristen gevoel of sy terug is by haar “familie”. “En nes Amorey sterker teruggekom het, het ek ook,” sê sy. Want die besef wat verlede Desember een aand op ’n strand naby Ballito aan die noordkus van KwaZulu-Natal tot haar deurgedrin­g het, bly haar by. Sy het sit en dink aan die dinge wat die afgelope twee jaar op haar lewenspad gekom het en die lesse wat sy geleer het. Dis toe dat sy besef sy het haar vrees vir die dood te bowe gekom. En waarom sal sy dan nog vir enigiets anders bang wees.

‘HY KON SIEN HOE EK BESIG WAS OM DOOD TE GAAN’

 ??  ?? Die
7de Laan-aktrise Kristen Raath gesels die eerste keer openlik oor die onbekende siekte wat haar by die dood laat omdraai het.
Die 7de Laan-aktrise Kristen Raath gesels die eerste keer openlik oor die onbekende siekte wat haar by die dood laat omdraai het.
 ?? VERSKAF ?? LINKS en REGS: Tydens haar siektetoes­tand was Kristen se hele lyf opgeswel en met ’n veluitslag oortrek.
VERSKAF LINKS en REGS: Tydens haar siektetoes­tand was Kristen se hele lyf opgeswel en met ’n veluitslag oortrek.
 ??  ?? In 2018 was sy saam met haar ma, Des, en pa, Hannes, in München, Duitsland.
In 2018 was sy saam met haar ma, Des, en pa, Hannes, in München, Duitsland.
 ??  ?? Kristen is nou terug in 7de Laan as die karakter Amorey Welman.
Kristen is nou terug in 7de Laan as die karakter Amorey Welman.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa